I Wish I’d Said … Vol. 5: A product of the AVBOB Poetry Project (Johann de Lange / Nxalati Golele, editors) Naledi, 2022
Resensent: Marius Crous
In die voorwoord van I Wish I’d Said… Vol. 5 merk Johann de Lange, een van die redakteurs van hierdie bundel, op:
Poetry not only bears witness to our lives and losses, but it helps us to navigate these big transitions, to capture and name loss and change, to provide solace.
Toevallig het ek hierdie versameling gelees kort na my pa se dood in Desember en opnuut besef hoe gefassineer ons bly met die dood; hoe ons dit probeer begryp en verwerk en veral hoe ons die woede oor die heengaan van iemand verwoord. Hier en daar kon ek selfs ’n trooswoord of twee raaklees.
Wat die gedigte in hierdie versameling betref, handel hulle oor verskeie aspekte wat met die doodsdiskoers verband hou. So word die afgestorwene ook blameer vir die ellende wat hy of sy agterlaat. Vir Mothupi was die afgestorwene ’n grot waarin geskuil kan word, maar nou na sy dood is die vrou en kinders uitgelewer aan armoede, ellende en skindertonge (141).
Die rou hartseer van diegene wat agtergelaat word, beskryf Mvelase van sy “sleeping mat of sadness” (129) en hy sluit af:
Let me lament the bone of my home,
Let me recite a dirge for my blood relative.
Here comes the sound of hymns of tears.
Opvallend hoe digters hulle wend tot ‘n godheid of die voorvaders vir vertroosting. Feitlik al die gedigte in isiNdebele handel oor die belangrikheid van God en lees soms soos preke met hul afgestompte retoriek.
Maphumulo skryf byvoorbeeld in sy isiZulu-gedig soos volg – ek haal die vertaling aan – hoe elke groep hulle wend tot ‘n godheid met ‘n eie naam:
The Zulu mourning is directed to Mvelingqangi,
The Ndebele Christians report to Zimu,
The Xhosa bereavement is sent to Thixo,
The Basotho Christians cry to Modimo,
The bereavements if Shangane is cried to Xinkwembu. (103)
Sommige digters verval weer in ’n bevraagtekende sinisme en dikwels word daar na iemand gesoek om vir die dood te blameer. Of, soos Pape dit stel in haar gedig, “dat daar nie ‘n dieper betekenis aan sterwend is nie”(14), want dit is ook een van die eerste vrae wat mense gewoonlik vra as iemand oorlede is. Sommige wonder weer oor die hiernamaals en hoe hulle ontvang gaan word, alhoewel die oorgrote meerderheid digters berusting vind in die vooruitsig dat God hulle gaan ontvang en hulle met hul geliefdes herenig gaan word.
Die meeste verse het ontstaan tydens die grendeltyd, toe Covid ons almal bedreig het en dit kom duidelik na vore in die gedigte – nie almal ewe oortuigend nie. Enersyds probeer die digtendes sin maak uit die pandemie en andersyds wil hulle die doodstema ook betrek.
Die Afrikaanse pryswenner Clinton du Plessis noem sy gedig gepas “Leemte”(12) en skryf oor die ewige gemis van die geliefde vaderfiguur en die leemte wat gelaat word. Dit is ook een van die deurlopende temas in die bundel en soos Letitia Matthews dit stel, “You die again every day, in all these moments without you” (40).
Dit is moeilik om oor die dood te skryf, veral aangesien ’n mens so maklik in geykte frases en bekende temas en motiewe kan verval. Van die digters slaag daarin om metafories met ander oë daaroor te skryf. Die dood word afgelag as ’n lafaard (95), as die bruidegom van Siekte beskryf (93), of die agtergelatene voel koud soos ‘n weeshuis (171). Tyd word beskryf as een van die dood se “buddies” (175) en nie een van hulle beskik oor ’n “no return button”nie. ‘n Ewe interessante eksperiment is die Onse Moeder van Mathebula (65). Jiyana merk op dat hy nooit geweet het dat die dood kleurblind was nie (59).
Net soos John Donne indertyd die dood uitgetart het, doen Mphephu dit ook, as hy skryf:
Death will be ashamed.
It will shrink and hide like a porcupine
As it will be sent away to sleep like a baby
Its power will be shamed and ridiculed
When death will be dead and dry like dead wood. (253)
Ironies, sluit die bundel af met die gedig “AVBOB, the star of the nation” van Lavhengwa (297) en veral die reël, “It brings life where there is death” vat die oogmerk met hierdie projek goed saam. ’n Begrafnisondernemer befonds ‘n poësieprojek en dit het almal aan die skryf. Alhoewel ek soms gewonder het hoekom van die gedigte pryse gekry het en ander nie, is dit ’n goeie aansporing. Die vrees vir die dood word sodoende besweer. As vertaalprojek lewer hierdie teks ’n belangrike bydrae tot meertaligheid in die land. Agterin word die kort biografieë van die onderskeie vertalers ook ingesluit, wat belangrik is, want vertaling is immers ‘n wetenskap.