Vel
Jy lyn my soom my,
vorm my,
teken my kontoere,
huid my vaste lande,
hul my vloei;
bas my bou
en huis my hart;
sonder jou
is ek skansloos teen skade:
net brose naaktheid
van rooi-rou vlees,
die brutale blou
van ontblote vate;
misvorm minus die steun
van vashou-nate;
vou my binne-bou:
sal alle organe, elke
sel van my
gestel inplof;
skroei, skrompel, dor
ek tot
stof.
© Salvia Ockhuis, 2023