nag-merrie
wil myself met ʼn lepel op dis
soet tot die tong besef daar’s iets
om te proe die bitter oorspoel die keel
(gooi klep!) maar wie sou aansit vir só ʼn
maal sonder end ek onthou
dat ouma een laatnag gebid het:
beskerm ons teen die wolwe voor die deur
ek kon hulle síén soos sy hulle prewelend beskryf
rooi-oog en huilend met hul kloue teen die deur
ek kon die vonke en die vuur en die spoeg síén spat
ek sal nóóít so wit brand nie
ek dig myself die duister in –
woorde is ook spitgrawe:
die swart skelet laat hom nie kaalhand ontbloot nie
my skedel lag haar dood die toekoms-
tige in die fortuinverteller sê die palms
is bloot twee bladsye van hierdie kort
verhaal van skade en skande ek behoort wys te wees
spring op in die nag en skree –
skréé die naam van ʼn dooie man
pluk nog ʼn hartsnaar:
ek sing soos ʼn saag
© Mariëtte van Graan, 2023