August Disselhoff. Liedvertaling uit Duits in Afrikaans. Vert. deur Bernard Odendaal
ʼn Ou kontreiverlaterslied herleef in die skadu van die Skandmuur
Duitsland was, nie lank ná afloop van die Tweede Wêreldoorlog nie, ’n nasie letterlik verdeel in twee.
Wes-Duitsland, oftewel die Bondsrepubliek Duitsland, het danksy onder meer die Marshall-plan van die VSA op ekonomiese en nywerheidsgebied gedy. Oos-Duitsland (amptelik die Duitse Demokratiese Republiek) kon, weens afhanklikheid van Sowjet-Rusland en weens die inhiberende kommunistiese bestel wat daar ingevoer is, nie by Wes-Duitsland kers vashou nie. Daarby het politieke onderdrukking algaande toegeneem in Oos-Duitsland. Die resultaat was dat daar, tot in 1961, sowat 3,1 miljoen mense was wat uit Oos-Duitsland gevlug het.
Om die mensebeweging tussen Oos en Wes asook die uitwyking deur sy burgers na Wes-Duitsland te probeer stuit, het die Oos-Duitse regering algaande strenger maatreëls ingestel op die grens tussen die twee lande. Ook op dié rondom Wes-Berlyn, wat geografies in Oos-Duitsland geleë was.
Dit het vanaf Augustus 1961 tot Augustus 1962 uitgeloop op die oprigting van versperrings, in die vorm van heinings met bewapende wagposte, tussen die twee lande. Dié versperrings is oor die jare steeds ‘verbeter’, dit wil sê steeds meer formidabel gemaak.
Tussen Oos- en Wes-Berlyn het die versperring die vorm aangeneem van die berugte Muur, later bekend as die Skandmuur. Ontvlugtingspogings uit die Ooste het toegeneem, maar is daadkragtig ontmoedig, onder meer deur ’n staande skietbevel aan die wagte langs die grensversperrings.
Dit is in die lig van hierdie gebeure dat liedere uit vroeëre versettye in die Duitse geskiedenis, soos onder meer opgediep deur Dieter Süverkrüp, besonder aktuele betekenis gekry het. Een so ’n lied was die geboortekontrei-verlaterslied “Ade, du mein lieb Heimatland”. Dit het intussen weer behoorlik Duitse volksbesit geword, soos die talle beskikbare opnames daarvan, soms met klein teksaanpassings, op YouTube getuig.
Daar is meningsverskil oor die ontstaan daarvan. Sommige ken dit as ’n trekarbeiderslied uit die negentiende eeu. Daar bestaan egter ook sienings dat dit as bannelingslied beslag gekry het tydens die Duitse Rewolusietyd van 1848 tot 1849. Die liedteks, so blyk dit, is geskep deur August Disseldorff; party bronne dui 1848 en ander 1851 as jaartal aan waarin hy dit geskryf het. Aanleiding daartoe was glo dat Disselhoff, ná voltooiing van sy skoolloopbaan in sy geboortestad Arnsberg in die Sauerlandstreek van Duitsland, na Halle in die Sakse-Anhaltgebied moes vertrek vir studies in die evangeliese teologie. Die “vreemde strand“ waarvan gesing word, sou dan verwys na die oewers van die Saalerivier wat deur Halle vloei. Wie die melodie geskep het, is klaarblyklik onbekend, sodat dit as “tradisioneel” van herkoms bestempel word.
Die aanslag is romanties-moedig. ’n Mens moet onthou dat die rewolusionêre, nasionalistiese demokratiseringsbewegings van die laat-agtiende en vroeë negentiende eeue in Europa sterk in die teken van die romantiek as kuns- en geestestroming gestaan het.
Nun ade, du mein lieb Heimatland
Nun ade, du mein lieb Heimatland,
lieb Heimatland, ade!
Es geht nun fort zum fremden Strand,
lieb Heimatland, ade!
Und so sing ich denn mit frohem Mut,
wie man singet, wenn man wandern tut:
Lieb Heimatland, ade.
Lieb Heimatland, ade.
Wie du lachst mit deines Himmels Blau,
lieb Heimatland, ade!
Wie du grüβest mich mit Feld und Au,
lieb Heimatland, ade!
Gott weiβ, zu dir steht stets mein Sinn,
doch jetzt zur Ferne muβ ich hin.
Lieb Heimatland, ade.
Lieb Heimatland, ade.
Begleitest mich, du lieber Fluβ.
Lieb Heimatland, ade!
Bist traurig, daβ ich wandern muβ.
Lieb Heimatland, ade!
Vom moosgen Stein am waldgen Tal,
da grüβ ich dich zum letzten Mal:
Lieb Heimatland, ade.
Lieb Heimatland, ade.
- Teks: August Disselhoff; musiek: tradisioneel. Een gewilde opname van die lied kan gehoor word by die volgende internetskakel: https://www.bing.com/videos/search?q=nun+ade+mein+lieb+heimatland&view=detail&mid=783633A854DCC88256F9783633A854DCC88256F9&FORM=VIRE
***
Uit die hart groet ek, geboorteland
Uit die hart groet ek, geboorteland:
Geboorteland, vaarwel!
My pad lei na ’n vreemde strand;
geboorteland, vaarwel!
Dus, manhaftig moet my lied nou klink,
soos gepas is as die langpad wink.
Geboorteland, vaarwel.
Geboorteland, vaarwel.
Bo my lag jy met jou hemelsblou;
geboorteland, vaarwel.
En jy wuif my toe met veld en woud;
geboorteland, vaarwel.
God weet, jy bly my voor die gees,
al moet my oë op die toekoms wees.
Geboorteland, vaarwel.
Geboorteland, vaarwel.
Rivier, ek hou langs jou die spoor.
Geboorteland, vaarwel!
Jou ruising laat my snikke hoor.
Geboorteland, vaarwel!
Vanaf ’n mosoorgroeide krans
kry ek vir groet ’n laaste kans:
Geboorteland, vaarwel!
Gegroet, gegroet. Vaarwel.