Illusie van Naaste-Liefde
As ek vir jou ʼn absurde vredesverdrag kan gee:
dat ek jou kan liefhê
sonder die idee van liefde (vir ʼn oomblik) –
dat ek in die deursigtigheid van my aangesig
ʼn masker kan beredder waarin
die liefde (nie) vir ʼn oomblik
kan stilstaan (nie).
Nee, dis nie vir my beskore om die geheim
van die kosmos te probeer voordra
soos ʼn kunswedstryd-resitasie nie.
Ek is gepoleerde asem –
ʼn is wat nie daar is nie.
Net soos ʼn stroom vol visse
waar die geheimenis van vis
só naby aan stroom is
dat die uitpluis nie anders kan
as om lyn nat te maak
in naakte waarheid
van die stroom se vaart nie.
Blom kom neer op blom óf stuifmeel
óf vrugbeginsel van eindes
wat verenig – aan mekaar gebind word –
soos (die) liefde wat nie daar is nie.
Níé totdat die blom
in haar glorie
tot fleur kom nie.
Gooi daarom die ruiker in die rivier
en hoop dat die visse
blind is vir die oë
van die waarheid.
© Bester Meyer, 2023