Johann Esser en Wolfgang Langhoff. Liedvertaling uit Duits in Afrikaans. Vert. deur Bernard Odendaal
ʼn Konsentrasiekamplied uit die Tweede Wêreldoorlog
Burg Waldeck is geleë naby die dorpie Dorweiler in die provinsie Rheinland-Pfalz in die weste van Duitsland. Vandaar is dit nie ver na die Belgiese grens nie.
Die burg is reeds in die negentien-twintigerjare ontdek deur groepe sogenaamde Wandervögel (“trekvoëls” in Afrikaans) – dit is volkskultuurverenigings wat hulle graag in die vrye natuur begeef het. Hulle het Burg Waldeck tot ’n plek van samekoms ingerig. Hierdie samekomste is in 1933 deur die Hitler-bewind stopgesit.
In die vyftigerjare het vredesbewuste jeuggroepe weer hier begin byeenkom, waaronder die volksanger-broers Hein en Oss Kröher, en Peter Rohland.
Soos Dieter Süverkrüp het hulle hul op die versamel van vergete volksliedere toegelê. Mettertyd het hulle die ingewing gekry om ’n internasionale folklorefees by Burg Waldeck te reël. Die eerste Waldeck-fees is tydens Pase in 1964 gehou.
Die fees rondom Pase elke jaar het gou uitgegroei tot die belangrikste byeenkomste van die Duitse Liedermacher. Ook Engelstalige folk-sangers soos Pete Seeger, Colin Wilkie, Shirley Hart en Phil Ochs het hiertydens opgetree. Een van die liedere wat die gebroeders Kröher afgestof en bekend gemaak het, was ’n konsentrasiekamplied uit die Tweede Wêreldoorlog. Dit het in die Börgermoor-konsentrasiekamp in Emsland ontstaan. Naby dié kamp was daar ’n moeras. Daar moes die gevangenes as handearbeiders gaan swoeg en sweet.
Die lied is geskryf in protes teen ’n aanval deur die Börgermoor-kampowerheid op die gevangenes se raad van verteenwoordigers op grond van ’n beskuldiging dat hulle onwettig verkies was.
Die woorde is uit die penne van Johann Esser en Wolfgang Langhoff, en die musiek is geskep deur Rudi Goguel. Op ’n spesiaal georganiseerde geleentheid is dit uitgevoer deur ’n kwartet, saamgestel uit lede van die kampkoor. Reeds na die tweede strofe het van die toehoorders glo begin saamneurie. Na twee dae is die lied verbied.
Dié “Moerassoldate”-lied word beskou as ’n uiting van weerstand teen die fascisme. ’n Mens voel gou-gou lus om saam te neurie!
Die Moorsoldaten
Wohin auch das Auge blicket,
Moor und Heide nur ringsum.
Vogelsang uns nicht erquicket,
Eichen stehen kahl und krumm.
Wir sind die Moorsoldaten,
Und ziehen mit dem Spaten,
Ins Moor.
Hier in dieser öden Heide
Ist das Lager aufgebaut,
Wo wir fern von jeder Freude
Hinter Stacheldraht verstaut.
Wir sind die Moorsoldaten,
Und ziehen mit dem Spaten,
Ins Moor.
Morgens ziehen die Kolonnen
In das Moor zur Arbeit hin.
Graben bei dem Brand der Sonne,
Doch zur Heimat steht der Sinn.
Wir sind die Moorsoldaten,
Und ziehen mit dem Spaten,
Ins Moor.
Heimwärts, heimwärts jeder sehnet,
Zu den Eltern, Weib und Kind.
Manche Brust ein Seufzer dehnet,
Weil wir hier gefangen sind.
Wir sind die Moorsoldaten,
Und ziehen mit dem Spaten,
Ins Moor.
Auf und nieder gehn die Posten,
Keiner, keiner kann hindurch.
Flucht wird nur das Leben kosten,
Vierfach ist umzäunt die Burg.
Wir sind die Moorsoldaten,
Und ziehen mit dem Spaten,
Ins Moor.
Doch für uns gibt es kein Klagen,
Ewig kann’s nicht Winter sein.
Einmal werden froh wir sagen:
Heimat, du bist wieder mein:
Dann ziehn die Moorsoldaten
Nicht mehr mit dem Spaten
Ins Moor!
Dann ziehn die Moorsoldaten
Nicht mehr mit dem Spaten
Ins Moor!
- Teks: Johann Esser en Wolfgang Langhoff; toonsetting: Rudi Goguel; ’n opname van waar Hannes Wader die lied voorsing by ’n byeenkoms, kan by die volgende internetskakel beluister word:
https://www.youtube.com/watch?v=-boCKJsDe5U)
***
Moerassoldate
Kyk mens op: Na alle kante
strek moerasveld grimmig uit.
Krom die eike se geraamtes;
net verbeel die voëlgefluit.
Ons is moerassoldate
en skouer weer ons grawe:
Voorwaarts!
Hier in hierdie barre oopte
staan kasernes in gelid,
moet ons met maar min te hope
agter doringdraad bly sit.
Ons is moerassoldate
en skouer weer ons grawe:
Voorwaarts!
Smôrens trek ons dwangkolonnes
die moeras in om te werk.
By die spitwerk brand die son ons
en die heimwee ewe sterk.
Ons is moerassoldate
en skouer weer ons grawe:
Voorwaarts!
Huis toe, huis toe beur verlange,
na die ouers, vrou en kind.
Die besef: ons is gevange,
moet in sugte uiting vind.
Ons is moerassoldate
en skouer weer ons grawe:
Voorwaarts!
Heen en weer stap patroleerders;
roer daar iemand, slaan hul toe.
Vlugplanne is doodsbegeertes;
vier stuks heining spel taboe.
Ons is moerassoldate
en skouer weer ons grawe:
Voorwaarts!
Dus verduur ons maar die gruwel;
alle winters gaan verby.
Eendag sal ons weer kan jubel:
Heimat, jy’t gewag op my!
Dan smyt, moerassoldate,
ons graaf neer in die water –
voorwaarts!
Dan smyt, moerassoldate,
ons graaf neer in die water –
voorwaarts!