Klaus Hoffmann. Liedvertaling uit Duits in Afrikaans. Vert. deur Bernard Odendaal
ʼn Liedermacher-lied uit die 1970’s oor lewens- en toekomsangs
Die Amerikaanse en Britse Folk-Revival het ook spore in die Duitse Liedermacher-werk gelaat.
“Was bleibt” (in Afrikaans: “Wat bly”) is ’n lied deur Klaus Hoffmann. Hy was sedert die vroeë negentien-sewentigerjare bedrywig as Liedermacher, maar ook as bekroonde toneelspeler en filmakteur. In 1996 het hy ’n suksesvolle musiekspel, Brel – die letzte Vorstellung, oor die lewe van Jacques Brel geskep. Hy het ook self die toepaslike chansons van dié groot Belgiese kunstenaar in Duits vertaal. Sedert 2000 het boonop ’n aantal romans uit sy pen begin verskyn.
“Was bleibt” vertolk ’n tema wat redelik uniek was aan die Liedermacher-werk van die middel-1970’s: angs vir die lewe en vir die toekoms. Tydens die Liedfees by Mainz in 1978 is van die kunstenaars daar gevra waar hierdie tema in hul werk sy oorsprong het. Die mees algemene antwoord was dat dit gewyt kan word aan ’n gebrek aan toekomsvooruitsigte. Die Koue Oorlog, met sy gepaardgaande kernwapenwedloop, het byvoorbeeld steeds voortgesleep. Ook het hierdie geslag heelwat bedryfs- en beroepsonsekerhede ervaar, terwyl veranderings in die politieke klimaat onrusbarend was. Die kommunistiese Oos-Blok en die kapitalistiese Wes-Blok het mekaar al hoe meer onverbiddelik teengestaan. Terroriste-aanvalle het ook in Duitsland begin voorkom; en die Midde-Oosterse krisis het verdiep.
Hoffmann se lied is in 1976 geskryf.
Was bleibt
Stolpernd suchen deine Füße Halt,
auf Kopfstein tappst du hin, siehst bald
deine Hündin an der Kneipe stehn;
du merkst, du hast nicht mal ein festes Wort für sie.
Spürst seit Tagen nur noch Krampf in dir,
vertuscht ihn, spülst ihn weg, rauchst viel.
Und wie immer wartest du mit fremden Freunden
an langen Tischen auf den nächsten Morgen.
Lachend läßt der Tag dich fallen,
wieder weißt du nicht, wofür du tust –
was dir und mir noch bleibt,
was schon zu unserm Glück gehört,
was in uns Tag und Nacht verweilt,
nicht mal mehr unsre Träume stört,
ist vielleicht nur Angst,
die uns nach vorne treibt.
Man hat zum Springpferd dich gemacht,
gezäumt für Hürden flott gemacht;
und wenn du erste Schwächen zeigst,
kommen Regenmacher, Priester, Instruktoren.
Die schmeicheln dir die Sonn’ ins Ohr,
ziehst lieber ihre Lügen vor
als eine triste Wahrheit, die du denkst
du hier ja doch nicht ändern kannst.
Lachend läßt der Tag dich fallen,
wieder weißt du nicht, wofür du tust –
Was dir und mir noch bleibt,
was schon zu unserm Glück gehört,
was in uns Tag und Nacht verweilt,
nicht mal mehr unsre Träume stört,
ist vielleicht nur Angst,
die uns nach vorne treibt.
Da stehst du nun, suchst eine Furt
im Bächlein, der zum Wildbach wurd’;
starrst auf ein andres Ufer
das so viele Träume, Hoffnungen, doch offen läßt.
Du wartest auf den Morgenwind,
der dir einen Fährmann bringt;
und plötzlich siehst du, wie du schon
bis an den Hals im tiefen Wasser stehst.
Unsre Zeit ist jetzt und hier,
da gibt’s kein gestern und kein morgen –
nur was uns von den Alten bleibt,
was schon zu unserm Glück gehört,
was in uns Tag und Nacht verweilt,
nicht mal mehr unsre Träume stört,
ist bestimmt nur Angst,
die uns nach vorne treibt.
- Teks en toonsetting: Klaus Hoffmann; van die langspeelplaat Gatefold, RCA Victor, 1976; die opname kan beluisrer word by https://www.youtube.com/watch?v=B_g45giKKBM)
***
Wat bly
Onvas oor die keisteenstraat kom jy,
sien oorkant, pruilmond, daar wag sy:
loslyf voor jou kroeg soos elke dag;
maar steeds het jy aan haar nóg ja nóg nee te sê.
Dae lank al stuiptrek iets in jou;
jy swyg en suip en rook dit weg.
Soos altyd maak jy weer met vreemdes vriende
aan lang, nat tafels, nag deur, tot die môre.
Dan kom lag die dag, laat val jou;
soos ’n dobbelsteentjie rol jy weer …
wat bly vir my en jou,
wat soos geluk in ons wil hoort,
iets dáár in ons gemoed, getrou,
wat ons laat voortdroom, onverstoord –
dit is dalk maar angs,
’n nood wat vol laat hou.
Jy’s soos ’n springperd gedresseer,
jy’s dwarsboom oorsteek goed geleer,
en as jy neig na koppigheid
kom die fluisterhelers, herkondisioneerders.
En groener weiveld word beloof –
jy neem dit aan, in die geloof,
bo elke troebel waarheid wat jy weet
jy tog nie kan verander nie.
En dan lag die dag, laat val jou,
soos ’n dobbelsteentjie rol jy weer …
wat bly vir my en jou,
wat soos geluk in ons wil hoort,
iets dáár in ons gemoed, getrou,
wat ons laat voortdroom, onverstoord –
dit is dalk maar angs,
’n nood wat vol laat hou.
Jy staan en soek ’n oorsteekplek
– die vloed wat elke drif oordek;
pal wink die ander oewer
en daaragter ooptes, landskappe van droom en hoop.
Jy wag daar op die môrewind
wat die veerbootman sal bring,
maar skielik merk jy dat jy reeds
tot aan jou ken in diepe waters staan.
Kyk, dis tyd vir hier en nou;
vergeet van gister en van môre –
van oudsher bly vir my en jou
iets soos geluk wat in ons hoort,
iets dáár in ons gemoed, getrou,
wat ons laat voortdroom, onverstoord …
maar dis eintlik angs,
’n nood wat vol laat hou.
Dankie, Mellet!
Groot waardering Bernard, beide dat jy Hoffmann se werk hier bekendstel en dat jy dit toeganklik maak!