Resensie: Getye van tyd deur Heilna du Plooy, Imprimatur, 2023.
Resensent: Stefan van Zyl
Getye van tyd is Heilna du Plooy se vierde digbundel wat volg op Die donker is nooit leeg nie (1997), In die landskap ingelyf (2002) en Die stilte opgeskort (2014). Sy verduidelik self die verbreking van haar byna dekade lange stilswye soos volg in die vers “Die stilte opgeskort” (p. 15):
Die stilte opgeskort
Dit het dié keer langer as ʼn jaar,
selfs jare meer geduur voor ek weer
die vlerkslag veerlig kon gewaar:
ʼn vonnis uit te dien, af te wag,
bedags net eggo’s van die meeue
en fosfor op die deining snags.
Ek moes geduldig wees: bly glo
die stilte word wel opgeskort
as die tyd vir andersmaak ryp word.
Du Plooy se nuutste galery verse is ʼn voortsetting van die temas wat haar poësieoeuvre tot dusver kenmerk, naamlik die belewing van landskap en die natuur, die skilderkuns wat deurentyd met die skryfkuns vervleg word, die immerteenwoordige bewustheid van tydsverloop, die huis as ruimte van geborgenheid, intertekstuele gesprekke met ander digters en skrywers, verwysings na ander kunsvorme soos musiek, veroudering en die dood, herinnering, vrouwees en liefde.
Die verse in die bundel is in vyf afdelings verpak waarvan die titels aansluit by prominente temas in haar poësieoeuvre: “Stillewe”, “See”, “Plek”, “Land”, “Wind” en “Vertalings”. Die afdelings word voorafgegaan deur ʼn motto en twee programgedigte, “Seetaal” (p. 11) en “Verblyf” (p. 12), wat die onderliggende stemming van die bundel bewerkstellig. Die motto lui soos volg:
die aanvang is water
die uiteinde wind
In stede daarvan om die verse in die bundel in die volgorde van elke afdeling te bespreek, het ek besluit om hierdie resensie anders aan te pak deur sommige van Du Plooy se bekendste akademiese artikels oor sekere aspekte van die Afrikaanse poësie as rigtingwysers in te span vir my lees en ontsluiting van Getye van tyd.
Die beeld is duursamer as die begrip
In die opsomming van haar artikel oor die poëtiese nalatenskap van N.P. van Wyk Louw, skryf Du Plooy:
“Skryf is een van die maniere om ʼn greep te kry op die vlugtigheid en inkongruensie van tyd in menslike ervaring, maar die lees van literêre tekste het ook ʼn invloed op mense se tydsbelewenis. […] Die slotsom waartoe gekom word, is dat die estetiese teks self in die gesprek in en om die literatuur die gang van tyd kan weerstaan, omdat daar in die onbegrensdheid en onbepaaldheid van die beeldrykheid van veral gedigte iets van die onbepaalbare aard van die betekenis van menslike belewenis in die werklikheid weerspieël word.”
Een van die kenmerke van Du Plooy se oeuvre is ongetwyfeld die boekstawing van haar belewenis van en verhouding met tyd. Hierdie aspek vind reeds neerslag in haar debuutbundel in die verse “Kanttekeninge by die tyd”, “Dag-getye” en “tyd”. Interessant genoeg kan ʼn mens sien hoe die titel van haar nuutste bundel eintlik ʼn versmelting is van die titels van haar eerste gedigte oor tyd. Die titel van haar nuutste bundel kan voorts op velerlei vlakke geïnterpreteer word. Benewens die voor die hand liggende betekenis wat dui op die digter se belewing van tyd as die beweging, die eb en vloed, van die seegetye, kan die woord ook verwys na bepaalde tydruimtes wat in ʼn groter tydsgeheel of tydsgees plaasvind. ʼn Verdere laag is die liturgiese Rooms-Katolieke brevier wat op bepaalde tye gebid of gesing word. Dit sluit aan by Carina Stander se opmerking oor die talle verwysings na wind in die bundel wat ook gelees kan word as ʼn soort “gees” wat aanduidend is van die subtiele teenwoordigheid van geloof/godsdiens/gewydheid in die bundel. Die woord “getye” herinner egter ook, soos Marius Crous tereg in sý resensie van die bundel uitwys, na die woord “getuie”. Du Plooy is terselfdertyd ʼn bewustelike deelnemer aan sowel as ʼn waarnemer van die voortdurende eb en vloed van tydsverloop.
Haar belewing van tyd hou vanselfsprekend verband met die verouderingsproses en in die kort vers “skelm” (p. 20) bevestig die digter dat om te skryf ʼn soort poging tot die transendering van verganklikheid is:
skelm
strepies uit sy pen se punt krul en kruis
in letters wat donker op skoon papier wys
tussen sy wenkbroue ʼn diep keep
trek die ou digter verganklikheid ʼn streep
Hierdie tema word voortgesit in die vorm van verse oor die seisoene oftewel jaargetye. Veral herfs en winter dien sedert haar debuut as metafore vir die belewing van tyd en in Getye van tyd word hierdie belewing met herinnering en nostalgie vervleg in die gedig “Winter” (p. 55):
Winter
Dáár was die uitgebleikte gras
ʼn skaapkaros wat oor die heuwels lê;
ʼn kraan wat deur ʼn winternag bly drup,
môrevroeg ʼn kerswas-yspilaar;
die speelplek in die bloekombos
ʼn dikke blaremat tot by ʼn kind se knie.
Daar was ʼn maalkolk in die draai van die rivier,
die ysterbrug ʼn entjie verderaan;
die huis, die groentetuin, die hoenderhok,
die koeistal en die motorhuis van hout,
die peperboom en daardie rytjie populiere
in die waai gekoester van die stroom se elmboog.
Die winters bly ʼn helder herinnering
as die liggroen lentes of die somerhitte:
beeneerlik, daardie sonbleek plek,
sy plat polle gras, stof en stokke, blouwit ryp:
Moes dit ons sterk maak, nugter, kalm,
om ons naakte waarheid in die oë te kan kyk?
Een van my gunstelingverse oor tyd is egter die eerlike vers “Suiderkruis” (p. 39) waarin die mens se (nietige) lewensverloop met die onmeetlike heelal gekontrasteer word:
Suiderkruis
jy moet van tyd weet, van daardie soort tyd
wat jy net in terme van ruimte kan meet;
sonder dat jy tyd kan ken, moet jy
uit jou murg uit aanvoel, meevoel
dat tyd volgorde is, dat tyd duur of vervloei,
dat patrone in tyd ontstaan en verdwyn;
jy moes al baie beleef het, vriende gemaak
en met weemoed verloor het, liefgehad
en gehaat het, geliefdes waardeer
en afskeid tot in jou niere voel sny het;
jy moes al lank geleef het, in momente
en deur eras; ekstase en trauma aan jou liggaam
ervaar het; jy moes al kon voel hoe opbou
en aftakeling, hoe tyd self in jou weefsel setel;
veral moet jy weet hoe met geboorte
’n tydlyn begin, hoe dit dun
word en uitdoof met dood; dit alles,
en meer, moet reeds van jou deel wees
om een middernag met donkermaan
na die suiderkruis te kyk,
die twee wysersterre laag bo die deining
in die aardedonker oor die oseaan,
te kyk na ses magtige sonne
se vlamme en gloed
wat deur eeue se afstand verdof
tot spikkeltjies lig in jou oë,
om dan te verstaan:
Die kruiskonstellasie
self is gans en al
onbegryplik oneindige tyd;
en die vermeende leemtes,
ligloos tussenin, eweneens.
In ʼn destydse Versindaba-onderhoud met Joan Hambidge sê Du Plooy: “Maar mens reis ook deur tyd en deur ervaring en van alles dra jy met jou saam op die vérdere verloop van jou reis. Later kan jy swaar dra aan al jou soeweniers. Mens wil mos maar graag goed reis en dalk is ligter reis ’n moontlikheid.”
In Getye van tyd kry die leser ʼn gevoel dat die digter haar op sobere wyse bewus is van hierdie aflegging van “soeweniers” en berusting vind in “ʼn lewe geleef in grootse tye, / in omwenteling ná omwenteling / – vir haar daar en hier oral – / tot by ʼn einde van afwag en wag.” (p. 45). Die verse, nou verewig in bundelvorm, word dan ook ʼn teenvoeter vir verganklikheid juis omdat dit sal voortbestaan lank nadat die digter nie meer hier is nie.
Woorde wat teken en be-teken
In haar artikel oor ikonisiteit in die poësie, wat sy aan die hand van enkele verse van haar vriend en mentor die digter T.T. Cloete bespreek, skryf Du Plooy dat “die betekenis van ʼn gedig ook verband hou met die ikoniese of gemotiveerde ontstaan en argetipiese inhoude van taal; en tweedens dat die referensiële aspekte van poëtiese tekste funksioneel bly en in interpretasie verreken moet word, omdat dit in samehang met die spesifieke vorms van ikonisiteit wat in die teks voorkom, die basis van betekenisgenerering en kommunikasie vorm.”
In haar eie poësie kom hierdie ikonisiteit ook aan bod in veral twee verse uit “See-suite” wat die tweede afdeling beslaan. Die eerste is “Reënboog” (p. 28) waarin sy op vernuftige wyse die vorm van ʼn reënboog binne die vers self skep:
Die tweede voorbeeld is “Golf” (p. 29) waar die deining van ʼn golf tipografies uitgebeeld word:
Ek wil so graag ʼn gedig maak oor die see wat meer is as lettertekens
wat die see beskryf, want die see se oorweldigende aanwesigheid
vereis veel meer as die noukeurigste referensialiteit
en my klein belewenis van soveel grootsheid
in skraal metafore is prosaïes en poëties
gans ontoereikend vir ʼn semiologies
adekwate taaltransformasie
ʼn oop representasie
van die majesteit
van die see.
Die see.
Hoewel die spreker-digter in die vers verwys na haar gewaande onvermoë om die grootsheid van die see in versvorm vas te vang, slaag sy egter ironies genoeg daarin om dit wel reg te kry deur die swelling en uiteindelike breek van ʼn golf in die rangskikking van die versreëls ikonies na te boots.
Op loop met ʼn lyn
In ʼn ander artikel oor ikonisiteit en intertekstualiteit in T.T. Cloete se poësie, skryf Du Plooy dat gedigte ook in “wyer, intertekstuele raamwerke” gelees kan word en in Getye van tyd kom hierdie intertekstualiteit ook in vele vorme na vore. Sy dra byvoorbeeld enkele verse aan Afrikaanse digters op: “Pampoen” (p. 23) aan Breyten Breytenbach wat spesifiek in gesprek is met “(soos van vlerke)” – “Allerliefste, ek stuur vir jou ʼn rooiborsduif” uit die bundel Lotus (1970); “Oëmblik” (p. 24) aan Petra Müller en “‘op ʼn toegegroeide voetpad’” (p. 59) aan Louis Esterhuizen. Dit is veral laasgenoemde vers waarin herinnering en die belewing van Suid-Afrika intertekstueel vervleg word met musiek – in dié geval die Tsjeggiese komponis Leoš Janáček se musieksiklus Po zarostlém chodníčku spesifiek soos uitgevoer deur Leif Ove Andsnes.
“Op ʼn toegegroeide voetpad”
vir Louis Esterhuizen
Ek loop nie meer op óf oop óf toegegroeide voetpaadjies nie
want ons loop nie meer soos toe ons kinders was
in die veld nie.
Ek staan nie meer in ou boomlanings by verlate plaasopstalle nie
want ons hou nooit meer stil soos op reise vroeër
langs die grondpad nie.
Ek sien nie meer met donkermaan die spikkelhemel nie
want ons gaan nie meer soos toe ons jonk was
laataand buitentoe nie.
Ek sit nie meer saans in die tuin, ruik die jasmyn en hoor ʼn geritsel nie
want selfs die tuin, het ons onlangs besef,
is snags nie veilig nie.
Dit dink ek as ek hoor hoe Janáček na sy verlede luister, hoe die voetpad
toegegroei met klawer, die paadjie na sy moederhuis,
in klank herleef;
hoe aande van liefdesbetuigings, winderige dae, verwaaide blare, vrolike
togte, pelgrimsreise, kwetterende metgeselle soos geslypte
druppels uit ʼn klavier opklink.
Ook afskeid, die smart waarvoor geen woord bestaan nie,
bly hom by, soos die klein uiltjie wat roep en bly roep
in die verlate skuur.
Die nostalgie in die musiek wat terugloop op roetes
en verledes deur verhale toegegroei, is so eg
dat dit geldig word.
Begenadig kan die komponis sy mymering tot ʼn snoer kristalle string:
in alle onthou is daar iets suiwers genoeg
om te behou.
Benewens die opdragverse, tree sy ook in gesprek met N.P. van Wyk Louw in die programgedig “Verblyf” (p. 12) en die Nederlandse digter Lucebert in die gedig “Perkeloos ingeperk” (p. 37). Du Plooy se welbekende voorliefde vir die skrywer Etienne Leroux kom in die gedig “Die man met die Harris Tweed-baadjie” (p. 25) aan bod wanneer sy verwysings na sy romans vernuftig inbed tussen ʼn intertekstuele gesprek met die Engelse digter Robert Browning se gedig oor die Duitse komponis Abt Vogler.
Die inkerende waarneming
In haar artikel oor die verhouding tussen Breyten Breytenbach se skilderkuns en sy poësie fokus Du Plooy op beelde wat verband hou met visie, om te sien, om te kyk en die oë. Sy kom tot die gevolgtrekking dat dieselfde poëtika en ars combinatoria die digter se skilderkuns en skryfwerk onderlê. Dit handel veral hier om insig en begrip wat deur middel van introspeksie bewerkstellig kan word.
In Getye van tyd is dit veral die stillewe (oftewel stil lewe) wat die metafoor en medium vir hierdie inkerende waarneming is. Du Plooy is self ook ʼn bedrewe skilder en die verhouding tussen woord en beeld loop in breë hale deur die bundel (die treffende kunswerk op die voorplat is byvoorbeeld ook háár handewerk). Sy kombineer die stillewe ook op ars poëtiese wyse met die skryfkuns in die vers “Stilgeskrewe” (p. 19):
Stilgeskrewe
En ons wat letters swart
op wit papier inlyf,
stillewes is wat ons skryf:
weer en weer nog een
oor glans en duisternis
binne die skedelbeen.
Gedigte wat geïnspireer is deur haar belewing van die Covid-19-pandemie sluit ook hierby aan omdat hierdie tydperk haar weliswaar gedwing het om na binne te keer. In die gedig “kuur” (p. 16) “pak sy stillewes uit / vase en blomme en boeke / vrugte in bakke op tafeldoeke” en “met liggetinte water lê sy die gloed / deur die venster neer op papier / laai dan die kwas swaar met pigment / en skilder sorgsaam ʼn kuur”. Hierdie sogenaamde “kuur” kan natuurlik ook gelees word as ʼn kuur teen menslike verganklikheid wat vir baie deur die virus bespoedig is. Ook in die verse “Pandemie I” (p. 57) en “Pandemie II” (p. 58) probeer die digter met behulp van die poësie kuns skep uit die pandemie en die meegaande gevolge. Sou ʼn mens egter tussen die lyne van die eersgenoemde gedig lees, is daar ook ʼn verwysing na die pandemie van geweld in Suid-Afrika. Die digter kom dan tot die slotsom: “ons moet aanvaar ten koste en ten spyte van, is hoe ons leef.”
Die tematiek van inkerende waarneming kom ook na vore in die gedig “Binneblik” (p. 50):
Binneblik
Teen skemer en vroeg soggens kan sy glo,
deur stof en mis, ougoud en perlemoen,
deur die gelaagde strale gloed en lig,
dat daar ’n waardigheid in dinge is,
dat almal se verhale iewers tog
sal saamvloei in ʼn toekomstige gety.
Die ongenade van die middeldag
laat elke dorp so weerloos oop en bloot,
uitgelewer aan verglyding en verweer
sigbaar vir elke een wat ongenaakbaar kyk.
Hoe sou die ou verhale nuut kon word
as die welbehae uit die oë wyk?
Radeloos oor ’n ramp wat, ruim beskou,
geen ware ramp is nie, wens sy vir nuwe oë,
vir ʼn andersydse blik: Sulke verval
verg meer as wat sy kan verdra –
dit is asof ʼn koue onderstroom
belangeloos wegkalf aan ʼn vertroude wal.
Sou sy dalk tog – met haar onpaar oë –
in hierdie streek van onwaarskynlikheid
’n buitetydse duursaamheid kon saamraap?
Sou sy, nagblind, die donker in kon roep
en uit skakeringe van swart rys daar ʼn helder dorp
asof deur skoongewaste vensters voor haar op?
Sou sy aan rommelwinkels van vreemdes
wat taalloos kommunikeer, aan klinies
gekloonde koopsentrums, aan vergane
slaggatbedolwe strate, aan sieklik
stowwerige bome en slordige
sypaadjies sin kon gee deur hoe sy kyk:
Die huise meer as bousels bloot van steen,
omdat die mure numineuse aarde is,
die vensters en die deure oopgeskreef
op die menslikste mistiek van menswees
en die strate nuut herstelde roetes
wat lewens met lewens ryklik verbind?
Al hoe meer, al hoe meer lê al dieper
ágter die oë, lewensonthalwe.
Op die onpaar oë aangewese
vir die binneblik wat sagter sou wou kyk,
kies sy die goue ure van min lig
en die genadige blou van die nag.
Dit is duidelik dat om na binne te kyk, ook ʼn kyk na buite impliseer en ook in hierdie vers is ʼn soort eb en vloed, lig en donker, ʼn belewing van beide die positiewe en die negatiewe, die goud en nanagblou aanwesig. Kleur word regdeur die bundel in verskillende hoedanighede aangewend en kleure soos saffier, toermalyn, akwamaryn, mosagaat, naggrou, waterpers, ougoud, perlemoen, liggroen, sonbleek, spierwit, gryswit, blouwit, rooswit, roeswit en wolkewit getuig van die digter se eie “skildershand en -oog / wat obsessief oor detail uitsoek en orden” soos sy na die Nederlandse stilleweskilder Willem Kalf in die ekfrastiese vers “Stillewe” verwys (p. 17). In dieselfde gedig resoneer die versreëls “vir hom moet die lig wat van dooie goed afspat / stralend oorwin in die kryt van tot niet gaan en tyd” met Du Plooy se eie inskryf teen die meedoënlose verloop van tyd soos reeds uitgewys in die verse “skelm” en “stilgeskrewe”.
Die deurskynende kelk
In haar artikel oor vorm en inhoud in die poësie, wat sy ook aan die hand van verse uit T.T. Cloete se poësieoeuvre bespreek, skryf Du Plooy oor die “medebepalende werking van vorm en inhoud in die poësie, die verband tussen wetenskap en die kuns, asook die versmelting van aanvoeling en kennis in gedigte wat as intellektuele poësie beskryf kan word.” Jare later resoneer hierdie beskrywing ook met die rasionaal wat sy in die voorwoord tot die vertalings in Getye van tyd aanbied: “Die vertaling van gedigte is nooit eenvoudig nie. Alle digters is gesteld op elke woord in ʼn gedig. Daarom is ek as vertaler uiters gesteld daarop om aan die oorspronklike gedig reg te laat geskied. Dit beteken nie dat ek die gedig letterlik woord vir word vertaal nie, maar dat ek die gedig so goed as moontlik interpreteer sodat die digter se eiesoortige stempel behoue kan bly. Dit geld sowel die inhoud as die vorm van die gedig.”
Die vertalings in die bundel kan daarom beskou word as sogenaamde intellektuele poësie omdat dit tegnies kompleks, vindingryk en boeiend is, maar ook toon dat die digter-vertaler deeglik bewus is van die kulturele en estetiese tradisies waarbinne die oorspronklike gedigte geskryf is. Die vertalings wat in die bundel opgeneem is, is oor etlike jare gedoen en Du Plooy het dit spesifiek gekies om by die tematiek van haar eie gedigte in Getye van tyd te pas. Sy skryf dat hierdie vertalings eerder as sogenaamde omdigtings beskou moet word: “Hierdie vertalings is nie werklik taalgerigte vertalings nie, eerder bronteksgerigte sowel as doelteksgerigte vertalings, want soos die bronteks is die eindproduk van die vertaling weer ʼn kreatiewe teks, ʼn gedig, in ʼn sekere sin selfs ʼn nuwe gedig wat so goed as moontlik moet wees.”
Du Plooy vertaal verse van die Bengaalse mistikus en digter Rabindranath Tagore, die Russiese digter, skrywer, komponis en vertaler Boris Pasternak, die Duitse digter, dramaturg en teaterregisseur Bertold Brecht, die Nederlandse digter, romanskrywer en vertaler Willem van Toorn, die Nederlandse digter Ineke Holzhaus, die Nederlandse digter, vertaler en dagboekskrywer Leonard Nolens, die Amerikaanse digter Robert Frost, die Nederlandse digter Emma Crebolder en die Nederlandse digter Koos Geerds.
Die laaste vertaling in die afdeling, “Langs die Stille Oseaan” (p. 106), is ook die laaste in die bundel en sluit aan by die motto en programgedigte in die bundel. Die oorspronklike gedig, “Once by the Pacific”, is vir die eerste keer in 1926 deur die Amerikaanse digter Robert Frost in die tydskrif New Republic gepubliseer en daarna in die bundel West-Running Brook (1928).
Once By the Pacific
The shattered water made a misty din.
Great waves looked over others coming in,
And thought of doing something to the shore
That water never did to land before.
The clouds were low and hairy in the skies,
Like locks blown forward in the gleam of eyes
You could not tell, and yet it looked as if
The shore was lucky in being backed by cliff
The cliff in being backed by continent; ‘
It looked as if a night of dark intent
Was coming, and not only a night, an age.
Someone had better be prepared for rage.
There would be more than ocean-water broken
Before God’s last ‘Put Out the Light’ was spoken.
Langs die Stille Oseaan
Die branders het luidrugtig in die missproei gebreek.
Groot golwe het bo-oor die deining gekyk
en beplan om iets aan die kuslyn te doen
wat water nog nooit aan die land gedoen het nie.
Die wolke het laag en slierterig in die lug gehang
soos hare wat oor die blink van oë waai.
Seker kon jy nie wees nie, en tog het dit gelyk asof
die strand genadiglik deur die duin ondersteun word,
die duin weer deur die kontinent;
dit het gelyk asof ʼn nag van bose opset
in aantog was, en nie net ʼn nag nie, ʼn era.
Mens moes jou maar voorberei op gramskap.
Meer as die waters van die oseaan sou stukkend
wees voor God uiteindelik sê Doof uit die Lig.
Ten slotte
Getye van tyd is ʼn fyn gekurateerde bundel wat die leser tot stille inkeer laat kom om bestek op te neem van die tydsgees waarin ons ons tans bevind. In die hande van Heilna du Plooy word woord en beeld behendig en deurdag versmelt tot ʼn kalm seespieël waarin die veelfasettige geleefde ervaring van verganklikheid met deernis gereflekteer word:
Seesuite
VI (p. 33)
As mens jou voorstel
dat met jou sterwe
jou enkele lewe,
jou een liggaam, oplos
in die wemeling
van lig op water,
dan word die dood vir jou
ʼn sterbelaaide ver verskiet.
Die gedigte is wonderlik. Geluk daarmee!
Dankie Stefan. Jy maak my skoon verleë, maar ek waardeer die sorgsame resensie opreg.
Jou resensie is ‘n pragtige hommage aan professor Heilna du Plooy, Stefan van Zyl. Nie net belig dit haar poësie nie, maar ook die maniere waarop sy aan poësie as kunsvorm dink. Indrukwekkende stuk werk wat jy hier gedoen het. Welgedaan!