Besoek aan Rennes-le-Château (1998)
Die rooioog-duiwel het my hart laat klop
in die Maria Magdalena Altaarkerk
‘n toeristemerk in die Franse platteland
heuweldorpie van Sauniére
waar raaisels na eeue nog
aan vervalle mure kleef.
Ouma word begrawe en haar liefling toer
in ‘n sonbevlekte dorp
waar ruimte en tyd skadus op die lewe gooi
en Rennes se begraafplaas
vars blomme vir haar baar.
Op die eeue-oue klipmuur, reis
ons oë oor die vallei
eet ons vrugte uit die voue van ‘n linnedoek
gaan soek ek koel kruikwater
soos Jesus by die put.
© Marthe McLoud, 2023