Misha en Arvo
Vir LE & MJ
Tussen hierdie mure waar ons woon
word jy die metafoor van Bachelard
en ek Van Gennep; jou liminale gids
op reis per veerboot deur woestyne,
grond en water, deur die distelland:
die liefland waar die water ons soos
skilderye in die dae van visvangers
en ander watervoëls onthou, en ons
die ongeskape berge vind, toe slegs
vulkane nog gesmeul het in die wind.
En dan sal jou refleksie in die gladde
stiltes van die wintervenster my kom
roep, dat in ons laaste skof ons nog
’n opslagsomer op die afgeleë eiland
van ons huis beleef, tot in die nanag
as ons liggame se laaste swanesang
weerklink. En ek sal jou “my hartstog”
noem en jy sal liefdesverse in jou laat-
werk skryf, my skete in die môre vryf,
en praat oor almal waarna jy verlang.
Totdat ’n koor van Arvo Pärt daar ver
vanuit die Pioneer se luidsprekers ’n
boodskap van die gode bring, en ek
’n vers van Kouwenaar of Kopland of
miskien Paul Snoek aan jou voorlees.
Later sal jy na my draai en saggies vir
my sê dat Amichai jou steeds ontroer.
En op die vensterbank sal daar twee
katte soos getuies oor ons liefde waak.
© Mellet Moll, 2023
Groot waardering, Bester. Hierdie vers is eintlik net aaneen gestik uit intertekste.
Dis ‘n wonderlike reeks! En baie mooi!