Gert Vlok Nel is van Beaufort-Wes. Sy musiek, en veral sy woorde, is vol patos en spreek tot die onderdrukte heimwee in iedereen. Sy debuutbundel, om te lewe is onnatuurlik ontvang in 1995 die Ingrid Jonker-prys vir uitstaande debuutwerk. Van sy gedigte is opgeneem in Gerrit Komrij se versamelbundel De Afrikaanse poëzie in 1000 en enige gedichten.
In 1998 volg hy die bundel op met ’n CD om beaufort-wes se beautiful woorde te vergeet en ’n woord-en-musiekproduksie met dieselfde titel by die KKNK. Die produksie beland binne die eerste dag aan die bopunt van die beste-produksielys. Sy CD asook die vertoning besorg aan hom ’n onmiddellike kultus-aanhang, wat in die jare wat daarop volg net groei. Hy is onder meer die skrywer van die liedjie “Beautiful in Beaufort-Wes” wat al deur meer as vyftien kunstenaars opgeneem is.
’n Tweede bundel is later gepubliseer met die lirieke van die liedjies op die CD en hy het ook ’n saamgestelde bundel met onder meer Robert Bolton en Tertius Kapp gepubliseer. Hy is al verskeie kere na Nederland genooi vir poësie- en musiekfeeste. Walter Stokman, die bekroonde Nederlandse regisseur het ’n dokumentêr, Beautiful in Beaufort-Wes gemaak met Gert as die hoof-fokus. Dis benoem vir ’n Gouden Kalf-toekenning en binne die eerste week wat dit op TV verskyn het is daar bykans 4000 musiek CD’s bestel.
Sy musiek word dikwels vergelyk met dié van Bob Dylan en JJ Cale.
Luister na: Woorde & stem: Gert Vlok Nel: In die begin was die woord
(Hierdie CD, In die begin was die woord, produksie deur Ronel Nel, is gratis beskikbaar by die meeste Protea Boekwinkels.)
[Nota van die Versindaba redaksie: Ons wil graag nuwe en ou digters aanmoedig om vir ons opgedateerde profiele aan te stuur na taljard.marlies@gmail.com
Van ‘n digter wat al een of meer solo-bundels by ‘n erkende uitgewer gepubliseer het, versoek ons die volgende:
-
-
- ‘n Redelik onlangse foto in JPG-formaat
- ‘n Lys van publikasies (ook die belangrikste nie-poëtiese publikasies)
- ‘n Kort lewenskets wat inligting bevat oor o.a. waar en wanneer jy gebore is en grootgeword het, waar jy studeer het, watter beroep jy beoefen of waarmee jy jou tans besig hou, waar jy op die oomblik woon, ens.
- Enige ander interessante feite oor jou
-
Skryf asseblief die profiel in narratiewe vorm en nie as ‘n reeks feite ondermekaar nie, ten einde dit meer lesersvriendelik te maak.
Indien jy bereid is om ‘n profiel te skryf oor ‘n gestorwe digter, laat weet my asseblief by taljard.marlies@gmail.com]