Wat bly oor?
as ʼn mens lukraak missiele tussen wonings injaag
is dit nie oorlog nie, maar massamoord –
as ʼn mens plekke van godsdiens ten gronde lê
is dit nie oorlog nie, maar mensewraak –
as ʼn mens skiet om nie die gemaskerde terroriste raak te skiet nie
– maar om soos die leier sê – Gaza plat te maak met die grond
dan besig jy jouself met misdade teen die mensdom –
apartheidshaat in ʼn apartheidstaat
as jy jou bondgenoot in Washington skakel
en hy beloof jou al die wapens wat jy nodig het
dan is hy nét so aandadig soos jy
vir wie veg jy hierdie oorlog en waarom
wapper jou vlag nog halfmas in die verte?
wat bly oor
as mense reg oor die wêreld getuie is
van jou selfopgelegde mortierereën
wat luidkeels vir genoegdoening
kom smeek in ʼn hardhandige
vrye vers, sonder koeëls,
óf ritme of jóú volhoubaarheid?
miskien net ʼn paar vingers op die knoppies
van ʼn geskokte sosiale media afsetgebied
wat soos die besette grondgebiede
bang, bang op hulle voete gedwing
sal word deur die tragedie
van die waarheid
© Bester Meyer, 2023
Remember that the AVBOB Poetry Competition reopened on 1 August 2023. Visit our website regularly at https://www.avbobpoetry.co.za/ for editing tips and advice as well as updates about upcoming workshops.