Aard, aarde, ontaard, verlange
Resensie: ontaard deur Pieter Odendaal. 2023. Kaapstad: Tafelberg. ISBN 9780624093930. Prys R260.
Resensent: Hein Viljoen
Daar is lank uitgesien na Pieter Odendaal se tweede bundel. Sy eerste bundel, met die boeiende titel Asof geen berge ooit hier gewoon het nie (2018), is baie positief ontvang en in 2019 bekroon met die Ingrid Jonkerprys en met ʼn ATKV-woordveertjie. Dit is ook benoem vir die UJ-debuutprys. Sy drama Droomwerk, wat in 2021 die ATKV-Woordveertjie vir beste nuwe Afrikaanse toneelstuk gewen het, is vanjaar vir die eerste keer opgevoer by die Nasionale Kunstefees, en daarna by Aardklop en die Woordfees. Sy nuwe bundel eggo sommige van die postkoloniale temas wat in die drama aangeraak word.
In Ontaard is daar veral drie sterk temas, nl. die verwoesting van die aarde, verlange of gemis, en relasionaliteit (verhoudings met die ander en binne die gesin en familie, veral met die pa.). Dit is temas wat ook prominent is in Odendaal se eerste bundel, maar die politieke werklikheid kry hierdie keer minder klem.
Iets wat ontaard, sê die WAT, “ontwikkel in ‘n ongewenste rigting” of “[gaan] agteruit of verword, veral op morele gebied”. In hierdie bundel moet “ontaard” ook konkreter verstaan word: as dit wat losgemaak word of loskom van die aarde (maar uiteindelik daarheen terugkeer, soos in die slotgedig). Die konkrete aarde, grond, die natuur, die verlies van die aarde, is kernbemoeienisse van die bundel. Aardebewus, ekologies bewus wees, is ʼn sterk tendens in ʼn hele rits van die gedigte, van die eerste gedig af al.
Hierdie gedig, “riviermond” (9-10), beklemtoon veral die ontmoeting en die “saamvloei van sout en vars” in die tussenruimte van ʼn riviermond. Daarmee identifiseer die spreker hom sterk. Hy beklemtoon trouens in die res van die gedig dat bloed saamgevloei het uit die uiteenlopende wêrelde van Europa en Afrika, van baas en slaaf in die voorgeslag van die Odendaals aan die Kaap. Die identifikasie met die saamvloei wat in die slot herhaal word, kry sodoende ʼn nuwe, groter trefkrag. Die gedig vergestalt as’t ware die saamvloei van water en bloed in die onstuimige riviermond maar ook in die mond van die geskiedenis en in die lyf van die digter.
Die riviermond is ʼn tussenruimte “waar riviere see soek en golwe grond”. En dalk is die digter se mond ook so ʼn tussenruimte waar mens en natuur, literatuur, biologie en geskiedenis saamvloei; waarin biologiese afstamming en literêre afstamming saamwerk.
Aarde, water, lug en vuur
Die voorblad dui reeds die ekologiese tema aan. Dit lyk soos ʼn diepblou oog met ʼn gitswart pupil, omring deur veelkleurige hare of grasse. Dit kan ʼn oog of ʼn blom wees, of dalk ʼn patroon in die Noorderligte. Dit illustreer in ieder geval die vervlegting van mens en natuur wat so belangrik is in die bundel. Dit staar die leser dalk ook ʼn bietjie beskuldigend aan – seker dan oor sy ekologiese agtelosigheid.
Daar is gedigte oor al vier die klassieke elemente aarde, water, lug en vuur in die bundel. Aarde is sterk aanwesig, ook letterlik as grond, bv. in die rooi grond wat die karakter in “bainsvlei, mangaung” (11) oor die klip-Bybel op sy oupa se graf stort en waaruit ʼn hergeboorte en ʼn nuwe bewussyn van afstamming spruit, al is die relasie met die pa problematies. Hoe problematies dit is, blyk uit “grondkoop”. Aan die begin lyk die gedig idillies, soos uitgedruk met treffende alliterasie en afwisseling van klinkers:
Ons bly op ʼn plot
vol hadidas en hase
tamaties, aarbeie en uie
Die goor werklikheid blyk egter gou. Die gedig aktiveer ook die figuurlike betekenis van “grond koop”, nl. “val”, “neerslaan”. Die pa oorleef daardie ongeluk wel. Eers laat in die bundel is daar sprake van ʼn soort versoening met die pa. Die gedig “die sorgvryste droom in jare oor pa” (64) eindig met ʼn visioen waarin voëls “soos ʼn kweer kwilt” om pa en seun land en “hul vlerke saam[vou] soos tuiskoms”.
Die gedig “tweeling” (13) getuig van ʼn intieme identifikasie met ‘n (verbeelde) tweeling, wat veral met waterbeelde uitgedruk word: “jou mond lê in my ek het jou ingedrink/die oorvloed en ons dna en elkeen/ van jou waterasems…”. Die verbeelde tweeling praat saam in die mond van die digter. Hy of sy is “die elders in my wat my wakkerhou/ om hierdie woorde te skryf” en ook “die skuld in my”, maar ook die een saam met wie hy “rivieraf huis toe [dryf]”.
Hieruit blyk reeds dat “water” een van die sleutelwoorde van die bundel is – veral stromende water, in verskillende situasies. Tipies van die toonaard van die bundel is bv. die beginstrofe van “stroom” (24):
dalk was dit ʼn middag soos dié
ná bergreën reeds die vilkanota
met fantasieë van die see gevoer het
toe hy sy maag vol water sluk
In hierdie gedig verbeel die spreker hom die middag waarop “jou oupagrootjie” in die Vilkanota, ʼn bekende rivier in Peru, ingestap het. Hy spekuleer oor die redes daarvoor en opper ten slotte die moontlikheid dat dit was “om die son met sy hande/ in die blinde stroom te vang”. Daarmee druk hy ʼn ekstatiese toestand uit, of dalk ʼn desperate poging om te ontsnap.
Water suiwer, maar kan ook vernietig, soos blyk uit die tweestemmige gedig, “drink/tsoenami” (32). Uit die verbeeldingryke beeld “die water is ʼn monnik in die bad” ontwikkel die digter ʼn visioen van ʼn tsoenami wat ʼn sterk suiwerende en vernuwende uitwerking het:
hy kom om ons harte te ontwater
hy spoel ons plastiekharsings skoon
gee ons tonge swaar en silwer terug (kursivering in die teks)
Die tsoenami kan ook beeld van seksuele ekstase wees.
Die sterk assosiasie van water en mond kom teen die einde ook na vore in die “watermond” waarmee die fontein “die aarde se binnegoed uit[spoel]” en “grond en hemel oorbrug” (“fontein”, 65). Hy is kennelik ʼn teenhanger van die digter se watermond.
“Waterasems” in “tweeling” is een van die talle plekke waar water en asem met mekaar verbind word. Asem verbind as’t ware ook met aarde en vuur, en saam met die son en die maan druk dit die elementale aard van die bundel uit. Soms is die son hard, “wraaklustig”, soos in “stook” (40-41), wat beweeg van “vuurmure”, die “oopskiet” van xileem, “die getjank en skor die gebreek en gejou” van sterwende plante en diere en uitloop op: “ons asem dooies/ in en uit”. Selfs die water is vol as, maar die son bly ongenaakbaar en “weier/ vir ʼn fok/om te huil”.
“ode aan lug” (66) is ʼn ode aan “die epies onsigbare” wat “alles moontlik [maak]”. Vuur word in die bundel geassosieer met Mars en vernietiging, maar kry as beeld van passie ʼn nuwe gedaante as “n vlugtige pakkie vuurhoutjies” (“LION”, 53). Die verlange na ʼn ander word verder uitgespeel in ʼn verbeelde vuur.
Verlange en gemis
Die gemis aan ʼn afwesige ander is in gedig na gedig ʼn belangrike dryfveer van die bundel. Dit raak aan ʼn ander betekenis van ontaard, nl. die letterlike verlies aan aarde, grond of tuiste. Die eerste motto voorin noem dit “solastalgie” en omskryf dit as “die meelewing van planetêre verlies, van ontwrigting, van homesick in jou eie huis wees”.
Die tweede motto, ʼn aanhaling uit Kabza de Small se liedjie “Abelele” (“Hulle slaap”) onderstreep dit:
When the water in the house comes down, it breaks down the mountain
Let’s get back together and forget the old things
I said I miss you, I really miss you
(Vertaling deur Afrikalyrics – https://afrikalyrics.com/kabza-de-small-abalele-translation.)
Hierdie verlies word nie net op planetêre skaal uitgespeel nie. Dit word ook fyn gesuggereer in persoonlike verhoudings. Gebrek aan intimiteit, misverstand en kortstondigheid is tipies daarvan. Die wissel van die pynlike ervarings van ʼn tiener in “scenes from a gay childhood” (16) tot by ʼn soort harde, aangeplakte kweer-identiteit in “escape. ethekwini” (49-50).
Die intimiteit is in “LDR” (51) tegelyk naby en so ver “as wat ons later op aparte kontinente sal wees”. In “die wêreld is wyd en vol verlange” (52) rou die spreker oor talle dinge, maar ook “oor jou, chiquito, wat presies so ver weg/ soos die afstand tussen nag en dag van my af bly”. Die klein seuntjie, die geliefde, is onmeetlik ver.
Die verlange neem in “dis lente, jy’s op pad” (55) konkrete gestalte aan in die natuur. Die erdwurms smag na asem, “jou afwesigheid groei my toe/ soos katteklou teen die agterheining”. Die spreker wag soos ʼn kind op ʼn Sondag vir ʼn roomyskarretjie – wag in ʼn pragtige beeld “vir die smeltende somer van jou mond”. Dit is een van die vindingryke beelde waarmee verlange in die laaste klompie gedigte in die bundel uitgedruk word.
In “as ek opstaan voor ek sterf”(57) loop die intieme meelewing met die natuur, met die “asemgeur van die grond ná die nag se reën”, in die slotreëls uit op ʼn jukstaposisie van dood en intimiteit: “en my skelet by die hitte/ van jou vel ontdooi”.
Dit is ʼn gedagte wat ook in “iep” (31-2) na vore kom: aan die einde lê die tuingereedskap waarmee die spreker die boom uitgehaal het, “koud en onskuldig … om die gat waarin [hy] perfek kan pas”. Hierdie soort begeerte om terug te keer na die grond as tuiste blyk ook uit “anderkant” (21) waarin ʼn mynhoop verlang “na ʼn onderaardse tuiste/anderkant ontginning”. Die verlange na integrasie kontrasteer met ander gedigte waarin integrasie juis deur besoedeling verhinder word, bv. in “honeymoon” (60-61) waarin die besoedeling uiteindelik deur alles dring en die persoonlike ook ontwrig.
Hierdie idee word nog sterker uitgedruk in “wintersonstilstand” (44), waar die “nanofyn stowwe … styg/ en daal in dodelike reëlmaat in die dynserige lug tussen ons”. In “vlokkies” (45) word beskryf hoe “olieprodukte en PFAS sif deur al wat leef”, die liggaam self “beset” en uiteindelik “giftige sampioene [verwek] in die uithoeke van jou lyf”. Die gedig is ʼn onthutsende uitbeelding van die effek van PFAS, ʼn akroniem vir per- en polifluoroalkyl-verbindings wat o.a. gebruik word in kleefvrye kookgerei en vermoedelik menslike ontwikkeling en voortplanting kan beïnvloed en die skildklier, die immuniteitsisteem en die lewer kan aantas.
Post-kolonialiteit
Hoe besoedeling die liggaam koloniseer is ʼn eggo van kolonisasie, die besetting van grond, waarop ʼn hele paar gedigte kritiese kommentaar lewer, veral “the greatest hunt in history” (22) waarin “prins Alfred, die snuiter” aangespreek word in die sardoniese woorde waarmee S. E. K. Mqhayi (1875-1945), die voorste pryssanger van sy tyd, in 1925 die Prins van Wallis begroet het tydens sy propagandatoer na Suid-Afrika.
Ook die uitskelgedig, “die oorvol heuwels om Makhanda” (35-39), is postkoloniaal van aard. “Makana”, lui dit, “jy’s ‘n slagveld van biome en mense/ ʼn grensdorp tussen reënvalstreke/ waar karoo en kus, veld en woud/ soos koloniste om uitspanplek veg”. Van die verlede wat oorvol was van diere en van groepe verplaaste mense het eintlik net ʼn “verstikkende mis” oorgebly. Hierdie bewus-wees van die verskillende lae van die geskiedenis manifesteer in die bundel in besinnings oor afstamming, die bewussyn van die voorouers (“nagbesoek”, 34). Dit manifesteer ook in die inmeng van verskillende tale en wêrelde, moderne woorde soos “wifi”, “freelance”, “app”, “message”, woorde uit Spaans en Xhosa; woorde uit Australië, Suid-Afrika en Peru.
“reiniging” (62), wat ʼn tradisionele reiniging beskryf in Afrikaans gemeng met Engels en Xhosa, is by uitstek ʼn hibriede gedig wat uitloop op ʼn nuwe “ondeurgrondelike wêreld”. Dit is die soort reiniging wat ook die kern uitmaak van Droomwerk.
Slotsom
In die slotgedig, “die een se dood” (67), val die ont- van ontaard weg. Die gedig skets ʼn proses van waardeur die spreker volkome deel word van die natuur, opgeneem raak in die biosfeer. Hy begin “volkome te aard”. Hy word aarde.
Vir my is Odendaal se tweede bundel strakker, minder anekdoties en intenser as die eerste. Dit is ewe verbeeldingryk, veral in die meevoerende beelde waarmee die verlange uitgedruk word. Dit is ook elementaal. Dit skets as’t ware ʼn groot sisteem waarin aarde, water lug en vuur, son en maan oor drie kontinente en ʼn verskeidenheid situasies heen saampraat en deel aan ʼn groot verlange. Dit is helder maar modern en hibried van taal, al is die digter se taal ook meestal keurig Afrikaans. Dit toon ʼn fyn sensibiliteit vir menslike verhoudings in verskillende skakerings. Dit is kortom ʼn ryk en waardevolle bydrae tot die Afrikaanse poësie.
Hein Viljoen
Noordwes-Universiteit