Resensie: In die rede geval: Waarom die mens mites maak deur Charl-Pierre Naudé. Naledi, 2023.
Resensent: Marlies Taljard
Charl-Pierre Naudé se boek In die rede geval is gebaseer op sy PhD-proefskrif in Filosofie aan die Universiteit van die Vrystaat. In dié proefskrif ondersoek die skrywer die vernaamste redes waarom die mens mites maak. Die studie is gebaseer op die werk van die Duitse filosoof Hans Blumenberg (1920 – 1996), en betrek veral sy bekende werk Arbeit am Mythos (1979). Naudé se proefskrif is aangepas vir die leser wat nie in Filosofie spesialiseer nie, maar vereis nietemin die vermoë om abstrak en teoreties te dink – dit is nie ʼn boek vir Jan en Alleman nie. Vir diegene wat in literêre tekste belangstel en veral in die basisvorme van die literatuur, is In die rede geval egter ʼn boek wat beslis op die boekrak hoort.
My bedoeling is nie om die betrokke werk as filosofiese handleiding of selfs in besonderhede te resenseer nie, maar slegs om enkele opmerkings te maak oor hoe Naudé se insigte die studie van die Letterkunde kan verryk.
Blumenberg postuleer dat die oermens aan ʼn katastrofiese skriksituasie (p.48-9) moes blootgestel wees om ʼn bepaalde ontwikkeling te ondergaan (om dít te word wat as “die mens” bekendstaan). Dit sou ʼn situasie gewees het waarin die oermens totaal uitgelewer was en in ʼn staat van abjekte vrees geleef het vir ‘n ongedefinieerde onbekende/Onbekende. Dit sou byvoorbeeld kon behels dat hy[i] uit ʼn geborge woudtuiste skielik in die ooptes van ʼn savanne moes leer leef: ʼn horison het hy nie geken nie en wat daaragter lê was onbekend, onbegryplik en vreesaanjaend. Hy het geleer om op sy agterbene te staan om verder te sien en het maniere bedink om die vrees te minimaliseer of te verwerk. Deur denkbeelde te skep wat die vrees vir die onbekende kleiner sou maak (soos Naudé dit stel), kon hy homself van die direkte impak van die angs distansieer. Hy verwag die ergste, maar bly op uitkoms hoop (p.49). Hierdie hoop is die basisbestanddeel van mitewerking, as mens Blumenberg (en hier dan Naudé) reg interpreteer:
Deur “vorm” aan sy angs te gee, soos sê maar, om te glo dat ontberings plaasvind weens die woede van ʼn aggressiewe godheid, kon die mens ʼn greep op die situasie verkry. In hierdie primordiale daad – ʼn daad van die denke – word die eerste gevalle van funksionaliteit, metaforisering en reokkupasie … aangetref (Naudé, p.50).
Die mite is in wese ʼn godeverhaal – André Jolles (in Einfache Formen, 1930) definieer dit ook as die antwoord op ʼn eksistensiële vraag. Vormgewing aan die vormloosheid kom neer op metafoorskepping en die mite is altyd ʼn metafoor van dit waarop die mens hoop en dit wat hy van sy gode verwag. In die bestaan van die mens is daar altyd die gevaarlike realiteit teenóór die veilige ruimte van wensdenkery. Naudé haal ter illustrasie die epos Raka van NP van Wyk Louw aan om die opponerende pole van chaos en “goedheid” uit te beeld. Uit hierdie epos word dit duidelik dat mythos en logos in die “werklikheid” in simbiose met mekaar bestaan. Dit is ook interessant hoedat die skrywer aantoon dat die mite, sonder dat die mitevormers daarvan bewus is, uit die rede ontstaan, én omgekeerd – vir die volledige argument moet die leser maar die boek koop. Mitevorming kom basies daarop neer dat daar immer nuwe gode ontstaan namate die mens se behoeftes verander. Die skrywer toon aan hoedat die algoeie God van die Nuwe Testament uit die onbetrokke, bose gode van die Grieke en Romeine ontstaan het:
Prometheus is ʼn mite oor die redding van die mens deur ʼn god wat teen die heersende gode in opstand kom, en dit word telkens in die geskiedenis oorgeskryf in nuwe weergawes … (Naudé, p.32)
In die nuwe weergawes word die mens se toenemende behoefte aan koestering deur sy gode (god/God) ingeskryf namate hy al hoe meer behoefte het aan gode of ʼn god/God wat met die lotgevalle van die mens bemoeienis maak, soos om Sy enigste Seun as offer vir die mens se sonde te gee. Ten spyte van die goedheid van die gode, bly hulle egter gode – in die monoteïsme sal ons hier in die enkelvoud praat; ek hou maar eenvoudigheidshalwe by die meervoud. Die gode sal die mense ter wille wees máár op hulle voorwaardes: as die mens hulle goedgunstigheid begeer, moet hy optree téén sy menslike wese – dus die gode se verordeninge onderhou. Anders sou hulle nie gode wees nie. So kan ʼn mens ook in die Letterkunde steeds die hoop van die mens aflees deur die subtiele veranderinge wat die Prometheus-mite ondergaan het en te let op die eis van die moderne gode. Die basiese argument van die studie is dat mites ontstaan omdat die mens voortdurend op soek is na ander gode of die ander God.
Nog ʼn mite wat voortdurend herskryf word, is die Odusseus-verhaal en die held se swerftog om uiteindelik sy tuiste, Ithaka, te bereik, net om gekonfronteer te word met die vele minnaars wat in sy afwesigheid by sy huis ingetrek het. Dit is onmoontlik om te bepaal hoeveel gedaanteverwisselings en (moderne) herskrywings dié verhaal reeds ondergaan het. Ook hier het ons met ʼn mite van hoop en begeerte te make. Die korrekte term is natuurlik “reokkupasie”: nuwe verwagtinge vervang steeds die uitgediende verwagtinge, maar die basismite bly staan.
Nog ʼn interessante argument wat Naudé in diepte bespreek, is hoe teorie uit mite ontstaan, hoe moderne wetenskaplike diskoers dikwels op mites (hipoteses) gegrond is en hoe mites uiteindelik agterhaalbare feite word. Naudé bespreek M.C. Escher se bekende ets “Sky and water” om hierdie patroon te illustreer. Hierdie is ʼn ingewikkelde debat wat nie hier in besonderhede bespreek kan word nie, maar waarvan wetenskaplikes en literatore baie beslis moet kennis neem.
Ek wil terugkom na die bestaan van die mite as ʼn “projek van hoop” soos dit in Hoofstuk 4 bespreek word (Naudé, p.129):
Een swakheid van tradisionele teorieë oor mites is dat dit geneig is om mite as behorend tot vervloë tye te sien, en dat mite in die hedendaagse tyd slegs studie waardig is in sover letterkunde en kuns daarvan gebruik maak. Mite is helaas ʼn konstante aanwesigheid op alle vlakke van die samelewing, in later kulture ook, al is dit ook die vroegste vorm van denke. Mitewerking word eintlik net sterker soos die tyd aanstap en dit vind voortdurend nuwe vorme, omdat dit behoeftes bevredig wat nié deur teoretiese kennis gevul kan word nie.
Interessant is dat die poësie een van die vroegste vorme is waarin die vrees en die hoop op verlossing opgeteken is:
Poësie is deel van die bolwerk van die mens se beskerming teen die skrik … en dien as bewys dat die skrik verteerbaar gemaak is tydens die kalmte wat nodig was om digkuns daarvan te maak (Naudé, p.133, 134).
Mite is by uitnemendheid (soos die poësie) die modus wat dít kan uitdruk wat nie rasioneel beredeneer kan word nie, en wel dikwels nog lank voordat die mens op konkrete vlak daarvan bewus word. As sodanig is die mite dikwels die voorloper van teorie.
Hierdie insigte wat ʼn ondersoek na Blumenberg se filosofie bied, is myns insiens die basis van Naudé se studie. Vir die literatuurstudie is die voorbeelde wat die skrywer uit die Suid-Afrikaanse én die wêreldletterkunde aanhaal, een van die belangrikste aspekte van die werk. So verwys hy byvoorbeeld na Bob Dylan en Etienne Leroux as eietydse gevalle van outeurspostuur en mitewerking in aksie. Hy haal talryke eie gedigte en gedigte van ander digters aan ter illustrasie van sy argument. ʼn Resensie is nie die aangewese plek om op diepgaande wyse op die hele boek in te gaan nie. In die rede geval is ʼn boek wat indringend gelees en herlees behoort te word. Dit is ʼn boek wat vir literatuurwetenskaplikes insig in die argetipiese model van verhaalskepping en die dieper, universele onderlae van literêre werke gee.
Natuurlik is die boek nie sonder sy foute nie. Ek het enkele ongemakke raakgesien, soos die gebruik van Afrikaanse woorde in blokhakies binne Engelse aanhalings, die Umlaut wat in een of twee gevalle verkeerdelik op ʼn Duitse vokaal geplaas is … Dit doen nie afbreuk aan ʼn uiters verdienstelike publikasie nie. Ek beveel hierdie boek aan vir alle letterkundiges én vir alle ander belangstellendes in literatuurfilosofie en verhaalkunde.
[i] “Hy” impliseer sowel die manlike as die vroulike mens.
Graag bedank ek die resensent vir ‘n behendige inleidende blik op my boek, “In die rede geval” en die handvatsel hiermee verskaf vir ‘n benadering daarvan vanuit die letterkundige studieveld.