Metamorfies
In my vorige lewe was ek die sot
wat op die straathoek bedel, staan:
sy bloedbelope oë vir altyd gerig
op die vlyende ander tyd
van die rizzlas en die rush –
In ʼn vorige lewe was ek die sot
wat met wit Mercedes-Benz
ander reisigers uitkryt
vir ʼn altyd-alewige oponthoud
soos hy die vinnige baan
met besoedelende status beleër.
In ʼn vorige lewe was ek die sot
uitvoerende gesag, ʼn president
wat bevele bombardeer:
hospitale wat kinders huisves
en ambulanse wat vroue karwei
platmaak met die woestyn se sand
om die euwel van terrorisme uit te roei,
óf dalk eerder om die land
wat sy grense te danke het
aan ʼn VN vergadering-proklamasie
van Darwiesj se vlugtelinge-volk
te reinig, dalk te ‘bevry’?
In ʼn vorige lewe was ek die sot
wat die seun van God
vir ʼn hand vol silwer sikkels
gekus het
om te wieg
aan selfdoodtou –
Die sotlike leeu in ʼn gramadoela-oerwoed,
die komieklike keiserpikkewyn wat waggelloop
na ʼn êrens, sirkels in die sneeu se ewig sirkelgang –
ʼn miskruier wat bolletjies rol
en vir drawwertjies se tekkies koes.
Die sot wat een môre wakkerword
in sy katel as reuse kakkerlak –
wat God prys met hart en mond
want sý gebede is wel volbring
in die volheid van tyd –
Dié karnallies
is – helaas – mos goed bestand
teen kernkragbestraling,
en ʼn hiernamaals
van al-tyd se herhaling.
© Bester Meyer, 2023
Remember that the AVBOB Poetry Competition reopened on 1 August 2023. Visit our website regularly at https://www.avbobpoetry.co.za/ for editing tips and advice as well as updates about upcoming workshops.