Rumi: Liefdesverse en aanhalings
Uitgesoek en vertaal deur Dietloff van der Berg
Naledi, 2023
Jalāl al-Dīn Rūmī (1207–1273) se werke is al eeue lank in die Midde-Ooste die gewildste digkuns. Dit het sedert die 1960’s in Engelse vertalings ’n geweldige aanklank by lesers gevind en is steeds die topverkoper van alle digkuns in Amerika. Sy wêreldwye invloed is so groot dat UNESCO 2007 as die Rumi-jaar verklaar het ter herdenking van die 800ste jaar van sy geboorte.
Rumi was nie slegs ‘n filosoof, mistikus, regsgeleerde en digter nie, maar iemand met diepgaande insig in die aard van die menslike bestaan en waarskynlik die grootste mistieke digter van alle tye. Hy was veral ’n voorstander van verdraagsaamheid, rede en toegang tot kennis deur liefde. Sy bekendste werk is die Mathnawí wat met reg beskou kan word as die grootste geestelike meesterstuk deur ’n mens geskryf. Die inhoud dek die volle spektrum van lewe op aarde. Sy weergawe van die aardse liefde as volledige aflê van die “ek” en oorgawe aan en opgaan in die ander, is ‘n afspieëling van die hiernamaalse hereniging van die siel met God. Dit is die naaste wat ons hier en nou aan daardie perfekte toestand kan kom.
In teenstelling met die kommersialisering van Rumi se werk in Engels deur Coleman Barks wat wegbeweeg het van die bronteks en dit in Amerikaanse vrye vers omgesit het sodat Rumi as ’n soort New Age digter gesien is, is hierdie Afrikaanse vertaling op grond van brontaalkenners se vertalings oorwegend geskool op die bronteks se paarrym en 11 lettergrepige versreëls.
Oor die outeur
Rumi was ʼn Persiese digter wat beskou word as die Midde-Oosterse Shakespeare. Net sy Mathnawí bevat meer as 25 000 pare verse wat omvangryker is as die Ilias en Odusseia saam. Dit word ook die ‘Persiese Koran‘ genoem. Sy ander beroemde digwerk is die Dīwān-e Shams-e Tabrizi, ’n samestelling van liriese gedigte veral in Farsi, die Persiese taal van sy tyd. Dit bevat meer as 40,000 verse en oor die 3,000 ghaselle opgedra aan sy geheimsinnige leermeester Shams. Hoewel dit die lang tradisie van Soefi-digkuns navolg, vertoon die gedigte in die Dīwān-e Rumi se unieke transdansagtige digstyl. Sy ander bekende werk wat hy teen die einde van sy lewe geskryf het, Fīhi mā fīhi, is filosofiese gesprekke in prosa.
Oor die vertaler
Dietloff van der Berg het 40 jaar lank Letterkunde en Vertaalkunde doseer na grade aan Stellenbosch, Rhodes en Natal. Hy het ’n keur uit Izak de Vries se verhale as Rites of the Ox vir Brevitas Uitgewers vertaal en is al 40 jaar lank ’n beëdigde vertaler. Verskeie van sy artikels oor vertaling is in vaktydskrifte gepubliseer. Na sy uittrede as professor het hy hom die afgelope tien jaar toegespits op die vertaal van mistieke digkuns. Van sy gedigte is in verskeie tydskrifte en op Versindaba gepubliseer. Hy het ook boeke oor letterkunde en taalonderrig geskryf en vir meer as 20 jaar Die Skrywerskring vir skeppende skryfwerk in Pietermaritzburg gelei.