Ek wil duiwe hoor
Ek wil duiwe hoor met die heengaan:
duiwe sal bly woel en koenkel
sodat hulle nie agter raak nie
met my weggaan.
Terwyl ek hulle hoor
sal daar nie ‘n afgrond wees nie –
ook die plaas se populierbos
hou nie water nie:
‘n skilpaddop van ‘n brug
gegiet oor ‘n ry konkas
laat die water onderdeur vloei
sonder ‘n tyd om te swig,
suig alle geluide in.
See kant toe sal die water kabbel
en die duiwe sal ander woorde vind
op die onbeduide pad terug
© Pirow Bekker, 2023