heilige reis
(vir tt cloete)
ons het vertrek en noord gereis, ek, die groot digter en god
op die grootpad by roossenekal en steelpoort deur
het ek, dief, van ‘n boheemse toneel gesteel
‘n wasdag, helderkleurige vroue, gebukkend oor skottels
en klere wat in die wind wapper hier het god,
die groot skilder, sy laaste verf uitgemors
die aalwyne teen die klippe is asemrowend mooi
olieverf rooi die bloekoms is blou, soos die see,
merk die groot digter op en in die verte
word ‘n laning turksvye ‘n ry grafstene
ohrigstad lydenburg uiteindelik,
op dullstroom vind ek die digter, meesterlik geboek
en god se landskap verruklik
forelstroom, waterverf op doek
© Nicolaas Geldenhuys, 2023