fait accompli
die dood het geduldig gewag
agter die branders in stilbaai
binne ‘n sekondêre virus in icu
en by ‘n kruising in die karoo
die dood het geduldig gewag
langs ‘n lamppaal in langestraat
in die klik van ‘n leë asmapomp
en op die afdraaipad na delmas
werner, waar het die dood vir jou gewag?
dalk in die vaalrivier by riverton
op die brug net buite barkly-wes
of in ‘n enkelkamer by ‘n tehuis?
in augustus het jy egter besluit
jou geduld is op:
jy het die dood probeer verras
in die lapa langs die kombuis
© Jacques Boshoff, 2023