Baie dankie aan al die digters wat gedigte voorgelê het vir moontlike opname in die nuwe Versindaba-bundel wat hopelik teen die einde van 2024 sal verskyn. Ons het so baie gedigte ontvang dat ons onmoontlik almal kon plaas. Hieronder is ʼn seleksie van tien gedigte waarmee ons die nuwe jaar inlei – willekeurig gekies in geen spesifieke volgorde van belangrikheid nie.
Anne-Marie Bartie
ou jaar
ek kap die stompe van hierdie óújaar op
offer dit op die brandstapel van dít wat wás
terwyl die nuwe jaar oor die karoo vlaktes
bladadig deur warrelwinde op die suidsee afrol
vanaand sal ek vir eers vashou aan die dónker
die diftong vir oulaas met pienk gin aanmaak
indeksopname neem van die moméntum
l’chaim maak, twaalf maande áfbránd
en wanneer die koets om middernag verbykom
sal ek die laaste van die ou ás by die rotse begrawe
saam met al die vórige tye se as
môre se eerste kalenderskemer
sal gùl, oopbek, met vrolike metonieme
in rooi sonneblomme oopbreek
‘n sjofar sal die danksegging basuin
die brood wit en vars breek gebreek word
en ek sal n vlekkie bloed
uit die nuwe dag se glasie drink
só sal die drié-eenheid
van genade, geloof en hóóp
sal soos fỳnsand stadig
in die bewende bakkiehand
van my dánkbaarheid se uurglas inloop
© Anne-Marie Bartie
31 Desember 2023
l’chaim- Hebreeus vir Cheers
*
Leunis van Rooyen
onsigbaar
kruisbeen hef bedelaar
met hol oogkaste sy hande bak
omhoog om aalmoese
van blinde mense.
© Leunis van Rooyen, 2023
*
gisters
twee portretrame met bleikbruin verfink foto’s in
halflig teen ʼn muur in ʼn vreemd verlate vertrek laat
uit die album van vele gisters ʼn herkenning huiwer
van haas vergete geheue-dryfgoed transponeer
sepia heimwee uit stuifsand van die tyd transendeer
herinnering vlugtig bo sintels stof
Leunis van Rooyen, 2023
*
Annora Eksteen
Stilte
dit lê in die spanning
tussen die onuitgespreekte
en die geskryfde sinne
ek weet dit is in al ons kuns
in oorlogkano’s en in ons strewe
na vrede in gehardheid
dit is in ‘n natuurvriendeliker bestaan
en dit is in ons wete dat ons mag haat
mag bewaar
dit is in liefdesbewussyn
in begeerte en harmonie
in sterk kritiek en dit lê
in aanvaarding
© Annora Eksteen, 2023
*
Rina Bester
die reënvoël roep
die reënvoël onsigbaar in die mis kabbel uit sy keel
my hart moet hou my hart moet hou oor
sy nou woon tussen die sterre tula tula hou dit my heel
tula tula sug sy tussen die sterre en hou my heel
as dit misreën op ʼn gewone dag en
die reënvoël onsigbaar in die mis kabbel uit sy keel
weet ek hierdie wêreld was vir haar te veel
en word alles natter in misreën wat saggies saggies om my val
sy woon nou tussen die sterre tula tula hou dit my heel
stil stil soebat ek my mensehart en ek steel
ʼn stukkie troos as die son deurbreek en
die reënvoël onsigbaar in die mis kabbel uit sy keel
ek peins met my pen op papier woorde sonder keer
verbaas – is dit die reën wat ink kolle maak? kyk op
sy woon nou tussen die sterre tula tula hou dit my heel
al die woorde is uit my uit geskryf die papier vergeel
op ʼn gewone dag sal dit dalk net reën en
die reënvoël onsigbaar in die mis kabbel uit sy keel
sy woon nou tussen die sterre tula tula hou dit my heel
© Rina Bester, 2023
*
teelaarde
die triplets slaap by my
word sowaar junie maand al twee
die oudste met my nuwe bybie oppie bank
hy drink bottel
sy weet hoe
handig die kind sy is tien
die een wat vyf is
het die welsyn gevat
en dit oor
ʼn klap
© Rina Bester, 2023
*
Hennie Maartens
2024
wêreldgebeure het die balans versteur
deur oorloë word grense verteer
en eksistensie is in geding
net neksus kan dit verdring
© Hennie Maartens, 2024
*
Margaret Cordier
jare lê skulpe
teen hoog-
en laagwater
verslyt
so mettertyd
tot sand
in die glas
van ewigheid
© Margaret Cordier
*
Nicolaas Geldenhuys
smelt
by renosterkop
smelt die dam
en bome saam
‘n saterdag
vol stof
en wolke stol
veraf blou
hier is klip
teen die kant
en ‘n vaal akkedis
vroegdag
stoom op die water
pers oor die gras
groen wind geel blare
van gogh se mooiste skildery
© Nicolaas Geldenhuys, 2023
*
ekfrase I
(whiter shade of pale & bob seger by vure oor ‘n dam)
krieke in ‘n loom nag
die aarde draai na die maan se witter lig
en gaan musiek
helder waterwit
teen klippe af
bob seger sing
oor ‘n nagdam se vure
bring karavane vol herinnering terug
in ‘n stadige teug na jou
op ‘n groen tafeldoek
gesprei oor die gras
‘n donkerrooi roos wat sprakeloos laat
‘n soen, vakansie waatlemoen
ekstase
© Nicolaas Geldenhuys, 2023