
I
Die digkuns in alle tale werk met konvensies (implisiet of eksplisiet). Hierop wys ‘n teoretikus soos Umberto Eco in sy studies oor die letterkunde. Klassieke verwysings (verhuld of openlik) moet deur die speurende leser ontdek word. Roland Barthes het eweneens analises gemaak oor klassieke tekste soos oor Racine.
Reinaard die vos is ‘n vrye vertaling van die klassieke teks Van den vos Reynaerde deur die digter H.J. Pieterse. Behalwe vir die vertalersnota, is daar ‘n skerpsinnige inleiding deur C.H.F. Ohlhoff, afgetrede professor aan die Universiteit van Pretoria.
Die werk is in deur ene Willem geskryf ongeveer in 1250. “Reinaard is ’n diere-epos waarin op satiriese, parodiërende wyse die spot gedryf word met die hoofse samelewing sowel as met gewone dorpenaars en antropomorfiese dierefigure”, verneem ons van die uitgewer. En ons Jakkals- en wolfstories is deur hierdie teks beïnvloed. (Kyk maar na 1080 op bladsy 95 en die uitnodiging aan die gas.)
Middelnederlandse letterkunde was deel van my studiejare aan die Universiteit van Stellenbosch met dosente wat hierdie tekste kon oopmaak en selfs Goties geken het. Ons dink hier aan figure soos wyle W.E.G. Louw, Meyer de Villiers én Henning Snyman. Huizinga se beroemde studie oor die Middeleeue was verpligte leesstof.
D.J. Opperman se digkuns is onder andere sterk beïnvloed deur hierdie tradisie soos in “Vloervelletjie” en in sy Brandaan-reeks. Ook in Komas uit ‘n bamboesstok is daar verwysings na die Middelnederlandse tydvak. Veral die skrywer en teoretikus Umberto Eco het in sy romans en teoretiese besinnings die Middeleeue vir lesers oopgemaak.
Ongeveer die jaar 500 tot 1500 n.C. – tussen die Oudheid en die Renaissance. Die Middeleeue was beslis nie ‘n donker tyd nie. ‘n Tyd waarin daar vele reise tussen tekste en tale gebeur het.
II
Ons sal telkens stilstaan by Heinrich Ohlhoff se rigtingwysers.
Die verhaal van die vos is alom bekend. Die ongewilde roofdier en sy leuenagtige taal. Die meester van dubbelspraak. (Ironie is uiteraard ook dubbelspraak.)
Ohlhoff wys tereg daarop dat hy ‘n dubbelsinnige en dus ambivalente figuur is: wreed, verdorwe en vals; terselfdertyd imponerend, fassinerend en simpatiewekkend (11). Van uiterse belang is die Willem se kennis van die topoi oftewel die konvensies van die tyd. Die sogenaamde Natureingang, locus amoenus, locus terribilis en die gebruik van die kringvormige struktuur. Ook die parodie is van belang in hierdie teks.
In hierdie verhaal word die slagoffers in ‘n strik gelei. Daar is ook twee vorme van bieg hier: die private een teenoor Grimbeert en die openbare bieg. Só word die toehoorder dus gemanipuleer tussen twee waarhede. Die toehoorders was indertyd bekend met hofgebruike en wat dit alles impliseer. (Net soos wat lesers van Shakespeare die konvensies van die tyd moet ken. En wanneer daar vrye vlugte is, dan raak kritici ongemaklik. Kyk byvoorbeeld na die reaksies op Germaine Greer se Shakespeare’s Wife in 2007).
Die satiriese aspek van die Reinaard-teks is verdoesel deur die gebruik van die dierefabel en dus word direkte en lasterlike vingerwysings verdoesel (26).
Ohlhoff wys ook op die verskillende manuskripte wat bestaan. Nie minder as vyf handskrifte is bewaar nie en Pieterse se vertaling is gebaseer op die Comburgse een (27). In Afrikaans is ons veral bekend met Eitemal se Reinaard, die jakkals uit 1981. (Ek ken nie De Jong se selfpublikasie nie.)
In die Middeleeue is tekste voorgelees of voorgedra, omdat relatief min mense kon lees (26).
Ook die aanraking met die Islamitiese denke het die tekste van Aristoteles en Griekse wetenskaplikes oopgemaak. Die sogenaamde Skolastiek in die twaalfde eeu (die versoening van Bybelse en Aristoteliaanse denke) waaroor kenners skryf, is tersaaklik.
Ook die verandering van Latyn na Middelnederlands (soos Brabants en Vlaams) is belangrik (35).
Die sogenaamde “volkstaal” teenoor die kultuurtaal van die tyd, te wete Frans. (Ons dink hier aan Roman de Renart).
Gesprekke tussen tekste en die feodale sisteem, riddertekste, die adelstand …
Die Franse rewolusie het dit alles vernietig in 1789.
Ohlhoff ontleed eweneens die maatskaplike stelsels onderliggend aan hierdie vertelling soos die leenstelsel, ridderlikheid en hoofsheid. Veral vir hierdie leser was sy analise van die regspleging in die teks van besondere belang. Volgens hom stem die juridiese passasies in die teks ooreen met die reg in die werklikheid. Die sogenaamde 7 doodsondes word ondersoek: afguns, gierigheid, hoogmoed, luiheid, vraatsug, wellus en woede. Teenoor die 7 deugde wat lynreg hierteenoor staan: barmhartigheid, milddadigheid, nederigheid, ywer, matigheid, reinheid en sagmoedigheid.
In Jeroen Bosch se Tuin van aardse luste (1450 – 1516) word dit konkreet vergestalt: die sonde en die effek van die sonde.
Hierdie leser was uitermate geïmponeer met die verwysings na belangrike bakentekste (ons dink hier aan Chaucer se The Canterbury Tales en die Lambdins se studies). Daar bestaan ook moderne analises soos J.F. Stander se MA oor letterkunde en die reg in 2018, waarin die SA reg ook betrek word in 2018. Ook die sinvolle artikel in 2022 van Nerina Bosman saam met Stander oor die transformasie van hierdie teks in Tydskrif vir letterkunde.
III
Die vertaler Pieterse erken dat hy tydens grendeltyd met hierdie monnikewerk begin het. Hy het in Lawrence Venuti, die vertaalteoretikus, se terme eerder besluit om die teks te vervreem en die leser oorsee te stuur.
Wat ‘n heerlike vertaling is dit nie. Met verklarende voetnote wat die leser op ‘n roete neem na ánder tekste en konvensies.
Ook die naamdig (akrostigon) teenoor die mesostigon (naamdig waarin die vertikale frase reëls van ‘n horisontale teks sny) en die telestigon (naamdig waarin die eindletter van bo na onder gelees kan word). Bladsy 179 wys op die spel.
Ons lees dan ook weer Baudolino (2000) van Umberto Eco. En oor Middeleeuse volksgelowe (soos om aan die linkerkant verby te gaan, op slegte geluk dui) en die tonsuur (die skeer van die kop by priesters). Of die abelkwak (welsprekende) en Ogerne (O graag). Ons leer waar radbraak vandaan kom en die aarswind. En hoe verminkte Latyn ingespan is in die teks.
Hierdie uitsonderlike boek bewys Umberto Eco en Terry Eagleton se siening as waar: ons leer altyd meer van tekste as wat ons besef.
En ons onthou Eco se opmerking toe ‘n jong joernalis hom gevra het of hy al die boeke in sy biblioteek gelees het.
Pieterse dra die vertaling op aan alle lesers van Afrikaans. Veral hierdie leser was meegesleur deur die heerlike, speelse vertaling:
Toe het hy die koning aangekyk.
Die oorvloedige, geveinsde trane
het langs sy snorbaard afgeloop in bane
asof hy diep sielsbedroef was
en sy hart in ‘n vreeslike groef was. (163)
IV
Om te dig, beteken dat jy die lang tradisie van jou taal moet verstaan (en erken).
(Word vervolg).
Joan Hambidge
15 Januarie 2023
Bronne:
Eco, Umberto. 1986. Art and Beauty in the Middle Ages. New Haven: Yale University Press.
Greer, Germaine. 2007. Shakespeare’s Wife. Londen: Bloomsbury.
Huizinga, Johan. 1919. Herfsttij der Middeleeuwen.
Vertaal deur Diane Webb as Autumntide of the Middle Ages. Leiden: Leiden University Press.
Pieterse, H.J. 2023. Reinaard die vos. Pretoria: Protea.
