I
In 2010 bied ek die Dana Mouton-gedenklesing aan op Stellenbosch wat hier te lese is:
http://joanhambidge.blogspot.com/search?q=ingrid+jonker Besoek 2 Februarie 2024
Sopas verskyn daar Die papie roer en ek word digter met ‘n inleiding deur Louise Viljoen.
Die leser vind in een band Jonker se Ontvlugting, Rook en oker en Kantelson.
Viljoen het in 2012 ‘n bondige biografie vir Jacana oor haar geskryf. Hier is die inhoudsopgawe:
- Writing Ingrid Jonker
2. Childhood and youth, 1933–1951
3. Early adulthood, marriage and motherhood, 1952–1958
4. Separation, divorce and a new relationship, 1959–1962
5. Prize-winning poet, 1963–1964
6. Last days, 1965
7. Afterlife
Oor Jonker is daar waarskynlik meer gedigte en palinodes geskryf as oor enige ander digter in Afrikaans. En telkemale studies en biografieë. (Kyk na die kort bronnelys.)
So dig Johann de Lange oor haar in Wordende naak:
Ingrid Jonker (1933 – 1965)
Wie het Ingrid Jonker vermoor?
Ek, sê die somber see,
ek wat neem en gee.
Ek het Ingrid Jonker vermoor.
Wie het haar sien sterf?
Ek, sê die suiwer maan,
daar’s niks wat my ontgaan.
Ek het haar sien sterf.
Wie sal die sluier maak?
Ek, sê die minnaar,
om die skyn te bewaar.
Ek sal haar sluier maak.
Wie sal die graf betaal?
Ons, sê die familie trots
– met haar naam in rots –
ons sal die graf betaal.
Wie sal die kis dra?
Ek, antwoord die koerant,
op voorblaaie dwarsdeur die land
sal ek die kis dra.
Wie sal die klok lui?
Ek, sê die suster; weet
ek is afgunstig op haar leed.
Ek sal die klok lui;
Wie sal vir haar sing?
Ek, sê die ongebore kind,
sodat sy my kan vind
sal ek vir haar sing.
Wie sal haar dood betreur?
Ons wat haar gepubliseer het
en verdere winste verbeur het,
ons sal haar dood betreur.
Wie sal haar bloed trek?
Ek, sê die skrywer,
uit hebsug en naywer
sal ek haar bloed trek.
Wie sal eerste vergeet?
Ek, sê die bleek papier,
my tyd is korter hier.
Ek sal eerste vergeet.
Hierdie gedig gee al die sleutels tot die verwikkelde kwessies in haar lewe en digkuns.
II
Johan van Wyk se doktorale studie (onder leiding van A.P. Brink) behels die mees indringende psigoanalitiese kommentaar op haar lewe en digwerk: Die dood, die minnaar en die Oedipale struktuur in die Ingrid Jonker-teks.
Die gedig as grafskrif, argumenteer Van Wyk. Die gedigte saamgesnoer tussen geboorte en dood. Die gedig as wond was die titel van ‘n kursus wat hierdie leser aangebied het oor Jonker, Sylvia Plath en Anne Sexton in my doseerjare aan die Universiteit van Kaapstad (1992 – 2022).
Digters wat jy nie kan los lees van hul tragiese lewens of biografie nie. Tog terselfdertyd: al drie beduidende digters wat ‘n fokus op die digkuns opeis.
III
Viljoen is bekend met al die mites en troebelhede róndom hierdie figuur. Sy wys op die digters wat al gedigte oor haar geskryf het en hoe die gedig “Die kind” ‘n soort snelskrif geword het waarop digters hul eie onrus kon uitspreek oor die lot van alle kinders (26).
Haar politieke betrokkenheid kry ook nie altyd genoeg erkenning nie (32); waarskynlik juis vanweë die verhouding met Brink (meen hierdie leser) en haar tragiese dood.
Wat hierdie inleiding besonders maak, is die klem op haar vakmanskap, die spel met onthulling en verhulling én die lees van die gedigte wat nie ‘n enkellynige representasie van die werklikheid is nie. Soos Viljoen skryf: ”Daar is dus genoeg aanduidings in Jonker se klein oeuvre dat sy ‘n digter was wat nie suiwer impulsief en intuïtief te werk gegaan het nie, maar selfbewus omgegaan het met die maak van poësie”(15).
Dit is volgens hierdie leser die lot van die vrouedigter wat uitgelewer is aan ‘n man wat ná haar dood die tekste moet redigeer (ons dink ook hier aan Ted Hughes en Sylvia Plath). Hierdie kwessie sou ‘n verdere feministiese ondersoek kon inspireer. Plath is immers al sterk beskou deur Janet Malcolm en Anne Stevenson.
IV
In die reeds genoemde Dana Mouton-gedenklesing staan daar opgeteken:
Waarheen neem die digkuns ons? Na die oerteks wat skuilhou in die verbeelde dimensie (Jonker) met die digter wat daarop reageer in die simboliese fase (De Lange). Wie is Jokaste? Wie is Oedipus? Wie is Laius? Dit is egter nie ‘n stabiele verhouding nie, weet ons uit Jacques Lacan en Harold Bloom se lesings: die rolle ruil voortdurend.
As die Lorelei, is Jonker in die Reële. Roepend, uitlokkend. Altyd daar.
En Louise Viljoen verwys in ‘n voetnoot op bladsy 62 (“Met klei en kryt …”) na Van Wyk se studie waar die woord vreetangs as ‘n doelbewuste vervorming van die woord froetang kan dui op “die objek van begeerte [wat] lei tot ‘n honger. (Vreetangs aktiveer die Lacaniaanse siening van “eating your Dasein”.)
In die lykdig “Ingrid Jonker (1933 – 1965)” volg De Lange die struktuur van die kinderrympie “Who killed Cock Robin?” om op ‘n retoriese wyse die vraag te vra oor wie presies het Jonker doodgemaak. Tog bly sy lewend deur studies en gedigte (palinodes en pastiches) wat ‘n kaleidoskopiese blik op haar digkuns gee.
As kenner van die melancholie (o.a. in haar analise van Olga Kirsch) wys Louise Viljoen op die donker ondertoon in haar gedigte.
Die hart as ‘n droë blaar by Kirsch en die papierkombers van die poësie by Jonker.
Die papie roer … ‘n titel wat eweneens dui op transformasie in haar digkuns. In ‘n skryffout, skryf hierdie leser “die papier roer”; bepaald ‘n Freudiaanse glips.
Hierdie studie laat die leser ook nadink: indien sy nog geleef het, hoe sou haar verse nou daar uitgesien het? Dieselfde geld Sylvia Plath en Anne Sexton.
Joan Hambidge
2 Februarie 2024
Bronne:
Brink, André P. & Krog, Antjie. 2007. Black Butterflies. Kaapstad: Human & Rousseau.
De Lange, Johann. 1990. Wordende naak. Pretoria: Haum-Literêr.
Galloway, Francis (red.) 2015. Vlam in die sneeu: Die liefdesbriewe van Andre P. Brink & Ingrid Jonker. Kaapstad: Umuzi.
Jonker, Ingrid. 2024. Die papie roer en ek word digter. Pretoria: Protea.
Malcolm, Janet. 1993. The Silent Woman. Londen: Papermac.
Metelerkamp, Petrovna. 2003. Ingrid Jonker – Beeld van ‘n digterslewe. Hermanus: Uitgewery Hemel & see.
Stevenson, Anne. 1989. Bitter Fame: A Life of Sylvia Plath. New York: Houghton Miflin.
Van Wyk, Johan. 1987. Die dood, die minnaar en die Oedipale struktuur in die Ingrid Jonker-teks. Rhodes: PhD.
Viljoen, Louise.2012. Ingrid Jonker. Kaapstad: Jacana.
– 2014.“Die hart ’n droë blaar”: Verlies, rou en melancholie in Olga Kirsch se Afrikaanse poësie / “The heart a dry leaf”: Loss, Mourning and Melancholia in Olga Kirsch’s Afrikaans Poetry. https://sciendo.com/it/article/10.2478/werk-2014-0011?content-tab=references Besoek 2 Februarie 2024