Versoening
dat hulle vir Stompie
se moeder wou vertel
die kaal verrotte lyf
wat sy begrawe het
nie haar kind was nie
dat jy jou misgis
oor die geboortevlekke se plekke,
mevrou,
soos die mistastings
van ʼn moeder in Gasa
asof ʼn moeder nie haar kind se voetjies
onder ʼn puinhoop
(of enige pyn hoop)
sal kan uitken nie
“alreeds,” sê sy,
“stink hierdie dag na sterf(te)likheid”
vanaf Rafah tot by Kiev
spalk ons essensie
aan ons hommeltuigverspieders vas
om vir ons antwoorde
terug te bring
oor nou juis hoekom
die maan rondhuppel
met die donkerman
van hierdie nuwewêreld(s)dilemma
en alhoewel die mens
die hommeltuigafstandbeheer
in eietydse kloutjie hou
is hóóp om – selfs nou – ʼn koortjie
met Tutu se historiese woorde te bou:
“Ons is álmal
God se kinders –
swart of wit …”
(jood of arabier
(koningskind of bandiet –)
ʼn laksmanstoel of martelaarsgraf
almal slagoffers onder ʼn pikswart son
God het lank reeds terug
die donkerman
in Sy wip van lig
gevang
© Bester Meyer, 2024