Beste lede en vriende van PEN Afrikaans
Dit is ons eerste nuusbrief van 2024 en ons wens almal dus graag ’n voorspoedige nuwe jaar toe. Dit beloof om ’n besige jaar vir PEN Afrikaans te wees. Ons sien uit daarna om in komende nuusbriewe meer oor ons projekte te vertel.
PEN dit neer: Aansoeke vir skrywersresidensie ingewag
Die Jakes Gerwel Stigting, PEN Afrikaans en PEN South Africa wag tans aansoeke in vir die PEN dit neer–residensieprogram wat ten doel het om vir skrywers onverstoorde skryftyd in KwaNojoli (Somerset-Oos) in die Oos-Kaap te bied.
Die suksesvolle kandidate sal gehuisves word in Paulet Huis, die Stigting se skrywershuis, van 6 tot 26 Mei 2024.
Hierdie skrywers kan uitsien na die inspirasie en genot van ’n lowerryke tuin, ’n sjarmante dorpie, die rus en stilte van die omgewing en die samesyn van medeskrywers.
As jy belangstel in hierdie opwindende residensie, is die vorms vir aanlyn aansoeke hier beskikbaar.
Jou aansoek moet die volgende insluit:
- Motiveringsbrief
- Duidelike uiteensetting van skryfprojek
- Voorbeelde van huidige en vorige werk
- Let wel: ’n Brief van ’n uitgewer wat daarin belangstel om jou werk te publiseer, sal sterk in jou guns tel.
Vereistes en belangrike datums:
- Beskikbaar vir beide opkomende en gevestigde skrywers.
- Slegs opbetaalde PEN-lede kom in aanmerking vir hierdie residensie. Om ’n lid te word, kontak PEN Afrikaans se bestuurder, Catrina Wessels, by penafrikaans@gmail.com.
- Sluitingsdatum: 16 Februarie 2024
- Aankondiging van suksesvolle kandidate: 5 April 2024
- Kandidate moet reeds met inskrywing bevestig dat hy/sy beskikbaar is vir die residensieperiode: 6 tot 26 Mei 2024
Die skryfprogram sluit in:
- Nasionale retoerkaartjies na Gqeberha (Port Elizabeth), indien nodig
- Vervoer tussen die lughawe en KwaNojoli (Somerset-Oos)
- ’n Gerieflike, eie “room with a view”
- Die Stigting se inwonende sjef se heerlike maaltye
- Skoonmaakdienste
- Onbeperkte toegang tot die internet
- Genoeg spasie vir skryf in jou kamer, stil hoekies in die huis en die tuin
- Geleentheid om sonder die onderbreking van beurtkrag te skryf
Die kuns van vertaling: Kobus Geldenhuys
Vertaling maak wêrelde aan lesers oop – van kinderboeke, fiksie, digkuns tot niefiksie. Die waarde van ’n vertaling lê in die vertaler se vermoë om ’n teks aan die doelteksleser oor te dra sodat dit moeiteloos en met die grootste plesier gelees kan word. Dit is daarom belangriker as ooit om die waarde van vertaling te erken en te vier, en wat is beter as om met die kunstenaars van vertaling te gesels. PEN Afrikaans doen in 2024 ’n reeks onderhoude met vertalers van verskillende genres om meer van hulle liefde vir dié kuns te hoor. Die onderhoudreeks skop af met Kobus Geldenhuys, bekroonde kinderboekvertaler.
Klik hier om dit te lees.
Die Korf: Geleenthede vir Suid-Afrikaanse skrywers
Ons sluit graag by hierdie nuusbrief inligting oor die Jakes Gerwel Stigting se webruimte, Die Korf, in. Hierdie ruimte dien as ’n bymekaarkomplek vir skrywers, sowel as ’n sentrale platform om inligting oor plaaslike en internasionale geleenthede vir Suid-Afrikaanse skrywers te bekom. Hulle skryf:
“As jy op soek is na gretige werkbye (oftewel talentvolle skrywers) om deel te neem aan ’n nuwe projek of by ’n geleentheid op te tree, is dit die regte plek om te kyk. Jy kan al ons skrywers in die sentrale fotogalery sien en van daar af hul biografiese inligting en kontakbesonderhede kry.
Vir diegene wat op soek is na stuifmeel, is al die skrywersgeleenthede volgens hul sperdatums gelys. Dit is ook verdeel in die volgende onderafdelings: kompetisies; beurse en toelae; navorsingsgeleenthede; literêre toekennings; publikasies; skrywersverblyf; en werkswinkels en seminare. […]
Die korf is nog klein, maar sal uiteindelik ’n hele kolonie bye en die hulpbronne vir skryfsukses huisves. Indien daar enige inligting oor geleenthede is wat jy graag wil hê ons moet plaas, stuur dit asseblief vir die koninginby by info@jgf.org.za.”
Die Korf kan by die volgende skakel besoek word: https://jgf.org.za/hive/.
Fakture vir ledegeld en welkom aan nuwe lede
Fakture vir 2024 se ledegeld sal hierdie maand uitgestuur word. Die bedrag, wat van belasting aftrekbaar is, bly R300.00. Ons doen ’n beroep op jou om weer vanjaar by ons aan te sluit en, as jy nog nie ’n lid is nie, om een te word. Dit sluit lidmaatskap van PEN International in. Die aansoekvorm is hier beskikbaar.
Op daardie noot sê ons hartlik welkom aan die volgende lede wat sedert ons vorige nuusbrief by ons aangesluit het:
Beaula Goliat
Elzana October
Henque Heymans
Karen Martin
Lizahn Cloete
Logan Adams
Lukas Kruger
Suné Mostert
Willa Boezak
Willem Anker
Maandelikse resensie-oorsig
Klik hier vir ons oorsig van Afrikaanse resensies wat in Januarie 2024 verskyn het en digitaal beskikbaar is. Hierdie oorsig sluit boekbesprekings, boekgesprekke en voorlesings in wat op die radio of TV uitgesaai is.
Indien jy weet van ander gerekende publikasies wat ook Afrikaanse resensies en boekgesprekke plaas en dit digitaal beskikbaar maak, laat weet asseblief na penafrikaans@gmail.com.
Ons wil graag elke maandelikse oorsig so volledig moontlik maak.
Sien gerus ook hier Desember 2023 se resensie-oorsig.
Nuwe Afrikaanse boeke in Januarie en Februarie 2024
Baie geluk aan ons lede wat in Januarie en Februarie nuwe boeke op die rakke het. Die publikasielyste kan hier in Excel-formaat afgelaai word.
Dit sluit in: nuwe boeke deur Malene Breytenbach, Elsa Winckler, Tosca de Villiers, Fanie Viljoen, sowel as Alwyn Roux se debuutdigbundel en die boek waaraan Gaireyah Fredericks verlede jaar as deel van die Jakes Gerwel Stigting en PEN-skrywersresidensie gewerk het, Een voet innie kabr. Hartlik geluk aan almal.
Ten slotte:
- Op 29 Februarie vind daar die eerste van ’n beoogde reeks Skrywersaande by De Oude Leeskamer in Stellenbosch plaas. By hierdie geleentheid sal Jonathan Amid met Michiel Heyns en SJ Naudé in gesprek tree. Klik hier vir meer inligting.
- Sedert ons vorige nuusbrief is ’n interdik toegestaan teen twee oortreders van Media24 se outeursreg. Die bestuur van PEN Afrikaans verwelkom hierdie hofbeslissing en hoop dit stuur ’n duidelike waarskuwingsboodskap aan diegene wat boeke, koerante en tydskrifte onregmatig versprei.
- Rudie van Rensburg het ons vrae beantwoord vir die someruitgawe van Taalgenoot, die een waarop Marita van der Vyver pryk. Klik hier om die tydskrif aanlyn te lees.
- In die e-posweergawe van ons vorige nuusbrief is verkeerdelik gemeld dat daar vier suksesvolle aansoeke by die PEN Afrikaans Vertaalfonds was. Daar was in werklikheid vyf. Ons is bly om te bevestig dat die Nederlandse vertaling van Die getuienis deur Francois Smith ook deur die Vertaalfonds ondersteun sal word. Die bygewerkte aankondiging is hier beskikbaar.
Vriendelike groete
Catrina Wessels
Bestuurder: PEN Afrikaans