Gebroke-hart-sindroom
(met hulp van TS Eliot)
My denke boer navrant in oopgekloofde
gisters belaai met fel Desember-pyn
die doodsverlies-belewenis ewig stollend
vasgep(l)ak en koppig in my brein
so, Thomas, ek wou by jou raad kom vra
oor die denkbeelde wat my so knaend pla
maar nou sien ek jy’s ook maar een
wat skepties aanmekaar só sug deur murg en been:
die barre geel wind uit ’n okerrooi woestyn
het kom rugskuur teen my deurkosyn
sy snoet besnuffel al my vensterruite
en sy tong belek sluitstene buite
hy neurie-snik al suisend en besing
die waterpoele om die drein dan spring
hy slinks oor kru terrasse soos ’n aap
huil droewig om die hoeke van my huis
en, met skoorsteenroet as keilpluis,
sanik hy sy patos uit en hou my uit die slaap
in die loodgrou stad staan skimmelwinde op
lamenteer om kolonnades, rommelhoop apartemente
sluip oor vuil plaveisels en kom klop
aan my voordeur vir die doodsnood-rente
toe ek sy krabbelgang dáár hoor het ek geweet
dat hy soos kanker aan my fondament sal vreet.
Maar mý gewete wil gevleuelde
ontsnappingstogte neem
om hulp te soek weg
van misère betreurings en geteem:
sal serafyne my dalk help?
Werk hulle kranig met my mee
om in geloof die infernale angs
’n crux-de-grace-hou te kan gee?
Of sou ons dan die ganse heelal gaan verstoor?
Ek veronderstel en neem besluite,
resolusies, maar steeds bly stoor
herroepte visioene en hersienings
my en ek vra weer oor en oor:
moet ek dan (volgens jou)
die opgerookte stompies van my dae
-emmersvol somber seer refleksies-
in vol-gevulde koffielepels meet?
Sou geen verbi divini minister
dan beter raad kon weet
of sal ek nou vir ewig
in verlatenheid veronderstel
dat ek moet deurdruk
deur die hartpynhel?
Dink jy, Thomas, dit help as mens kan glo
in ’n tableux vivant van Michelangelo?
© Meyer van Rensburg, 2024