Venesië in die sand, 2015
VirFranco Colin
Verbeel jou êrens in die Eufraat-vallei
sanddeinings soos golwe en kamele
wat dorstig om ’n oase vasmeer. Verbeel jou
hierdie handelspos as Venesië in die sand:
die kolonnades en palmlanings van Palmyra
waar bleskop-ibisse in modder waad, handelaars
hul ware op matte uitpak en die dralende geur
van damaspruime en soethouttee. Hier is welvaart
uitbundig geskep en besing waar die opsiener,
Khaled al-Asaad, reeds dekades lank
al die kosbaarhede bewaar, tot dáárdie dag
toe ISIS toeslaan, die ou man as godloënaar
veroordeel, hom publiek onthoof
en van ’n pilaar laat hang.
© Eunice Basson, 2024