Annette Snyckers is in Bloemfontein gebore en het vanaf haar elfde jaar in Pretoria grootgeword waar sy aan die Afrikaanse Hoër Meisieskool matrikuleer en kunsklasse neem by die bekende kunstenaar Walter Battiss. Sy behaal haar BA-graad aan die Universiteit van Pretoria met hoofvakke Frans en Engels. Later studeer sy deur Unisa se Departement van Visuele Kuns en bring drie maande deur by die Cité Internationale des Arts in Parys, Frankryk. Sy gee taalonderrig by verskeie hoërskole en doen steeds vertaalwerk. Sy woon sedert 1997 in Kaapstad.
Haar liefde vir tale en vir die visuele kuns is diep verbonde aan mekaar en derhalwe verdeel sy haar tyd tussen skilder en die skryf van gedigte in beide Engels en Afrikaans.
Vanaf 2010 begin sy op aandrang van Finuala Dowling, die Engelse digter, gedigte in literêre tydskrifte publiseer. Haar gedigte is in verskeie versamelings opgeneem.
Haar debuutbundel Remnants Restante Reste (Modjaji Books 2018) bevat gedigte in drie tale – Afrikaans, Engels en Duits.
Haar inspirasie vir beide haar kuns en haar skryfwerk kom hoofsaaklik uit die natuur en haar visuele belewenisse en herinneringe.
[Nota van die Versindaba redaksie: Ons wil graag nuwe en ou digters aanmoedig om vir ons opgedateerde profiele aan te stuur na taljard.marlies@gmail.com
Van ‘n digter wat al een of meer solo-bundels by ‘n erkende uitgewer gepubliseer het, versoek ons die volgende:
-
-
- ‘n Redelik onlangse foto in JPG-formaat
- ‘n Lys van publikasies (ook die belangrikste nie-poëtiese publikasies)
- ‘n Kort lewenskets wat inligting bevat oor o.a. waar en wanneer jy gebore is en grootgeword het, waar jy studeer het, watter beroep jy beoefen of waarmee jy jou tans besig hou, waar jy op die oomblik woon, ens.
- Enige ander interessante feite oor jou
-
Skryf asseblief die profiel in narratiewe vorm en nie as ‘n reeks feite ondermekaar nie, ten einde dit meer lesersvriendelik te maak.
Indien jy bereid is om ‘n profiel te skryf oor ‘n gestorwe digter, laat weet my asseblief by taljard.marlies@gmail.com]