I
Die kwessie van die pleonasme (van die Grieks: pleon is meer; pleonasmós) moet in die digkuns vermy word. Dit beteken oorvloed of oordaad. Die digkuns werk met suggestie.
Hier is enkele voorbeelde van ‘n pleonasme:
Rooi bloed, wit sneeu, ronde sirkel, ‘n skatryk biljoenêr, mank gaan aan gebreke, algehele monopolie, mediese arts, absolute volmaaktheid …
Die Stellenbosse taalkundige, wyle Johan Combrink het die verskil tussen die pleonasme en toutologie soos volg gedefinieer:
‘n Pleonasme handel oor ‘n woordgroep, waarvan die lede één betekenis twee keer uitdruk. ‘n Toutologie handel oor ‘n samegestelde woord, waarvan die dele één betekenis twee keer uitdruk.
https://archive.ph/20140926131002/http://152.111.1.87/argief/berigte/dieburger/1997/02/03/9/24.html
Besoek 17 Februarie 2024
Nou is dit wel só dat digters ook mag spot en terg met so ‘n oortreding, soos Christopher Tye dan doen.
Pleonasm
Prolonging this poem far too much I think,
Lots of words to say so little and look so much,
Enormous effort and work to convey not very much,
Overrunning my deadline and stretching things too far,
Never knowing when to finish my work,
A pleonastic nature conveyed in this poem,
So I made an eight line acrostic poem to stretch things out,
Many words loosing meaning and purpose just to look clever.
(Christopher Tye)
https://www.poemhunter.com/poem/pleonasm/ Besoek 17 Februarie 2024
‘n Baie slim gedig wat speel met die akrostiese gedig, te wete waar die letter aan die begin en aan die einde gebruik word om ‘n woord te skep. Hier gebruik Christopher Tye die woord pleonasm aan die begin van elke versreël en maak daarvan ‘n gedig.
II
Woordoortolligheid. Woordvrate. Woordoorvloed.
Tog is daar digters wat ten spyte van hierdie reël, gedigte skryf wat oorvloedig is. Maar: ‘n digter moet eers die reël ken, alvorens dit “oortree” of “gebreek” kan word.
In Afrikaans is die digter Peter Blum ‘n digter wat met ‘n woordvloed begin, maar tog die gedig netjies in beheer hou.
Kyk wat doen hy in die klassieke “Rooinekke op Hermanus” se slotstrofe:
O gestilde
sinnebeeldvoëls, simboolvlerke, jul pryk
teen sononder, klaar met dool, enkel embleem
van hierdie seksie onwilde, ongewilde
vasgemeerde, aarde-agterhaalde ryks-
arende, pensioentrekkers op ou roem,
wat koel staan teenoor óns rumoer, kil-vreemd
-nie aanvoel wat óns bedoel, in ons woel:
hartstog-verleerde, wrok-onbegrypende
sege-moeg, effens geaffronteerde
see-afkykers, agterland-afgekeerdes
wat hoegenaamd niks nie brandelik begeer.
Blum was dwars. Op sy blog Kaapse paragrawe skryf Johann de Lange die volgende:
Reeds met sy debuut, Steenbok tot poolsee, het hy nie altyd saamgestem met voorstelle wat die keurder, D. J. Opperman, gemaak het nie. In ’n brief aan sy uitgewer laat hy hom skerp oor die keursverslag uit: “Woorde soos “onwegbaar” en “Antarktiek” het tot dusver nie bestaan nie; maar van nou af bestaan hulle wel.”
Maar Blum was selde in sy gedigte dwars sommer net om dwars te wees. Hy het deeglik gewerk & diep nagedink oor die betekenis van woorde. Sy kennis van, & natuurlike aanleg vir tale het hom ideaal hiervoor toegerus. Wanneer Opperman dus beswaar aanteken teen die gebruik van “dool” in die vers “Rooinekke op Hermanus” is Blum gereed met ’n verdediging van sy keuse:
“’n Woord soos “dool” klink miskien digterlik, maar ek het dit opsetlik gebruik om ’n verskil van “dwaal” aan te dui. ’n Dwaalspoor veronderstel immers ’n regte spoor, maar vir oertydse nomades bestaan daar geen ander leefwyse as om rond te trek nie, d.w.s. om te dool. Ek dool so deur die wêreld, meneer, maar ek is nie in ’n dwaal nie. My woordgebruik kan ek oor die algemeen verdedig.”
By tye is hy bereid om toe te gee wanneer dit nie wesentlik die betekenis van die vers raak nie, maar meer om konvensie gaan: “Ek is ook gewillig om die koppeltekens in woorde soos “bed-toe” deur te haal, maar dis darem nie my skuld dat die Akademie spellings uitgee soos Dior modes nie.”
http://johanndelange.blogspot.com/2012/06/peter-blum-die-kranksinnige.html Besoek 18 Februarie 2024
Die leser kan dus in hierdie aangehaalde verse sien hoe hy speel met implikasie. En natuurlik sou hy presies geweet het wat ‘n pleonasme behels. Oor Blum se enorme taalkennis en vindingrykheid sal ons by ‘n volgende geleentheid verder gaan.
Joan Hambidge
19 Februarie 2024
Bronne:
Blum, Peter. 1955. Steenbok tot Poolsee. Kaapstad: Nasionale Boekhandel, Bpk.
- Briewe van Peter Blum. Ingelei deur J. C. Kannemeyer. Hermanus: Hemel & See Boeke.
Kannemeyer, J.C.1993. Wat het geword van Peter Blum? Kaapstad: Tafelberg Uitgewers.
