Dis die diepte wat tel
A-simmetries
met ’n onreëlmatige grens
dis Stadium 4 as die diameter
groter as ’n potlood se punt is
(dus 6 mm of meer).
Hierdie melanoom is
die Heks van Endor
tussen al die ander moesies.
Haar lang vingernael is soos
’n spyker in sy rug ingeslaan.
Dié dodebesweeder het hom
na Bloksberg verwens.
Dis Walpurgisnag.
Die wêreld se hekse
vier saam fees en hy
sit wit geskrik in hulle midde
tussen die duiwel
en die diep blou see.
Die dood lê voor sy deur.
Na chirurgie kry hy die uitslag:
“Meneer, jou dik laag vet
het jou net-net
van indringing in jou bloedstroom
en limfknope gered.”
© Marthé McLoud, 2024