I
In sy 1917 essay “Art as a technique” het die Russiese Formaliste die konsep van ostranenie gemunt. Die verhouding tussen teorie en praktyk (literatuurwetenskap en digkuns) is kompleks. Digters teer bewustelik óf onbewustelik op die teoretiese beginsels van die tyd. En sekere digters word gelukkig deur ‘n kritikus of teoretikus vir lesers “oopgemaak”. A.P. Grové en Opperman; Rena Pretorius en Van Wyk Louw; Louise Viljoen en Krog; Marilet Sienaert en Breytenbach; Hambidge en De Lange. Die lys is eindeloos. In die VSA het John Crowe Ransom (ook digter), Allen Tate en Robert Penn Warren die fokus na die gedig verskuif. Veral Robert Lowell, Anthony Hecht, James Wright, o.a. het baat gevind by John Crowe Ransom se lesings.
II
Ostranenie of vervreemding is die kenmerk van ‘n groot digter. Om ons nuut na die wêreld te laat kyk deur gedig as taalsisteem. Die glansende kiemsel, soos dit al tipeer is deur Vestdijk.
Digters verdwyn nie. Hulle keer terug. Amper soos ‘n verlore dokument of boek wat jy op ‘n dag weer vind. Afgegly agter of tussen ander boeke in.
So ‘n figuur is die digter Peter Blum. Die aweregse, dwarse, bitsige, humoristiese, briljante man. Opperman epigone het hy “moerassekwakers” genoem.
Kannemeyer tipeer hom kortliks soos volg:
Peter Emil Julius Blum, gebore uit Duits-Joodse ouers in Triëst op 4 Mei 1925, maak as kind in Duitsland en Switserland reeds kennis met verskillende tale (Duits, Engels, Frans en Italiaans) wat hy met mindere of meerdere mate van gemak beheer. In 1937, op twaalfjarige leeftyd, kom hy na Suid-Afrika, gaan in Durban en Johannesburg skool, studeer aan die Universiteite van Stellenbosch en Kaapstad, en is in die vyftigerjare ‘n tyd lank werksaam as bibliotekaris op Kroonstad. In 1960 verlaat hy weer Suid-Afrika en vestig hy hom in Engeland. Vir sy bundel Steenbok tot poolsee ontvang hy in 1956 die Reina Prinsen Geerligs-prys.
https://www.dbnl.org/tekst/kann003gesk02_01/kann003gesk02_01_0008.php Besoek 24 Februarie 2024
Ons gaan nie fokus op sy verhouding met Ina Rousseau nie; eerder kyk na die kwessie van vervreemding in sy digkuns. Rousseau het immers ontroerende gedigte oor hierdie steppewolf geskryf. Vir verdere kwessies gaan kyk na die huldigingsbundel oor Rousseau, saamgestel deur Daniel Hugo:
http://joanhambidge.blogspot.com/2024/01/resensie-daniel-hugo-red-ina-rousseau-n.html Besoek 25 Februarie 2024
Nou is dit so, soos Johann de Lange tereg uitwys, dat die kritici Blum gekritiseer het oor die gebruik van sogenaamde “vreemde woorde”:
Sy eksperimentele drif om die uitdrukkingsvermoë van Afrikaans te verruim & al fyner betekenisnuanses te skep, lei dan ook dat hy in Enklaves van die lig die spel op die spits dryf, iets wat hom in botsing met sy vriend & mentor D. J. Opperman sou bring.
J. du P. Scholtz was die keurder & hy het voorbehoude gehad wat betref die gebruik van neologismes & vermeende Germanismes in die gedigte, voorbehoudes wat D.J. Opperman gedeel het. Beide was van die opinie dat die bundel nie op dieselfde hoë standaard van die debuut was nie, & sommige verse ook “gevaarlike” stof bevat het. Hulle hoofbeswaar was egter teen Blum se “opsetlike gebruik van woorde wat geen Afrikaans is nie of nie die betekenis of funksie het wat hy in ’n bepaalde verband klaarblyklik daaraan gee nie.”
http://johanndelange.blogspot.com/search?q=peter+blum Besoek 25 Februarie 2024
Al was daar net twee bundels het hy die landskap van Afrikaanse digkuns met sy besondere gedigte verander.
1955. Steenbok tot poolsee
1958. Enklaves van die lig
Die kodes hier is dan vreemde tale, die vreemdeling (buitestander) en bibliotekaris.
III
Man wat mal word
Onbepeilboor die dag, maar die bewoespyn dààr
dat al-lis beslote is en slags ék oop
vir enige skerf nael, skermloos teen die oog
wat drin die werwel noulet, fynynig vaam
tort in die klier. War-om? Alluin ’n kwik haat
het hierdie verstrooide pynpuin in kontrole
nog somgehou. Waarvuur? Maar tussen gus knook
en wrig het die endtwoord in duisdelike taal
eindelig hoopgebron: Wie só uitgedeel
aan die al is, het die al in hom begryp –
en dit ís liefde: kán dus in die greep
van één drong woord kraal wat alle enkelheid
ophef, mág met kloktong die warreld vry, móét preek
wat voldoen om juble te vrymaak: WOKNAKWYF!
*
Die gedig is “fynynig” (fyn gekonstrueer te midde van die pyn en venynig) met stekies na die duister digters van sy tyd? “kloktong” verwys dalk na sy outobiografiese gedig “Klok in die newel”?
Die “duisdelike” taal (duister) en die chaos van die onbewuste word hier taalmatig voorgestel en eindig in ‘n opbreek van taal: WOKNAKWYF!
Dalk wyk/fokof wyf?
Digterlike taal is alreeds ‘n representasie van chaos (of waansin) en hierdie artikel neem ‘n mens op ‘n verdere pad:
https://psycnet.apa.org/record/2023-63865-001 Besoek 25 Februarie 2024
Die “llanguage” met die dubbel l.
Blum was ‘n intens paranoiese figuur en Lacan meen dat dit dui op ‘n aanval van die self op die self.
Tog moes die konserwatiewe, hiërargiese, patriargale sisteem van die Afrikaanse letterkunde hom uitermate vérder onrustig gestem het.
Hierom waarskynlik die elliptiese sintaksis soos Kannemeyer dit tipeer.
Alle bewussyn is pyn …
Joan Hambidge
25 Februarie 2024
Bronne:
Hugo, Daniel (red.) 2023. Ina Rousseau – ‘n huldiging. Gansbaai: Naledi.
Kannemeyer, J.C. oor Blum se tegnieke:
Met die gebruik van die elliptiese sintaksis, wye spanningsboog, parenteses, bysinne en kataloguseffekte, nog verder versterk deur die neologistiese samestellings, teenwoordige deelwoorde in adverbiale en verbale funksie en analogievorme of kontaminasies, maak sy poësie die indruk van ‘n barokke oordaad. Blum se vers neem dikwels die vorm aan van die noukeurige uitwerking van ‘n beeld of ‘n stelling wat die vertrekpunt vir ‘n reeks geteleskopeerde assosiasies of ‘n hiperboliese vergelyking is, terwyl teenstelling, paradoks en kontraswerking veelvuldig as struktuurpatroon by hom voorkom. Naas die beoefening van die kwatryn, sonnet en ballade skryf hy die outobiografies-vertellende gedig en verse van ongelyke strofes en alineas, dikwels met die gebruik van die vraende aanbod, direkte aanspreking en ‘n kwasie-didaktiek wat ‘n ironiese of geestige effek tot gevolg het. Klankmatig vernuwe hy sy vers deur ‘n eie ritmiese swaai wat nader kom aan die spreekritme, ‘n driftige versbeweging wat deur enjambemente voortgestoot word en ‘n verbreking van die ‘gepredestineerdheid’ van die rymwoord en die ritmiese reëlmaat van die talle koepletskrywende Opperman-epigone.
https://www.dbnl.org/tekst/kann003gesk02_01/kann003gesk02_01_0008.php Besoek 24 Februarie 2024
- Geskiedenis van die Afrikaanse literatuur. Band II. Kaapstad: Academica.
Kühn, M.J. 1979. Twee outobiografiese gedigte: “Naggesprek” van W.E.G. Louw en “Die klok in die newel” van Peter Blum. Universiteit van Pretoria.