Epilepsie
Ek sal stadig bykom
die hemel sal bo wees
kant en wal blou en vol
ek swem in my oë terug
dof en stomp en vêraf klink
yl kinderstemme wat speel
en jil onmoontlik skril
gestolde klankgrepe
uit die gille gebreek
val dood uit die lug
staan op en versnel
my ore sal my sinne
inhaal
Waar was ek
is hierdie die regte plek
is hierdie die regte tyd
vir my opstanding
want
iewers in ’n winter het griep
net soos nou
sinusse geblok
gehoor verdof
reuk vervaag
en sig verwater
soos toe
breek die koors
hardloop ek myself stadig in
proe nie meer net hoesstroop
ruik meer as bloekomolie
val my by waar is ek nou
ek gaan dit gewoond word
volgende keer
sal dit die yl stemmetjies
wees wat van vêraf roep
kom terug jy lewe
© Anton Döckel 2024