Marilyn Monroe in pienk en blou
In hierdie foto is Marilyn Monroe
weer Norma Jean:
in ‘n blou katoenrokkie,
herinnerend aan ‘n dirndl,
aan Delft-breekgoed,
huislik, heilsaam, volborstig,
kraakvars soos groente
tussen haar tande talm
‘n bloedpienk angelier –
soos ‘n onskuldige tangodanser
of ‘n hondjie wat die koerant gaan haal het –
hou sy die blom van
Maria se trane,
die verwerping van Diana,
ons eeu se Aphrodite
sonder haar Priapus,
glimlag Marilyn Monroe
in pienk en blou.
© Marieta McGrath, 2024