Brief uit die vreemde
In 1982 versend Samantha Smith,
10 jaar oud, aan Juri Andropof
‘n brief van gelukwensing uit die VSA
tot in die verre Sowjet-Unie:
Laat ons nie oorlog maak nie,
eerder luister na God
se versoek dat ons die aarde
moet deel met vrede vir almal.
Hy beantwoord haar brief;
nooi haar om Artek te besoek,
saam met haar ouers, ‘n kinderkamp
langs die see, waar almal vredig leef glo.
Op 25 Augustus in 1985 sterf sy
en haar vader in ‘n vliegongeluk
in Auburn, Maine toe die Beechcraft 99
teen bome bots, dié dapper klein Becky.
Verewig op ‘n posseël, hierdie kind,
wyl ander wêreldwyd sterf, verdwyn
in Gaza nes hier: roep hulle, uitgelewer
aan die treksprinkane, die kaalvreters …
Alles reeds opgeteken in Joël 2 vers 25
oor die groot leërmagte, terwyl ons pleit:
wyl hoor en voel vergaan; wagtend op ‘n brief,
‘n aanmaning aan die afknypers: horende blind.
© Joan Hambidge