Jan Swanepoel (1951) is in Pretoria gebore en getoë. Hy studeer aan die PU vir CHO en behaal daar sy meestersgraad oor die poësie van Vergilius en sy doktorsgraad oor dié van Catullus. Hy is vir meer as vier en ‘n half dekades aan hierdie universiteit (wat later as die NWU bekend staan) verbonde, eers as student, later as dosent in Latyn en in Regsfilosofie en nog later as dekaan van die Fakulteit Lettere en Wysbegeerte. In 2021 verhuis hy uit Potchefstroom en vestig hy hom in die Suid-Kaap.
Jan Swanepoel skryf van jongs af. In sy studentejare was hy lid en voorsitter van die Studenteskrywerskring. Hy debuteer in 1975 met My Rome brand so mooi, ‘n bundel vol vlam en vuur. Vanweë die klassieke eenvoud en bedwonge ontroering van die gedigte beskou TT Cloete dit as “’n uitsonderlike debuut van die sewentigerjare”. André P Brink skryf dat die digter met wat ‘n mens ‘n nugtere verwondering sou kon noem, na die wêreld kyk: die hede staan nooit in eie reg voor die leser nie.
Die tweede digbundel uit Swanepoel se pen verskyn in 1980 met die titel Wat ver is en naby. Hierdie versversameling word gekenmerk deur paradoks en ironie. Die digter gebruik figure uit die mitologie, die Grieks-Romeinse wêreld en die geskiedenis om iets oor die eietydse Suid-Afrika te sê. Gedigte wat dikwels uit hierdie bundel in bloemlesings opgeneem word, is Kamikaze, Dekreet en Die ganse dag is ene God.
Agt jaar later in 1988 verskyn By wyse van skrywe, ‘n bundel wat oorwegend in ‘n mineurtoon geskryf is en wat deur sintuiglikheid en besinning gekenmerk word. Die bundel vertoon ‘n sterk taalbewustheid. Die vertrekpunt is dat die mens op taal aangewese is. Hy leef as ‘t ware in die mooi droom dat hy die wêreld direk deur sy sintuie kan ken; dat hy presies en direk daaroor kan nadink en dat hy in woorde daarvan besit kan neem. Al skrywende besef die digter dat daar tussen die hom en sy ervaring, tussen hom en sy besinning, die transparante, maar byna ondeurdringbare, sluier van taal hang. In ‘n spel met woorde word die moontlikhede en veral die beperkinge van taal afgetas.
AP Grové se resensie oor hierdie bundel wat in Beeld en Die Burger verskyn het, dra die titel “Spel om die krag van taal te ontsluit”. Aldus Grove gaan dit deurgaans in die bundel oor “hoe om die vervlugtende moment in taal te registreer, die onsegbare te sê.” Alhoewel die digter poog om buite taal te gaan, kan hy tog nie nie sonder taal klaarspeel nie. Wat hier aangetref word, is nie bloot spel ter wille van spel nie, maar ‘n spel for mortal stakes. In sy bespreking fokus Grove veral op die gedigte Vrou, Elegie en Marsman, terwyl hy Anekdoodte en Die kind (2) as die hoogtepunte van die bundel uitsonder. Die beste gedigte in die bundel is volgens hom juis dié waarin die werklikheid hom die sterkste laat geld. Sy slotsom is dat lesers hier met ‘n taalvaardige en belese digter te make het “wat weet waarom dit gaan in die poësie en wat hom, dikwels met pragtige resultate, by wyse van skrywe hou by die reëls van die spel.”
Meer as dertig jaar later laat die digter weer van hom hoor, toe sy vierde bundel die belewenisse van ‘n latinis einde 2022 by Turksvy Publikasies verskyn. In hierdie versversameling met sy elegiese ondertoon neem die digter bestek op van sy lewe. Hy verken, meermale op die spoor van Catullus, sy verhouding met geliefdes en met die land waarin hy woon, ‘n land wat hy haat én liefhet. In hierdie bestekopname klink Bybelse frases uit die Psalms en die Prediker gereeld op en tree die digter in gesprek met onder meer Eugène Marais, C Louis Leipoldt, Toon van den Heever, Van Wyk Louw en Elisabeth Eybers, ook met Willem Kloos, WB Yeats en JC Bloem.
Die goue draad wat aldus Gunther Pakendorf deur die sewe afdelings van hierdie bundel loop, is ‘n besef van die broosheid van die menslike bestaan en van die verganklikheid van die vlees. Daar is deurlopend ‘n afwagting dat die dood vroeër of later met sy slopery gaan begin. Terwyl dit juis die poësie is wat ‘n toevlug teen die aanslae van die lewe bied, klink hierdie troos nogal bedrieglik. Pakendorf toon aan dat die digter se diep persoonlike gevoel van verlies getemper word deurdat hierdie ervarings in ‘n groter konteks geplaas word. Verrassend vind hy terselfdertyd dat daar in hierdie gedigte ‘n volgehoue terughouding ten opsigte van diep emosies is. Die verse wat probeer om die onsegbare te sê, word gekenmerk deur onderbetoning. Volgens die uitgewer versoen die digter in hierdie bundel diepte van emosie met presiesheid van segging.
‘n Vyftiental gedigte uit hierdie versversameling kan gehoor word in die potgooi van Sophia van Taak se Vers en Klank-program wat op 19 September 2023 op RSG uitgesaai is. Digter, vertaler en radioman Daniel Hugo behartig die voorlesing.
Verse van Jan Swanepoel is in meer as twintig bloemlesings opgeneem, onder meer in Brink / Opperman se Groot Verseboek, Gerrit Komrij se Die Afrikaanse poësie in ‘n duisend en enkele gedigte en in Ronel Foster en Louise Viljoen se Poskaarte. Gedigte van hom verskyn ook in tematiese bundels soos fanie olivier se goudaar, Daniel Hugo en Francois de Jongh se Maskers en Mure en Cas Vos se Die mooiste Afrikaanse Christelike gedigte.
[Nota van die Versindaba redaksie: Ons wil graag nuwe en ou digters aanmoedig om vir ons opgedateerde profiele aan te stuur na taljard.marlies@gmail.com
Van ‘n digter wat al een of meer solo-bundels by ‘n erkende uitgewer gepubliseer het, versoek ons die volgende:
-
-
- ‘n Redelik onlangse foto in JPG-formaat
- ‘n Lys van publikasies (ook die belangrikste nie-poëtiese publikasies)
- ‘n Kort lewenskets wat inligting bevat oor o.a. waar en wanneer jy gebore is en grootgeword het, waar jy studeer het, watter beroep jy beoefen of waarmee jy jou tans besig hou, waar jy op die oomblik woon, ens.
- Enige ander interessante feite oor jou
-
Skryf asseblief die profiel in narratiewe vorm en nie as ‘n reeks feite ondermekaar nie, ten einde dit meer lesersvriendelik te maak.
Indien jy bereid is om ‘n profiel te skryf oor ‘n gestorwe digter, laat weet my asseblief by taljard.marlies@gmail.com]