Resensie: Noord van Malelane deur Hennie Nortjé. Turksvy Publikasies, 2024.
Resensent: Nini Bennett-Moll
Hennie Nortjé is ’n diabetoloog van beroep. Hy verwerf ’n MA-graad in skeppende skryfkuns onder leiding van prof Joan Hambidge, en debuteer in 2012 met In die skadu van soveel bome, ’n bundel waarvoor hy die Ingrid Jonker-prys vir poësie asook die Eugène Marais-prys vir debuutwerk verower. Dié bundel bevat volgens een beoordelaar “talle sterk, afgewerkte gedigte waarin eienskappe van verskeie bome en diere verweef word met menslike emosies, karaktereienskappe en ervarings.”
Taamlik vernuwend aan hierdie debuut was die idee dat die hele bundel tematies aan verskeie boomsoorte verbind is, wat die bundel tot ’n sonderlinge eenheid heg. Alhoewel In die skadu van soveel bome, as eenheidsbundel, vanuit die perspektief van ’n dendroloog vernuwing bring, het Johann Lodewyk Marais egter reeds in 2002 met Aves ’n eenheidsbundel oor voëlsoorte geskryf.
Nortjé se tweede bundel, Kryt (2019) is benoem vir die Elisabeth Eybers-prys. Die digter sit die idee van ’n eenheidsbundel voort, alhoewel die tematiek nou versny in sytakke van die geologie, argeologie, petrologie, natuurgeskiedenis en politiek. Nortjé is bewus van die meerduidigheid van betekenis, en “kryt” dui in dié bundel enersyds op die derde en laaste periode van die mesosoïese era, en andersyds op die gevylde jagwapen, wat ook as moderne gipsstafie (bordkryt) aan die leser voorgehou word. In haar resensie oor Kryt op Versindaba sê Gisela Ullyatt: “Ironies genoeg steun die hedendaagse ekopoësie weer meer op die logosentrisme van die hard sciences; soms ter verwaarlosing van die liriese sy van poësie.” https://versindaba.co.za/2019/09/30/resensie-kryt-hennie-nortje/ Besoek 2 April 2024
Met Nortjé se eerste twee ekodigbundels skryf hy oor die onderskeie uitdagings wat die mens se natuurlike omgewing bied; in sy onlangse bundel, Noord van Malelane, beweeg hy weg van die etiket ekodigter, maar verras met ’n bundel geestige natuurpoësie wat fokus op die fauna en flora van die Krugerwildtuin. Die bundel is besonder prikkelend uitgegee en lynsketse van die digter se seun, Pieter Nortjé, illustreer enkele verse op pittige wyse. Die helderkleurige, naïewe omslagontwerp, wat aan die buiteblad van ’n natuurbewaringsbrosjure herinner, resoneer met die trant van die verse. Nortjé se derde bundel betrek steeds natuurwetenskaplike tematiek, maar nou beweeg die digter ligvoets na ’n aanbod liriese poësie, met verwysing na Ullyatt se bewering hierbo.
Die titel dui op die Berg-en-Dal-ruskamp en is geleë in die verre suide van die Krugerwildtuin naby die Malelane-toegangshek. Hierdie deel van die Krugerwildtuin is besonder ruig en bekend vir sy ongerepte natuurskoon. Malelane/Malalane is afgelei van die Swazi, eMlalani, wat beteken “palmplek”, en lala vir “slaap”.
Die Nasionale Krugerwildtuin is die grootste wildreservaat in Suid-Afrika en ’n trekpleister vir internasionale en plaaslike toeriste. Die park grens in die ooste aan Mosambiek en in die noorde aan Zimbabwe en strek oor die Laeveld van twee Suid-Afrikaanse provinsies, Mpumalanga en Limpopo.
Meer as ’n miljoen toeriste besoek die Krugerwildtuin elke jaar. Die park bevat ongeveer 2 000 plant-, 507 voël-, 147 soogdier-, 114 reptiel-, en 49 visspesies. Teen bogenoemde siklorama speel Nortjé se derde bundel dan uit.
In die bundel se persverklaring verneem die leser:
“Hennie Nortjé is ’n fyn waarnemer van mens en dier. As gereelde besoeker aan die Krugerwildtuin sien hy menslike gedrag by diere en andersom. Hy verwoord wat hy sien op ’n speelse en vernuftige wyse. In die tradisie van A.G. Visser word die leser vermaak en dikwels verras deur verskuilde diepsinnighede. Sy virtuose omgang met die taal en aweregse blik maak van hierdie versameling verse ’n boeiende en onvergeetlike leeservaring.”
Kritici is dit eens dat A.G. Visser se geestige poësie sy sterkste werk is. Die gedigte word gekenmerk deur hiperboliese stelwyses, die omdop van situasies, woordspelings, verrassende rympatrone, en epigrammatiese gedigte. Met Noord van Malelane sluit Nortjé aan by voorgangers soos Visser of Daniel Hugo, waar die vernuftige hantering van die rym (of ander verstegnieke) ’n komiese effek in die hand skep. In die oorgrote meerderheid van die bundelpoësie maak Nortjé gebruik van antropomorfisme as literêre stylgreep, met ander woorde die toeken van menslike eienskappe, gedrag of emosies aan nie-menslike entiteite soos diere, voorwerpe of abstrakte konsepte.
Antropomorfisme het ’n lang geskiedenis en word wyd gebruik in verskeie vorme van kuns, mitologie, religie en literatuur. As kritiese lens verken antropomorfisme verskeie temas en idees, insluitend identiteit, ideologiese kwessies, gemeenskappe en sosiale norme, en die werking van empatie.
Op letterkundige vlak lê antropomorfisme se antieke wortels in die vertel van stories en fabels, wat op sy beurt gekenmerk word deur diere, legendariese wesens, plante, nie-lewende voorwerpe of natuurkragte wat oor menslike eienskappe beskik en waarin ’n spesifieke sedeles of moraal geïllustreer word. In die geval van die bundel onder bespreking, is die aanbod van Nortjé se “sedelesse” eerder ironies, sardonies, of tong-in-die-kies bedoel.
Esopus se Fabels betrek die meeste van die bekendste Westerse fabels waarin die waarheid (of wyshede) gekommunikeer word deur fiktiewe gegewens en vermenslikte diere. Antropomorfiese motiewe het hul weg gebaan deur sprokies, soos byvoorbeeld die Grimm-broers en Perrault se weergawes; volwasse literêre fiksie, byvoorbeeld Animal Farm; jeug- en fantasieliteratuur; strokiesprente; animasiekuns, waarvan Walt Disney die pionier was; televisiereekse, rekenaarspeletjies, die advertensiebedryf, en met die koms van kunsmatige intelligensie, ook die skep van vermenslikte robotte. Die gebruik van antropomorfisme neutraliseer konflik en sosiale verskille binne ’n sosiale opset, en bied só ’n gerieflike skilderdoek waarteen sosiale kritiek gelewer kan word oor politieke, sosiale en religieuse taboes. Die gebruik van diere, in stede van mense skep met ander woorde ’n psigologiese en intellektuele afstand om onregte op kritiese wyse te belig.
In die gedig, “Operasie Herlokasie” (pp. 42-43) gebruik die digter verskillende registers om humor in die hand te werk: die gedig herinner aan die agendapunte op ’n politieke vergadering waartydens daar goedig die spot gedryf word met die euwels van die vorige regime, sowel as met Suid-Afrika se demokrasie.
[…]
- Wittes wei voortdurend kopomlaag (amper volstruis)
en vreet eksklusief soetgras – die bevoorregting van gemaksugtige
vertering is dus skreiend. […]
- Daarenteen blyk die situasie van die swart minderheid werklik
haglik.
Weens konflik en trauma gedateer uit vele vorige regimes,
bly hierdie arme diere steeds verwond en hoogs opruibaar.
[…]
Die demografiese verskille tussen wit en swart is nou omgeruil en die gedurfde titel roep verskeie betekenisassosiasies voor die oog – onder meer die hervestiging van renosters. Hierdie gedig is ’n komiese politieke parodie per excellence en lewer bewys dat sensitiewe onderwerpe deur die gebruik van antropomorfisme vreesloos belig kan word.
In die gedig, “Karkaskenades” (pp. 31-32) maak die digter gebruik van die teenoorgestelde van antropomorfisme, naamlik soömorfisme, ’n stylgreep waarin dierlike eienskappe aan mense toegedig word. Die vers beskryf die gedrag van aasdiere rondom ’n karkas – en die menslike toeskouers wat met hulle kameras metafories kom saamsmul aan die kreng:
En agterlangs in hulle SUV’s
die trop agies met lang lense
ver uit by die venster.
Daardie uiters gefokusde aasdiere,
fanaties op soek na die
volmaakte nabyskoot:
iets waarlik sensasioneel
vir ’n oomblik se aandag
op Instagram of Facebook. (p. 31)
Die bundel is verdeel in ses dele wat onderskeidelik fokus op kameelperde, kleiner dierspesies, grootwild, voëls, die landskap soos byvoorbeeld bome, en primate. Die programgedig, “Die vraag” (p. 11) som die rasionaal agter ’n besoek aan die Krugerwildtuin op wanneer die spreker se kleinkind vra: “Wanneer gaan ons dan / ’n renoster sien, Oupa?” Dat die ewige gewag om diere te sien óók die spilpunt van dié bundel vorm, bied ’n satiriese perspektief op die wildreservaat en sy inwoners, menslik, sowel as dierlik. Die aanbod van die verse wat volg is oorwegend in ligte luim; ander, weer, is meer sober en akkurate waarnemings, wat herinner aan portretstudies van diere. ’n Ekologiese bewussyn is teenwoordig, maar anders as Nortjé se eerste twee bundels word dit aangebied as ’n vorm van komiese moraliteitsteater.
Epigrammatiese gedigte kom voor, byvoorbeeld “Neersien” (p. 15), “’n Tog-te-lekker-slaanding” (p. 19), “Brandwag” (p. 27), of “Trekvoël” (p. 48). Vergelyk die heerlike gedig:
Gewigtige saak
Dat alle seekoeie so dik bly, bewys maar net:
Vegetaries wees maak niemand ooit maer nie.
Selfs heeldag se aërobiese water-oefeninge
blyk tot dusver grootliks onvoldoende. (p. 37)
Die meerduidige gebruik van die digterlike woord skep eweneens ’n satiriese effek, soos die volgende twee verse aantoon:
Sinkplaatpad
My goedkoop huurkar
vibreer, murmureer en irriteer.
Maar wie weet,
dalk raak die wilde gebons
oor gruis, golf op golf,
later tog nog stof
vir ’n versreël of twee. (p. 85)
Asook:
Gratis behuising
Hamerkoppe bou gesofistikeerde neste.
Spoedig neem ’n menigte ander spesies
die reuse-bousels sonder slag of stoot oor.
Onteiening sonder vergoeding
is inderdaad vir die voëls. (p. 49)
Die jukstaponering van verskillende registers sorg voorts vir ’n komiese effek. Let byvoorbeeld op die spel tussen die erudiete stem van die filosoof (Heidegger se Geworfenheit), teenoor ’n liriek van Jim Morisson:
Ná die eerste groot reën
hang die skuimpadda haar nes
aan ’n tak bo een van die tydelike poele.
[…]
Heidegger se geworpenheid so treffend hier
onder ’n huilboom afgespeel,
of soos Jimmy Morrison sing:
Riders on the storm.
Riders on the storm.
Into this house we’re born.
Into this world we’re thrown.
En anders as wat ewolusie wil,
sal net die gelukkiges oorleef. (p. 28)
Die spanning tussen die ongerepte natuur en die intervensie van menslike tegnologie sorg voorts vir humor, byvoorbeeld in “Naggeluide” (p. 72) word die rekonstruksie van die naglewe by wyse van komiese akoestiese beskrywings onderbreek deur die gebruik van ’n lugreëlaar. In “Streeptrekkers” (p. 41) is die spreker gretig om ’n video van ’n trop sebras te maak, maar Moeder Natuur kry die oorhand oor tegnologie: “Tuis gekom, is jou klankbaan / ’n kakofonie van hoefslae en windgeraas. / En jou visarend is ge-mute. “
Voëlgedigte word aan die hand van onomatopee beskryf (pp. 56; 63). In “Braai” (p. 77) word daar op aweregse wyse gespot met die mens in die apeksposisie onder die spesies, met sy skyn van superioriteit en by wyse van ’n eg Suid-Afrikaanse braaivleis: “Hoe lieflik om Moeder Natuur / so uit die hoogte te kan bespied, / hier bo vanaf die voedselpiramied.”
Op p. 79 (“Nie meer soos dit was nie”) word daar die draak gesteek met diegene wat vanuit ’n bevoorregte posisie alewig kla oor gewaande agteruitgang en verval, maar sélf te lui en gemaksugtig is om enige iets aan so ‘n situasie te doen. Die vers toon ooreenkomste met die fabel, wat sosiale kritiek op verdoeselde wyse sinjaleer.
“Ficus sycomorus” (pp. 68-69) speel uit in verskillende registers. In die slotstrofe word op komiese wyse gewaarsku teen Jesus, wat ’n vyeboom vervloek het: “Verwaande vy, wag maar, / eendag kom ry ’n honger man op sy esel / ook onder jou verby / en dan…”
Die spreker in Nortjé se In die skadu van soveel bome is ’n dendroloog: aaneenskakelend hiermee volg “Mislukte gedig” (pp. 82-83), ironies een van die sterkste gedigte in die bundel. Die kremetart as anomalie van ’n boom word op satiriese wyse beskryf en sluit intertekstueel aan by T.T. Cloete se “kremetartboom”, C. Louis Leipoldt se “Die kremetartboom”, en Wilma Stockenström se Die kremetartekspedisie. Die bundel eindig met “Man met sy flits” (p. 92) wat Opperman se “Man met flits” voor die oog roep. Die psigodrama tussen mens en dier swaai finaal na ’n soömorfiese oorwig wanneer die nagapie, wat deur die flitslig verblind is, ’n “weerlose boomkind” word, in teenstelling met die spreker as “die sogenaamde hoër aap”. Dit is ’n boeiende slotvers waar die apie “êrens hoog bo” in ’n huilboerboon sit, in teenstelling met die menslike spreker wat “tot hier onder afgeklim” het. Die rolle het met ander woorde geruil: die mens bevind hom “onder” in die ekologiese ewewig – met al die konnotasies en kritiek wat opgesluit lê in dié bedrieglik eenvoudige vers. Metatekstuele kommentaar op die leser, asook op die “vervaardiging” van ’n gedig (pp. 21; 81), sorg eweneens vir ’n ongewone en satiriese ars poëtikale blik.
Sedert die verskyning van P.J Nienaber en F.V. Lategan se bloemlesing, Afrikaanse natuurpoësie (1968) het latere faktore soos die Antroposeen en ’n groter ekologiese bewustheid deurgesuur na die moderne Afrikaanse poësie. Naas die groter korpus natuurpoësie in haar verskeie vertakkinge en gedaantes, bied Noord van Malelane ’n welkome toevoeging geestige poësie, soos waargeneem in die Krugerwildtuin, wat as belangrike nasionale erfenis ook onder die soeklig kom. Die ontsluiting van antropomorfisme en soömorfisme as katalisator van omgewingskritiek sorg vir ’n genietlike bundel wat in alle lesers se smaak behoort te val. Let as voorbeeld op die soepel metriese gang en sekure woordkeuses wat aan ’n aksiefoto herinner, en die kinestetika van ’n Bontvisvanger verbeeld:
Die gespartel
Dis iewers langs die Timbavati:
’n Bontvisvanger fladderhang,
sy blik ’n oomblik stip afwaarts gerig.
Kort-kort, met vinnige vlerkslae,
versit die gejag verder stroom-af
en dan eensklaps
die loodregte val
en siedaar,
met die uitbreek bo die water,
wriemel ’n silwer vissie
in die blinknat snawel
… en hou soos al wat leef en beef
tot die dood toe aan met spartel. (p. 54)
Uitstekende digbundel en resensie!
Baie goeie resensie van ‘n pragtige bundel. Dankie en komplimente aan beide resensent en digter.
Puik resensie. Gaan sommer môre die bundel koop!
MA onder Joan Hambidge? Nou ja
Uitstekende resensie.Ek bewonder nou beide die resensent en die digter. Ek gaan die bundel beslis dadelik wéér lees!
Goeie resensie van ‘n goeie bundel. Dankie en gelukwensing aan die resensent en die digter.
Welgedaan.
‘n Regtig stimulerende resensie.