Aan ’n nier
Kleine boontjie
jy hang kordaat
aan jou naelstringe van aar en afvoerpyp.
Meer as ’n miljoen piepklein nefrone
filtreer sewe liter bloed per uur,
jou mikroskopiese netwerke kunstig geweef
deur ’n kreatiewe kwashaal van die Skepper.
Kleine wonderwerkie
meer as ’n halwe leeftyd lank
was jy stiptelik, getrou, lojaal.
Maar jy is toksies verklaar,
binnekort mediese afval –
jou polspunte afgebind, geknip,
sonder taak.
Kleine fetus
hulle sê jy is ongeveer 10 cm lank:
jy sou dus knus in my palm kon pas.
Ek sou oor jou robynrooi fluweel wou streel,
met verwondering na jou wou kyk,
tydsaam afskeid wou neem
en jou – saggies – iewers wou neerlê.
© Ilze Ludick, 2024