I
Elke digter het ‘n “bag of tricks”, stylhebbelikhede of -kenmerke wat hom of haar herkenbaar maak. Elke digter wat met Eybers in gesprek tree, druk ‘n bepaalde, eiesinnige stempel af. Dis soos die bekende anekdote van Fritz Wunderlich wat derde gekom het in die kompetisie om te sing soos Fritz Wunderlich …
Om te sing soos; om te dig soos …
Soms vals? Soms van die noot af? Nie in die hande van ‘n groot digter nie. Nie ‘n misdoen in die skoene van die grotes nie.
Van Wyk Louw se gebruik van die beklemtoning veral in Tristia.
II
“Met apologie”, met erkenning aan is ‘n manier waarop erkenning gegee word. Die spreekwoordelike hoed afval. By Opperman speels met sy klein gedig oor daardie enigmatiese weduwee Viljee. Die uwe het dit ook in Indeks aangespreek.
Met apologie
D.J. Opperman
Teks:
Op ’n Sondagmiddag loop die weduwee Viljee
in swart geklee
met twee kolliehonde langs die see.
Elisabeth Eybers
Portret van ’n weduwee
Sy staar na die blou are op haar hand
terwyl sy in die Sondagmiddag wat
neerskyn op die rustelose strand,
geduldig sit of loop en peins: Nou dat
die vreemde bloeisel van herinnering
– skaars liefde, skaars geluk – nog vir haar bly
sal sy uit hierdie aardse wisseling
en haar verlies tog weer die sterkte kry.
So het sy klaarheid in haar gees gevind
en so geweet die middag langs die see
sy sal aan die twee kinders wat haar bind
haar hele lewe wy as weduwee;
en word sy later weer deur een gevra
wat sal sy vir hom antwoord: Nee of Ja?
Opperman het immers in Digters van dertig uitgebreid in 1953 oor die vroeë Eybers geskryf as die sogenaamde “vroulike aanvulling” tot Dertig. Sy het egter deur die jare meer as dit geword. Sy het as digter ‘n besondere plek ingeneem en Eybers, veral na haar vertrek na Nederland, het onomwonde ‘n kragtige digterskap geword.
Opperman parodieer haar speels in die dubbelspraak (“skaars liefde, skaars geluk”) so bekend aan haar skryfstyl. By Eybers dubbelspraak (ironie); by Opperman spotspraak opgeneem in sy bundel Kuns-mis met die veelseggende titel.
Die slot Nee of Ja? Word ook ‘n pittige antwoord op wat Eybers sou antwoord op hierdie parodie …
Sou sy glimlag? Haar gedigte vergestalt immers die gees van iemand wat so ‘n grap sou kon vat.
Die “klaarheid in haar gees” aktiveer veral die gedig oor Emily Dickinson.
Die eerste Afrikaanse gedig oor Emily Dickinson is immers van Elisabeth Eybers, opgeneem in Gedigte 1936-1958.
Emily Dickinson
Haar wete, ons vir ons gepuur uit pyn,
kon sy nie opweeg teen die wysheid wat
verhandelbaar en goedkoop is en glad:
later het sy nie meer op straat verskyn.
Die jare het niks van buite af ingebring;
die smal, intense liefde van ‘n vrou
waarvoor geen afset was het sy behou:
wonder, verlatenheid en duiseling.
Haar eensaamheid was geen verskansing maar
in stygende stoutmoedigheid ‘n swewe
om deur die raamwerk van die heelal te staar;
deur donker skagte het sy afgedaal
tot diepverborge bronne om die lewe
kristalsgewyse, helder, op te haal.
III
Parodie is erkenning. Kyk maar na Kevin Spacy se nabootsing van beroemde akteurs.
https://www.youtube.com/watch?v=8KooaRwGO40 Besoek 14 April 2024
Parodie werk met ironie en dit het altyd ‘n skerpkant, ‘n edge in Linda Hutcheon se definisie.
Joan Hambidge
14 April 2024
Bronne:
Eybers, Elisabeth. 1990. Versamelde gedigte. Kaapstad: Human & Rouseau. Tafelberg.
Hambidge, Joan. 2016 Indeks. Kaapstad: Human & Rousseau.
Hutcheon, Linda. 1995. Irony’s Edge. The Theory and Politics of Irony. Londen: Routledge.
Opperman, D.J. 1953. Digters van Dertig. Kaapstad: Nasionale Boekhandel Bpk.
- Kuns-mis. Kaapstad: Human & Rousseau.
Met groot apologie: ‘n Dubbeldoor
Joan Hambidge
Op ‘n Sondagmiddag loop die weduwee Viljee
in swart geklee
met twee kolliehonde langs die see
D.J. Opperman
Johann de Lange
Op ‘n Sondagmiddag so tevree
met my twee katte hooggeteel,
voel ek newelig en momenteel,
die weerlig van meneer Viljee.
Daniel Hugo
Met my takelwerk
hier takel daar takel
en woerts op jou merkie
‘n lettergreep blerts oor haar skêrtjie
buite grom die honde vir ‘n strandjut
oor die wel-en-wee van ’n versmade kut.
oor die wel-en-wee van ’n strandkut.
Antjie Krog
Twee honde? Een weduwee?
Aggenee?
Gee een vir die armes
een vir Miesies Viljee
laat ons rykdom verdeel:
Een weduwee plus twee honde
is gewoon uit-byt-ing.
Lina Spies
Met my twee brakke,
die Kerk en die Holokaust
slaan ek op my trom
deur die strate van Stellenbom
digby vérgenoeg
verby die Eersterivier
tot by Mentoor se huis om te sien
wie is tuis, Jorik of Kristien?
T.T. Cloete
Die honde en die weduwee
in jukstaposisie
met die see
twee honde een weduwee
die hoek van my oog in presisie
‘n wiskundige boog
Breyten Breytenbach
Op ‘n Sondagmiddag boulevardeer
ek met my twee maskers
: Buiteblaf en Binneblaf
langs die Seine weg van die auberge
daardie bôrdienghuis met geel pampoene
in my ma se Wellington.
Om verby la veuve noire,
‘n swetende ysterkoei,
teen ontkenning
van die moederspeen te skel.
Petra Müller
Sulke brakke verdien
nie die aandag van my oë
en hier moet ek nou
met ‘n skoppertjie en besem
opvee, alom die gedagte van geel
Wilma Stockenström
Op hierdie Sondagmiddag
aan die Kaap geskryf
is die twee honde saam aan die wandel
langs die see wat guds en borrel.
En ek die weduwee, onunieks
en o so lydsaam, wys my tandjies en verkas.
Marlene van Niekerk
O plaas my op ‘n kaar
met twee stoetse, troue
kaniene diere
waar ek op my stontol
speel en die stratus
‘n stralekrans vorm
om my stootblok.
Gilbert Gibson
weduwee; [honde]
ek; [beminuslaaf] u.sal…twee
ek; [beminuslaaf] … see) honde /
ek; [beminuslaaf] toe.u. DJO
ek; [beminuslaaf] .. soos … ‘n .. slaaf
Charl-Pierre Naudé
Apriori
die weduwee
post-partum
die dood van my wewenaar
ja, hy wat beweer
ek kan nie Montesquieu
spel:
ek die dienaar
hy die Heer
en nou net die twee honde
vir wie ek saans so on-filosofies
my twee tent-flappe wys
Johann Lodewyk Marais
My ondernemende koning
regeer my met ‘n sweep
en behou vanuit die Dood
sy onbarmhartige greep
oor my en ons twee honde,
Canus en Angelicus.
Danie Marais
Solank verlange die sweep swaai
oor my wewenaar se verraad
om my te verlaat
stap ek met my twee kollies
Leonard Cohen en Tom Waits
langs die see op patrollie
soms gee ek hul ‘n raps-odie op die boud
as hulle wil wegdraf
en my saamsleep as ek verbrou
amper na die buitenste ruim
daar in die verste ver
maar vanaand blaas ek my kop oop
en luister na die songs
waarop ons eens getongsoen het
my ou vryerige Meneer Viljee, die Boss.
Loftus Marais
Staan in die algemeen
nader aan my
mevrou Viljee,
‘n sex change
by die KFC
kry ek jou by die gewone plek
vir ‘n uitbundige C.