
Die Louwhuis op Sutherland ontvang unieke versameling boeke
Sutherland spog nie net met ’n wêreldberoemde sterrewag nie, maar ook met twee helder sterre aan die hemelruim van die Afrikaanse letterkunde.
Die Louwhuis en Museum op Sutherland, wat sedert die grendeltyd gesluit was, word op die oomblik deeglik gerestoureer en nuut ingerig. Die digtende broers N.P. van Wyk Louw en W.E.G. Louw het hulle eerste lewensjare in dié huis deurgebring. Anders as in die verlede sal dit ’n lewende museum wees wat ook as ’n gebruiksvriendelike sentrum sal dien vir navorsers en nuuskieriges oor die Afrikaanse digkuns. ’n Omvattende biblioteek van alle Afrikaanse digbundels word beoog. Dit sal iets unieks wees in Suid-Afrika, slegs vergelykbaar met die versameling Afrikaanse poësie van die Poëziecentrum in Gent, België.
As eerste bydrae tot die biblioteek gee die Pretoriase digter Hendrik J. Botha en sy vrou Anlerie ’n bykans volledige versameling van boeke deur en oor N.P. van Wyk Louw in bruikleen aan die museum. Hierdie boekery van primêre en sekondêre literatuur bevat 135 items en is deur die digter Daniel Hugo byeengebring. Pronkstukke wat daarin opgeneem is, is onder meer bundels wat deur Van Wyk Louw onderteken is, asook die vertalings van Raka in Engels, Duits en Kwanyama (’n taal van Namibië). Die lewensverhaal van Van Wyk Louw (in twee bande) is deur die skrywer daarvan, J.C. Steyn, onderteken. Verder is daar ook ’n boek uit Van Wyk Louw se eie biblioteek, naamlik T.S. Eliot se Selected Essays wat aan hom geskenk is deur sy vrou Truida met ’n opdrag deur haar voorin.
N.P. van Wyk Louw het die agterplaas van die huis op Sutherland, met die tipiese blou gruisklippies van die Rôeveld en die perdestal, verewig in die gedig “Beeld van ’n jeug: duif en perd”. Hy beskryf ook die duiwe wat om hom doenig is terwyl hy as jong seun lees oor ou beskawings:
Ons agterplaas die flikker van die son
en bo die staldeur pronk my rooi-bont duif;
waar agter in die donker die swart hings
ruk aan sy ring, sy pote stamp en snuif.
Die helderte is oor my boek en in
my oë; die gruis is warm aan my skeen;
my duiwetrop lê wit en bruin en blou
soos lappies warm wasgoed om my heen.
Die agterplaas wat Louw hier beskryf, vorm ’n integrale deel van die museum. So word letterkunde en lewe as ’n onvergeetlike ervaring bymekaargebring. Die Louwhuis en Museum sal binnekort weer liefhebbers van die Afrikaanse digkuns saam met die sterrekykers na Sutherland lok.
Navrae: gerardscholtz@gmail.com
0833888209
Einde
