Kruim
Dan’s daar die verwaarloosste gebied in die literatuur –
die streek bo die naeltjie en die sondige natuur.
Die tyd is lankal ryp vir ‘n prys as bemoedigende gebaar
vir ‘n werk wat die sagste deel bevorder eerder as die kors.
Spronge in die verlede is veral na korter woorde uitgevoer
sonder om enigsins ‘n jota aan wellewendheid in te boet
of die indruk te skep dat ‘n mens met aanstote boer.
So het “tone” voorrang geniet bo “vingers van die voet”.
Waaghalsig word “groot bok met die klok” eenvoudige “ram”;
“bul” vir “groot bees” is deur rugby aanvaarbaar gemaak
terwyl “baljagter” die “swart mier met die groot kop” vervang.
Les bes: Sonder dat die sedes te erg gerysmier kon word,
is vanweë sy verwagte oorlewing van enige kerngewolt,
“kakkerlak” in ere herstel naas die veilige “kokkerot”.
© Pirow Bekker, 2024