Die klompvoetduif
(uit Mediterreense streke)
Ons eet alweer ontbyt by Caffe Cordina hier in die hart van skone Valletta.
So deur die hemelse gesmul aan Maltese pastizzi’s en qussatas
merk ek op dat ‘n geveerde bedelaar by ons tafel se voet verklomp is.
Miskien ‘n aangebore defek, of dalk ‘n noue ontkoming met ‘n kat?
Maar toe kom ‘n meer poëtiese gedagte by my op:
Was ou Lord Byron, een van daardie vele beroemde besoekers
destyds hier aan die eiland van heuning, werklik so klompvoetig gebore,
of is sy regtervoet mettertyd so verwring deur al die wulpse duifies
wat lewenslank sy voete skoon onder hom uit bly slaan het?
Soveel so dat hy later permanent mank moes gaan aan sy katoolse gebrek,
en homself ten einde laaste ook uit hierdie “nederigste van alle stede”
uit die voete moes maak. Met die wrokkige gade van een van sy ex-lovers
kort op sy hakke, swetsend en swetend die steil trappe op en af
terug na sy skip gehink om oor sy plaaslike eskapades
slegs hierdie skoon-uitasem-gedig vir ons agter te laat:
Adieu, ye joys of La Valette!
Adieu, sirocco, sun, and sweat!
Adieu, thou palace rarely enter’d!
Adieu, ye mansions where I’ve ventured!
Adieu, ye cursed streets of stairs!
(How surely he who mounts you swears!)…
Op soek na vars krummels het die gestremde duif
intussen elders onder ‘n tafel, koer-koer verder gaan wei.
© Hennie Nortjé, 2024
Byron het sy gevoetery van sy voorgeslagte geërf! Die duif se krankheid was ‘n goeie leidraad tot die bondige verwysing na die Lord se lewensuitkyk! Goeie vers!