I
Die Amerikaanse digter Wallace Stevens (1879 – 1955) gebruik die term anti-poësie om die hele kwessie van vreemde woorde in gedigte te verduidelik. Véral Robert Frost en Randall Jarrell het hom gekritiseer oor sy sogenaamde “moeilike” begrippe in gedigte.
Lesers vaar ook dikwels uit teen resensente oor die gebruik van ingewikkelde woorde en vra dat daar in gewone Afrikaans geskryf moet word. Tog staan hierdie woorde opgeteken in woordeboeke.
Van Wyk Louw en Peter Blum het “onbekende” woorde gebruik in gedigte.
Dalk impliseer dit die siening dat ‘n gedig toeganklik moet wees. Oop en bloot. Sogenaamde aureate language in die 15e eeu was bekend. Gedigte wat Latynse woorde gebruik het.
II
Wallace Stevens is gebore in Reading, Pennsylvania op 2 Oktober 1879. Student aan Harvard en NYU waar hy in die Regte studeer het. In Hartford, Connecticut werk hy by die Hartford Accident and Indemnity Co. en word vise-president van die maatskappy in 1934. Hy debuteer met Harmonium in 1923.
Sy tydgenote was die digters William Carlos Williams, Marianne Moore en e.e. cummings. Hy is eweneens bekend vir sy lang reise na Kuba. Hy het homself tipeer as ‘n Sondag-digter. Uiteraard ‘n groot fabrikasie of doodgewoon ‘n leuen, wanneer ‘n mens na sy komplekse verse kyk.
Hy sterf in Hartford, Connecticut op 2 Augustus 1955.
Stevens het ‘n geweldige invloed op my as digter gehad. Die digter D.J. Opperman het my aan sy werk voorgestel.
Sy gedigte werk met die mag van die verbeelding en die spel tussen die konkrete en abstrakte.
“Anecdote of the jar” aktiveer vir hierdie leser Cleanth Brooks se The Well Wrougt Urn.
Die gedig as artefak wat die digter neersit op ‘n heuwel in Tennessee. Die transformasie van die kruik in die gedig is opvallend. Hoe dit meer word as die oorspronklike kruik.
Artefak (kruik) teenoor natuur.
Dieselfde geld ‘n gedig wat groei met die verskillende interpretasies wat lesers daaraan mag toedig. Die gedig is in 1954 gepubliseer en nou in 2024 lees ons dit steeds.
Dalk kan ons dit ook ekologies interpreteer nou? Hoe die mens die natuur binnedring en objekte agterlaat?
Anecdote of the Jar
I placed a jar in Tennessee,
And round it was, upon a hill.
It made the slovenly wilderness
Surround that hill.
The wilderness rose up to it,
And sprawled around, no longer wild.
The jar was round upon the ground
And tall and of a port in air.
It took dominion everywhere.
The jar was gray and bare.
It did not give of bird or bush,
Like nothing else in Tennessee.
Source: Collected Poems (Alfred A. Knopf, 1954)
In Imre Saluszinsky se studie word Stevens se Not Ideas about the Thing but the Thing Itself behandel vanuit verskillende invalshoeke:
So klink die gedig:
At the earliest ending of winter,
In March, a scrawny cry from outside
Seemed like a sound in his mind.
He knew that he heard it,
A bird’s cry, at daylight or before,
In the early March wind.
The sun was rising at six
No longer a battered panache above snow…
It would have been outside.
It was not from the vast ventriloquism
Of sleep’s faded papier-mâché…
The sun was coming from the outside.
That scrawny cry – it was
A chorister whose c preceded the choir
It was part of the colossal sun,
Surrounded by it’s choral rings,
Still far away it was like
A new knowledge of reality.
https://poets.org/poem/not-ideas-about-thing-thing-itself Besoek 15 Junie 2024
‘n Paar opmerkings en kanttekeninge uit Saluszinsky se studie Criticism in Society uit 1987:
Frank Lentricchia lees hierdie vers as anti-teties en teen ‘n imperialistiese politieke projek (200). Barbara Johnson, ook ‘n gerekende vertaler van Derrida, verwys na die “discourse of hesitation” (173).
Edward Said sien Wallace Stevens as ‘n “failed metaphysical poet” (143). Frank Kermode en J. Hillis Miller klassifiseer hom onder “poets of reality” (113). Harold Bloom wys op die Gnostiese element in sy digkuns (46).
Geoffrey Hartman op sy beurt, lees die c as uit die abc (die alfabet) in sy interpretasie van die gedig (93).
Derrida vra weer vrae oor die literêre elemente in kritiek; en die kritiese elemente in die digkuns (12). Inderdaad “a new knowledge of reality” wat dekonstruksiekritiek ingebring het.
Klein grepe en aanhalings om te wys dat verskillende teoretici elke keer ‘n ander invalshoek het op hierdie komplekse gedig.
Vir my is dit ‘n ars poëtiese gedig: die digter wat wakker word uit ‘n droom en begin dan die gedig skryf. Die geluide van die wêreld óm hom, word opgevang in die vers:
That scrawny cry – it was
A chorister whose c preceded the choir
It was part of the colossal sun,
Surrounded by it’s choral rings,
Still far away it was like
A new knowledge of reality.
Dalk ‘n Sondagoggend? Die voorsanger (chorister) en die son in die gedig word ‘n nuwe werklikheid wat die gedig skep.
Die son is nie meer ‘n “battered panache” nie. ‘n Panache is oorspronklik ‘n verepluim. ‘n Besonder goeie en konkrete beeld.
noun: panache
historical
a tuft or plume of feathers, especially as a headdress or on a helmet.
https://www.merriam-webster.com/dictionary/panache Besoek 16 Junie 2024
‘n Gedig oor inspirasie en die grense hiervan. Wat ook ‘n religieuse dimensie aktiveer: die gesang in die kerk én die ervaring van die natuur met sy eie panteïstiese wetmatighede.
Anti-poësie dan die digkuns wat die intellek uitdaag. Stevens is die meester van amblisia.
Volgende keer: “An Ordinary Evening in New Haven”.
Bronne:
Brooks, Cleanth. 1947. The Well Wrougt Urn. New York: Harvest Books.
Salusinszky, Imre. 1987. Criticism in Society : Interviews with Jacques Derrida, Northrop Frye, Harold Bloom, Geoffrey Hartman, Frank Kermode, Edward Said, Barbara Johnson, Frank Lentricchia and J. Hillis Miller. London: Methuen.
The well-wrought urn
Vir Breyten Breytenbach
Hoe gepas, meneer Cleanth Brooks
die gedig as ‘n goed gevormde, netjiese kruik.
‘n houer vir die as van uitgebrande liefde,
verlore drome en veral ónwillige lesers.
Met ‘n glasie Usquebaugh in die hand
dink ek na oor die gedig se lewensloop:
uit stof ontstaan en vol stof sal jy ondergaan!
Hef aan lê voor, want die gedig
mag kruikvormig, dus urkeolaties
met ‘n eerste oogopslag lyk;
of soos die uvea van kleur verander,
dog word met elke lesing ge-usukap,
bepaald gepraatjie-vir-die-vaak…
Boonop word vertelle ‘n vers se uvula
word deur stiksienige kritici uitgekap.
Hoe gepas, meneer Cleanth Brooks
die gedig as ‘n goed gevormde, nuttelose kruik.
Hambidge, Joan. 2012. Lot se vrou. Kaapstad: Human & Rousseau.
Amblisia: dubbel-betekenis weens ‘n grammatikale spel. (Gewoonlik wanneer nuus oorgdra word wat pynlik is ten einde dit te versag.)
Joan Hambidge
17 Junie 2024