Skakeltuin
So het ons dan gekom by die laaste afstaan
waar dit goed is om te begin
met wat ek as kado ontvang:het:
die klippe voor my voete uitgespoel,
deur die golwe van die see gerol,
deur sterker klip boetseer, laat gaan –
en optelgoed is hoeka jakkalsgoed.
Hulle kon my geselskap hou,
veral nou dat ek ook oud geword het,
herhaalde valle moes oorleef.
My selfstand metterwoon weggekalf
het ‘n vierwielhouvas vir alle ingrepe
by my doen en late ingeswalk.
‘n Aftree-oord sou soos die milde see
my ook skoon laat afskeid neem.
Hierdie gedig is dus my laaste
as nie-inwonende van ‘n outuis
(ironies so deur Ma verkap).
Voortaan is ons blyplek
‘n woonstel neffens die siekeboeg
met uitbreiding ‘n toegeboude stoep
en om die draai ‘n boomgepiekte tuin
vanwaar immers die woonkompleks se naam:
St Peter’s Gardens, van H Petrus self gedek.
Met die gesinshuis oplaas van die gesin verlos,
die meubels stuk-stuk uitgedra,
geen stoel gelaat om op te sit nie,
dwaal ons twee, die oudstes,
nog een keer deur die verlate plek
– die kinders het lankal reeds gedros –
sien ek iets soos ‘n naald in ‘n hooimied blink:
dis haakspeld wat so fries opgee.
Die ou woning is nie leeg nie,
hy’s siel en liggaam aanmekaar gehou
soos met die haakspeld
steke vir die brei
van my skaakbordblokkies trui,
help my oorleef
totdat ek, reeds skaak gesit,
mat sal word aan hierdie lyf.
© Pirow Bekker, 2024