Uit die herberg van Alhambra
Khalil Gibran, Frederico García Lorca & Yehuda Amichai vertaal deur Bester Meyer

In Bester Meyer se nuutste antologie van vertalings betrek hy drie van die wêreld se vernaamste digters, te wete die klassieke Khalil Gibran (Libië), die liriese dog revolusionêre Frederico García Lorca (Spanje: Andalusië) en die enigmatiese Hebreeuse digter Yehuda Amichai (Israel). Elkeen eiesoortig, volledig geanker binne hul onderskeie tydsgewrig, dog met ’n universele boodskap wat die mens se emosionele landskap karteer.
Hierdie is waarskynlik die mees asembenemende, lywigste aanbod van vertaalde gedigte wat ooit tot publikasie gekom het in die geskiedenis van die Afrikaanse letterkunde … Bester Meyer lewer hiermee ’n bloudruk tot die ervaring van ’n vername deel van die poëtiese tradisie in die Westerse kanon – Carl-Pierre Naudé
Bester Meyer bring met hierdie [publikasie] vernuwing met sy vertaalpraktyk. As ’n eksponent van Walter Benjamin se vertaalpraktyk, volg hy ’n intuïtiewe en metafisiese vertaalstrategie, vry van die knellende keurslyf van vooropgestelde idees. Hierdie skeppende vertaalproses het ten doel om ’n suiwer vertaling in Afrikaans te lewer, getrou aan die brontaal – Nini Bennett-Moll
“Dit is asof Afrikaans vir die digkuns ontwerp is” – Gerrit Komrij
Met die lees van Meyer se omdigtings [in die publikasie] het dié gedurfde uitspraak telkens voor my opgedoem, want nog selde het Afrikaans só gesing soos in hierdie vertalings. Myns insiens is dit ’n onweerlegbare feit dat Uit die herberg van Alhambra ’n uiters belangrike toevoeging is tot ons letterkunde – Louis Esterhuizen
Oor die outeur
Bester Meyer is in Alberton gebore. Hy studeer regte en verwerf B.Com (LLB) aan die destydse Randse Afrikaanse Universiteit. Hy word toegelaat as prokureur en werk by ’n Kaapstadse regsfirma wat destyds as Nelson Mandela se regsverteenwoordiger opgetree het. Hy is tans steeds in die regsberoep.
Meyer debuteer in 2020 met Die Testament (Naledi). In 2021 word Bester se letterkundige vertalings van die Palestynse digter, Magmoed Darwiesj, Die vlug van vreemdeling, deur Naledi uitgegee. Die bundel, Die Testament, se Engelse eweknie, Rebel Song en ’n Engelse vertaling van André P Brink se Lobola vir die Lewe, word in 2022 deur Naledi gepubliseer.
Einde 2023 stel Die Naamlose Dors, Meyer se “band”, ’n kortspeler genaamd Rebel Heart vry. In Rebel Heart word daar verder geskaaf aan temas soos vervat in Die Testament en Rebel Song.
Meyer werk tans aan sy eerste roman.
[Naledi 2024. Formaat: SAGTEBAND. 210 mm x 148 mm. 266 BLADSYE. Prys: R320.00. ISBN: 978-1-991256-90-4]
