Die ses woorde van die Sigeuner
Kostis Palamas, vertaal deur Louise Cilliers

Hierdie bundel is die eerste Afrikaanse vertaling uit Grieks van ses gedigte van ’n liriese epos van ’n moderne Griekse digter, Kostis Palamas (1859-1943). In hierdie ses gedigte word liriese, epiese, dramatiese en visionêre elemente saam geweef in ’n beskrywing van die wedervaringe van Sigeuners tydens hul reis na en verblyf buite die mure van Konstantinopel voor sy val in 1453, soos vertel deur ’n woordvoerder van die Sigeuners. Die pragtige beeldspraak in die gedigte kom seepglad oor in Afrikaans.
Min was tot dusver bekend oor Sigeuners, hierdie eens versmaaide, verstote ras, maar dit blyk dat in die afgelope 50 jaar talle van hulle ontluik het as gerekende digters, akteurs, regisseurs, regsgeleerdes en politici. Vir die eerste keer kry Afrikaanse poësieliefhebbers nou ’n kykie van hierdie gemarginaliseerde Sigeunerpoësie. Voorbeelde van enkele gedigte van twee bekende Sigeuner-digteresse (in Engels, eie vertaling in Afrikaans) word ingesluit.
Oor die vertaler
Louise Cilliers was vir baie jare professor en hoof van die Departement Latyn en later van Klassieke Tale aan die Universiteit van die Vrystaat; tans is sy ’n navorsingsgenoot aan hierdie universiteit. Sy het ’n wye belangstelling en is die outeur van etlike boeke en artikels. Die vertaling van klassieke Griekse tekste is egter haar gunsteling veld, ’n veld waarin sy destyds die S.A .Akademie se Prys vir Vertaalde Werk saam met E.L. de Kock ontvang het vir hul vertaling van Aristoteles se Poëtika. Haar vertaling van ses gedigte van ’n epos van die moderne Griekse digter, Kostis Palamas (1859-1943), het haar belangstelling in Sigeuners geprikkel en deur die internet het sy kontak gemaak met hedendaagse hoogs ontwikkelde Sigeuners, van wie enkele gedigte in die Addendum verskyn.
[Naledi 2024. Formaat: SAGTEBAND. 213 mm x 137 mm. 124 BLADSYE. Prys: R260.00. ISBN: 978-1-991256-88-1]