Sirenes
Ek navigeer uit my stuurkajuit
agter my lessenaar op skerm
met instrumente, atlas en roer
vaar tussen vergange mites
wat soos opdrifsels in taal dryf
In die nanag kom Hypnos
geluidloos soos ’n uil in vlug
om my stuurloos te wil toor
Vêraf sing sirenes hulle songs
bloeiende heavy metal
gillend soos ’n castrato
hoe vêr hoe naby
kom hulle gaan hulle
Sirene-lied
weerkaats tussen geboue
deur tonnels onder brûe
saag deur my vensterglas
soos ’n outopsie
wat my angs hier binne soek
Sirenes lok nie meer na rotse
deesdae loei hulle na die wrakke
bring bloulig na sterwendes
wat hulle laaste vraag hoor:
Gaan jy my album koop.
© Anton Döckel, 2024
