kortsluiting
die klassieke pyn van verlies moet mens verwerk en
afsluiting kry, so reken hulle, die sielkundiges
die lyflike chemie is oorheersend die stoflike bestaan
‘n skyn van waarheid: die fisika, elekronika, kwantum meganika
‘n kortsluiting ontstaan maklik in die brein, die swak-bedrade digitale klein kern,
gravitas van ons waarneming en sintuiglike oortuiging, ‘n skielike
onbeheersde entropie, ‘n dag ontplof in ‘n reën ontelbare helder kleure
stemme, sterre, pouvere
tog, die sober gedagte: chaos, die onstabiele, volatiele, wegbreek, die onverbonde
temper ons ordelike bestaan moet jou nie vergryp aan die bose gees van spiritus nie,
nie escape nie aldus die sielonkundiges: die verlede en hede in die oë kyk,
die laggende en nikssiende,
maar die sielsongelukkige weet daar is waarde in wyn,
en ‘n nostalgiese reis laatdag op ‘n stadige ou trein, heimwee,
die melankoliese al is dit net in die geheue
voor die hees fluit en die lang sluiting
© Nicolaas Geldenhuys, 2024