Boekbespreking: Taboek deur Riku Lätti. Naledi, 2024
Bespreking deur Marlies Taljard
Riku Lätti se Taboek word deesdae sterk op sosiale media bemark. Die titel is afgelei van die woord taboe wat slaan op die skrywer se ernstige bevraagtekening van die feite wat in die Nuwe Testament vervat is. Hierdie feite is reeds eeue en selfs millenniums lank in die openbare domein, hoewel daar steeds Christene is wat daardeur geaffronteer voel. Ek sou dit in die huidige Suid-Afrika nie juis as ’n taboe-onderwerp beskou nie, aangesien alles deesdae “gaan” en “mag”.
Taboek is ’n lang, aaneengerygde meditasie op Christenskap en geloof, byvoorbeeld:
paulus
het jesus eerste verwoord
maar hom nooit ontmoet nie
nooit eers met hom gepraat
om te hoor wat werklik die deal is nie
tog was hy die een
wat jesus se belofte
aan die mens
verkondig
(…)
paulus was ’n kreatiewe man
het daagliks nog jesus uitgedink
(p. 22)
Oor die mens se verhouding met die natuur skryf hy:
(…)
later die aand
glas wyn in die hand
werp ek ‘n stukkie volmaakte skepping
op my volmaakte vuur
ek merk die vernietigende vlamme
wat lek aan die hout
van die boom wat was
met brokkies son wat daaruit ontsnap
om my warm te hou
warm genoeg
om van koue
en kwellings
te vergeet
vir die kans om te wonder
of god nie ook soms
wanneer sy in haar skik
op die mensdom neerkyk
miskien met ’n glas goddelike wyn
in die goddelike ekwivalent van ’n hand
oorlog aanskou
en soos ek
opmerk
is dit nou
nie vir jou
’n gesellige ou
kampvuurtjie nie!
en ek wonder
aan wie sou god
dit gesê het
(p. 108)
Opsommend sou mens kon sê dat hierdie boek, in die woorde van Koos Kombuis op die agterplat, “’n deurgronding van alle fasette van die moderne mens se soeke na betekenis en (…) ons opvattings oor die teologie” is. Die woord “alle” is dalk effe hiperbolies! Dana Snyman bestempel dit (ook op die agterplat) as “meditasies oor die heiligheid van onsekerheid” en beweer dat hy telkens na dié boek sal terugkom. Ironie, soms pynlik snydend, is ʼn kenmerk van die teks en verhoed dat dit dominee-agtig of akademies-teologies raak. Trouens, dit is bedoel om gewone mense wat steeds religie aanvaar soos hulle Kersvader aanvaar, wakker te skud en hulle aan die dink te sit oor wát en waaraan (waarin) hulle nou eintlik glo.
Vir my was dit stimulerende leesstof, maar nie as poësie nie. Mens sou die stylaard waarskynlik eerder beskyf as rap of baie losse praatpoësie, aangesien dit ’n duidelike metriese inslag het met hier en daar ’n rymwoord ingegooi. Ek het onlangs kritiek uitgespreek teen die woordrykheid en soetsappige oordaad in ’n ander bundel wat by Naledi verskyn het en waarin ook religieuse besinnings voorkom. Ofskoon daar in Taboek eweneens steurende herhalings en heelwat onnodige woorde voorkom, asook heelwat herhaling van tematiese materiaal, het dit my hier nie as oneerlikheid of uiterlike vertoon of stopwerk getref nie, maar eerder as ʼn inboor na kwellende vrae en die waarheid. Dit is beslis nie ʼn Pienkboek nie. Dit lees nie soos ’n preek nie. Dit is nie dweperig of soetlik nie. Lätti se styl is eenvoudig, onopgesmuk en kom deur as deurgrondelik eerlik. Dit is wat die leser aangryp – benewens natuurlik dat lesers hulle tans met die problematiek soos hierdie, wat skrywers soos Charl-Pierre Naudé in filosofiese vakterminologie verwoord, kan identifiseer.
Wat uitleg betref, is die bladbeeld hinderlik. Ek verstaan nie waarom sekere dele links-, regs- of middel belyn is nie. Dit dien geen doel nie en bemoeilik slegs die leesproses. Die feit dat die boek inhoudelik duidelik in sekere seksies verdeel is, moes myns insiens duideliker uit die verf gekom het, byvoorbeeld deur afbakening in afdelings. As aaneenlopende teks met meer as een gedig per bladsy maak die boek ʼn onafgewerkte indruk.
Op Koos Kombuis se tipering van die teks as “monumentale en omvattende deurgronding” het ek ernstige kritiek, asook op die bemarking van die bundel as poësie. Ek bespreek doelbewus nie hierdie boek as poëtiese teks nie.
Diegene wat die boek as poësiebundel wil aankoop, moet dit liewer laat verbygaan, maar lesers wat kan identifiseer met die argetipiese vraag: “Wie/wat is god/God?” sal baat vind daarby en behoort dit te koop. Hoewel die vrae en konsepte waarmee die skrywer worstel en wat hy aan bod stel reeds sedert die mens kan dink gevra word, is dit ook in moderne tye tersaaklik en stimulerend en beslis ʼn herlees waardig, ongeag die genre waarin dit geskryf is.