I
J. Hillis Miller (1928–2021) was ‘n gesiene Amerikaanse teoretikus en sterf aan Covid in 2021. Hy begin as teoretikus in die Geneefse skool, maar verwerf veral bekendheid aan Yale as lid van die sogenaamde hermeneutiese mafia. In ‘n tyd toe dekonstruksie verkeerd begryp is, het hy gehelp om ingewikkelde konsepte te verduidelik. Hy skryf lang besinnings oor sowel die roman- as digkuns en wys altyd – soos Paul de Man – op ‘n skrywer se retoriese strategieë. Sy beginstudies was oor Gourges Poulet voordat Derrida en De Man sy baan verander het.
As student opgelei in die wetenskappe wat waarskynlik sy manier van lees bepaal het. As jong mens polio gehad wat een arm verlam het. (Johns Hopkins, Yale en later University of California at Irvine.)
Hy het ook ‘n boek geskryf oor die etiek van lees.
As voorsitter van die Modern Language Association of America in 1986 geweldig baie gedoen vir die verbintenis tussen linguistiek en literatuurkritiek. Sy studie Ariadne’s Thread: Story Lines (1992) bly ‘n baken in vertelteorie. In die ewige labirint van lees met die leser as Theseus. Veral sy analise van Borges se “Death and the Compass” is uitstaande in die ondersoek na retoriese strategieë: vertraging en amplifikasie van tonele.
Hy het uitgebreid oor Charles Dickens en Thomas Hardy geskryf.
II
Wallace Stevens
Not Ideas About the Thing But the Thing Itself
At the earliest ending of winter,
In March, a scrawny cry from outside
Seemed like a sound in his mind.
He knew that he heard it,
A bird’s cry, at daylight or before,
In the early March wind.
The sun was rising at six,
No longer a battered panache above snow …
It would have been outside.
It was not from the vast ventriloquism
Of sleep’s faded papier-mâché …
The sun was coming from outside.
That scrawny cry — It was
A chorister whose c preceded the choir.
It was part of the colossal sun,
Surrounded by its choral rings,
Still far away. It was like
A new knowledge of reality.
III
In sy onderhoud met Salusinszky is die volgende tersaaklik oor Wallace Stevens se gedig:
J. Hillis Miller gebruik die metafoor van ‘n “bet” (weddenskap) wanneer hy interpreteer en hy verwys ook na die sogenaamde profound harmony in die teks.
Die spore en onsekerhede wat ‘n teks meebring, is waarop hy fokus.
Die vreugdes van lees is helaas nooit ‘n alleenspraak nie; dit word gedeel met ander lesers. Hierom reageer hy in hierdie onderhoud op Bloom, Frye en Said. Hy gebruik die woord “joy”.
Die belangrikste aspek van hierdie gesprek tussen hom en Salusinszky is die volgende stelling:
“The reader is a kind of locus where language takes place” teenoor Bloom wat fokus op die self (1987: 216).
Die leesaksie is nie vir Hillis Miller ‘n bevestigende studie nie; dit is eerder een van demistifisering. Dit is apotropaic, vervolg hy. En die slim onderhoudvoerder wys daarop dat Hillis Miller saam met Wallace Stevens beweeg van ‘n vestiging in die werklikheid tot die vertigo van taal (1987: 233).
Hy fokus op die sinestetiese of klankmatige aspek van Not Ideas About the Thing But the Thing Itself .
Dit is ook ‘n gedig van liminaliteite of oorgange: ‘n nuwe kennis van die werklikheid net voordat die son opkom …
En die panache is ‘n “tuft of feathers, as on a helmet”. Net op ‘n tweede vlak beteken dit flambojante of flagrante optrede. “The seeing of the sun as a person is another version of that displacement from sight to sound, in the sense that it’s both a revelation – something we can understand – and another covering-over, in the sense that prosopopoeia is an inadequate figure” (1987:236). En hierdie term beteken ‘n personifikasie van ‘n abstrakte objek of ding. Hillis Miller meen ook in hierdie gesprek dat Wallace Stevens dalk ‘n woordeboek gelees het by die skryf van die gedig …
Hy volstaan hiermee en hy sal moontlik nog oor die gedig skryf, maar met sy los opmerkings het hy hierdie leser anders en nuut na hierdie gedig laat kyk.
IV
Dalk ‘n ars poëtiese vers by die ervaring van die einde van winter en die oopstel van die buite-bestaan ná die ongelooflike koue weer? Die geluid van ‘n voël (terug ná die koue) met ‘n nuwe ervaring van die sonsopkoms: “no longer a battered panache above snow …”. Die winter – as ‘n soort oorlogsveld – is verby, afgehandel en buite die digter.
Die “vast ventriloquism / of sleep’s faded papier-mâché …” aktiveer dat die gedig nie uit ‘n droom ontstaan het nie, maar eerder ontstaan het in die ervaring van die natuur soos die opkoms van die son. Ek lees die “scrawny cry” as ‘n herinnering aan ‘n koorsang word gelykgestel aan die klank wat die voël maak as ‘n soort voorsanger.
Dalk het die digter die gedig vir homself voorgelees?
En hierom die “choral rings”? Of dalk wanneer die dag breek, sal daar ander geluide wees; nie net die “scrawny cry” nie?
Die nuwe kennis van die werklikheid is dan die digter wat speel met woorde en klanke en beelde. Hy wys vir ons hoe sy assosiasies werk: van wat hy sien en hoor; en die besef dat gedig uiteindelik in sy dinglikheid nie ‘n abstraksie is nie. Iets konkreet wat voor hom staan, geskep uit assosiasies en indrukke en klanke. Dalk geskryf voor hy moes werk toe gaan en dispute afhandel by sy werk en tydelik kon ontvlug in ‘n gedig wat al lankal broei in hom.
Sy werk by die Hartford Accident and Indemnity Co. moes bepaald eise gestel het.
En my analise eweneens geskryf voor die sonsopkoms.
Bronne:
Miller, J. Hillis. 1995. Ariadne’s Thread. New Haven: Yale University Press.
– The Linguistic Moment: From Wordsworth to Stevens. Princeton: Princeton University Press.
Salusinszky, Imre. 1987. Criticism in Society : Interviews with Jacques Derrida, Northrop Frye, Harold Bloom, Geoffrey Hartman, Frank Kermode, Edward Said, Barbara Johnson, Frank Lentricchia and J. Hillis Miller. London: Methuen.
Baie interessant.
Ek beoog nou ‘n rubriek oor Geoffrey H. Hartman, ‘n kollega van Hillis Miller. Sy Criticism in the Wilderness bly eweneens ‘n baken. Ek sal ook Shoshana Felman betrek.
Hartman lees gedigte en verwys eweneens na films.
Puik leser van Blake.
Baie dankie, Joan, uiters insiggewend.
Ek het Miller se essay “Wallace Stevens’ poetry of being” in “Tropes, parables, performatives” ook baie waardeer.