I
‘n Beduidende leser en teoretikus in die literatuurkritiek is Geoffrey H. Hartman (1929 – 2016). Dit word veral bevestig in Wordsworth’s Poetry (1964) waarin hy die oneindige dialektiek tussen die natuur en verbeelding uitwys. Hy was ook deel van die Yale-skool wat geskryf het oor die hermeneutiek van onbepaaldheid.
Al sy boeke staan in my studeerkamer en hy is minder teoreties uitdagend as sy tydgenote, maar uitsonderlik geleerd in sy lesings oor die Engelse digkuns en tendense binne die literatuurkritiek. Sy seminare wat ek bygewoon het aan Yale, was inspirerend. Véral oor Emily Dickinson. In daardie ysingwekkende winter in New Haven: Desember 1984 begin 1985. (Dit was hy wat daarop gewys het dat die aandagstrepe in haar digkuns die ritme van haar asemhaling en hart voorstel.)
Anders as die meeste stugge Ooskus intellektuele het ek hom as hartlik ervaar. ‘n Heerlike geselsgenoot. Ons het veral oor films en tendense in die kritiek gepraat. Joods. Gebore in Duitsland en moes op 9 jarige ouderdom vlug weens die Joodse vervolging. Toe na Engeland waar hy skoolgegaan het en daarna saam met sy moeder na die VSA. ‘n BA behaal aan Queens College en toe na Yale (1949) en met ‘n Fulbright na Frankryk. Met ‘n PhD behaal in Komparatisme. (The Unmediated Vision was dan sy doktorale studie). Hy het die proewe van sy boek glo in die weermag gelees.
Sy werk is dan ook ‘n omkering van die meester-slaaf-verhouding tussen kritiek en kreatiwiteit. By sy afsterwe is dit weer beklemtoon, o.a. deur Margalit Fox in die New York Times.
Literatuurkritiek as ‘n unieke kunsvorm. Hy vertel ook van sy vriendskap met Harold Bloom, sy kollega, ofskoon hulle verskillende standpunte oor lees huldig. Hy sien ook The Anxiety of Influence (1973) as ‘n bakenteks en oor die ontstaan daarvan uit gesprekke tussen hulle.
II
In sy onderhoud met Saluszinsky probeer hy die “entire weather-map of intellectual affairs” bepaal (1987: 84). Hy het immers studeer onder die gesiene René Wellek en geskryf oor Derrida, Bloom, De Man, e.a. Hy wys tereg daarop dat Jacques Derrida se bydrae die volgende is: “saving texts, (and) that he is renewing our ability to read” (1987: 89).
Wellek (1903 – 1995) was ‘n Tsjeggies gebore Amerikaanse komparatis, bekend vir sy magnum opus: A History of Modern Criticism: 1750-1950.
Die volgende stelling is belangrik: “My interest in poetry and prophecy centers on this disturbance of the voice, the disturbance of the sense of time, the disturbance of identity, and the pressure to do something about it” (1987: 88).
En dit is presies wat Wallace Stevens in sy gedigte doen. Die disturbance van al die nodes in ‘n gedig.
Die cry in Not Ideas About the Thing But the Thing Itself lees hy as die buite-wêreld wat indring. Dit wat jou slaaploos of wakker laat bly.
That scrawny cry–It was
A chorister whose c preceded the choir.
It was part of the colossal sun,
Surrounded by its choral rings,
Still far away. It was like
A new knowledge of reality.
Kom ons kyk weer na die gedig:
Not Ideas About the Thing But the Thing Itself
At the earliest ending of winter,
In March, a scrawny cry from outside
Seemed like a sound in his mind.
He knew that he heard it,
A bird’s cry, at daylight or before,
In the early March wind.
The sun was rising at six,
No longer a battered panache above snow…
It would have been outside.
It was not from the vast ventriloquism
Of sleep’s faded papier-mâché …
The sun was coming from outside.
That scrawny cry–It was
A chorister whose c preceded the choir.
It was part of the colossal sun,
Surrounded by its choral rings,
Still far away. It was like
A new knowledge of reality.
Hartman meen dat ‘n gedig stem, tyd en identiteit versteur.
Die hele gedig werk met ‘n spanning tussen binne en buite. Droom en realiteit. Inderdaad ‘n soort dialektiek.
Die son is buite teenoor die binnespraak van die digter:
… the vast ventriloquism
of sleep’s faded papier-mâché …
Die stemme of inspirasie is soos om te praat asof die stem van iemand anders af kom; sonder om die lippe te beweeg. En papier-mâché kan verwys na poppe wat gemaak word uit harde materiaal.
Immers hoor ons stemme en sien ons mense in drome. Die digter as buikspreker.
Stevens het gemeen: “Poetry is a violence from within that protects us from a violence without. It is the imagination pressing back against the pressure of reality.”
https://ireaddeadpeople.wordpress.com/2015/02/16/wallace-stevens-poets-on-poetry-1/ Besoek 3
Inderdaad “the fate of reading”, soos Hartman dit tipeer. In Criticism in the Wilderness skryf hy:
“Critical thinking respects heterogeneity” (1980: 26).
Joan Hambidge
Kaapstad 4 Augustus 2024
Bronne:
Bloom, Harold. 1973. The Anxiety of Influence. New Haven: Yale University Press.
Derrida, Jacques. 1978. Writing and Difference. Londen: Routledge & Kegan Paul. Vertaal deur Alan Bass.
Fox, Margalit (20 March 2016). “Geoffrey H. Hartman, Scholar Who Saw Literary Criticism as Art, Dies at 86”. New York Times. Besoek 2 Augustus 2024
Hartman, Geoffrey H. 1964. Wordsworth’s Poetry, 1787 – 1814. New Haven: Yale University Press.
– 1975. The Fate of reading and Other Essays. Chicago: Chicago University Press.
– 1980. Criticism in the Wilderness: The Study of Literature Today. New Haven: Yale University Press.
Salusinszky, Imre. 1987. Criticism in Society : Interviews with Jacques Derrida, Northrop Frye, Harold Bloom, Geoffrey Hartman, Frank Kermode, Edward Said, Barbara Johnson, Frank Lentricchia and J. Hillis Miller. London: Methuen.
Wellek, René. 1986. A History of Modern Criticism: 1750-1950. New Haven: Yale University Press.