Knipmes
(Vir Pirow)
Uit my plaasjeug, Seun, kom hierdie mes,
‘n Paul Krugermes, ‘n knipmes, Seun,
vir wanneer die nood aan die man kom,
selfs wanneer jou hande gebind is
(Mag dit nooit so wees!)
Vir ‘n oop wond het mens hande nodig:
Oupa het eenkeer sy jagmaat se lewe gered
deur tabak te kerf, dit tussen sy palms
fyn te vryf en in sy sakdoek toegerol
bloed uit ‘n oopgeskeurde slagaar te laat stol.
Met einste so ‘n knipmes het oom Paul,
toe nog maar ‘n opgeskote seun,
self sy verminkte duim geamputeer.
Kruger het die Engelse oorlog verloor,
maar in ‘n geveg met ‘n luiperd
het so ‘n mes waarop sy gesig in reliëf
verskyn – kyk hier na die hef – die oorhand
aan ‘n oom van jou ma se kant gegee. Die boer
is met ‘n berig in die koerant vereer.
Vat dit, dis vir jou en die seun ná jou,
al is dit net vir grond of kryt
onder die naels uitkrap, al is dit net vir hou
en soms uithaal en daarna kyk,
daar jy afgesny van dié geskiedenis
‘n nuwe vaderland kon vind,
daar waar jou kinders hand op die hart
nie “uit die blou van onse hemel” sing nie,
maar ‘n nuwe lied moet leer.
Neem dit. Pas dit goed op. Jy’s nog jonk.
Op my dag kon ek hom oopmaak sonder hande:
Neem die lemrug tussen jou tande.
Pas net op vir jou mond. Hy’t tot vandag toe
nog spring in hom gehad.
Jy sou die mes saam met jou wou vat, ek weet,
maar met al die sentimente afgeslyp
op skaapskeerder Anderland se steen,
sou doeane hom by jou vertrek
land uit
sonder meer verbeurd verklaar.
© Pirow Bekker, 2024

Aangrypend, hoe die digter hier die tragiek van emigrasie vasvang.